Ek dink ons sal okei wees

Ek sit ʼn rukkie terug in die Spur oorkant ʼn seuntjie. Ben het weggeglip en my alleen gelos met ʼn bordjie chips en ʼn melkskommel. Dié het my eintlik net soontoe gesleep sodat hy by die speelarea kan uitkom. Die seuntjie het seker gesien ek voel half verleë om so alleen te sit in die raserige eetplek. Sonder om te huiwer vra hy my toe: “Eet tannie ʼn ou snackie?” Ek antwoord toe dadelik en vinnig begin ons oor alles en nog wat te gesels.

Met dieselfde gemak het die outjie ook later ʼn dogtertjie by die tafel langs my aangespreek omdat sy te rof op die springmatte spring en eerder moet versigtig wees anders gaan sy haar kop kap. Sy het nie ʼn wenkbrou gelig of gedink die vreemde knaap praat uit sy beurt nie, sy het dit eintlik baie waardeer dat hy haar waarsku teen ʼn moontlik besering. Sy het dit ter harte geneem en rustig verder geknaag aan haar burger.

Soos ek maar sit en die mense dophou sonder om soos ʼn stalker te lyk, kan ek uit die hoek van my oog sien ek word dopgehou deur my vriendjie aan die oorkant. Net om my op my gemak te maak, was daar gedurig nog ʼn paar vragies soos: “Dit suck darem om so alleen te sit nè” en “Ek wonder wanneer kom tannie se kind nou” en “Hulle milkshakes is die beste, maar nou is ek naar.”

Ek dink nie die maatjie het besef hoe baie ek hom geniet het en sy geselskap waardeer het nie. Ek dink toe by myself hoe wonderlik dit vir ʼn bejaarde persoon, wat regtig eensaam is, om so ʼn geselsie aan te knoop en hoe goed dit moet voel. Ek doen dit hopeloos te min, want ek hol net altyd rond met ʼn simpel lysie en tel saggies tot tien as ek agter ʼn stadige lopertjie beland. Ek kyk te min om my rond en neem te veel negatiewe goed in sodat dit ʼn modderlaag kan vorm op die bodem van my hart. Ek sien te min geleenthede vir kontak en betekenis raak en hier sit ʼn opgeskote kind oorkant my wat die kuns bemeester het.

Om ʼn grootmens te wees het baie nadele soos rekeninge betaal en kla oor die brandstofpryse, maar een van die grotes wat uitstaan soos ʼn reus tussen die ander dorings, is om gewoond te raak aan alles. Te gewoond aan mense om belang te stel, te gewoond aan die omgewing om iets nuuts raak te sien en te gewoond aan die verloop van die lewe om aan die silwer randjie te bly klou.

Met bitter min positiwiteit wat die rondte doen deesdae is dit verfrissend om ʼn jong kind te sien wat alles so inneem om hom en seker maak almal om hom is okei. Meeste grootmense doen dit nie.

Grootmense moet kinders leer van maniere, uitreik na ander, om nie lelik te wees nie, die lys gaan aan. Ek wonder soms wat my twee by my leer as ek nie aldag die positiwiteit self is nie.

Kinders kan ons ook leer, hulle weet van baie dinge eintlik heelwat meer. Dinge wat ons vergeet het. Belangrike dinge.

Ons is bekommerd oor die jonges en wat van almal gaan word en of hulle sal kan wegskeur van hul fone om eendag hul eie potjie te krap en ʼn dak oor hul koppe te hou, maar as ek so na die seuntjie oorkant my sit en kyk, dink ek daar is hoop, heelwat hoop.

Ek gee nie om om ʼn ou tannie te word sodat kinders soos hierdie my moet dokter, opereer of ingewikkelde papierwerk oor te neem nie.

Hulle dink anders. Hulle dink vars. Sonder vooropgestelde idees, met geen politieke agtergrond of agendas nie. Hulle is skoon en rein en hulle hou van die mooi dinge en wil help.

Hulle is sirkels in ʼn wêreld vol vierkante. Vierkante wat in elk geval meer bots as buig. Ek onthou in ons kerk op Upington was daar ʼn groot wêreldkaart op met rooi letters wat oor die hele kaart geplak was: “Dis net hierdie generasie wat hierdie generasie kan red”

Ons kan net ons kinders red as ons gaan sit en hoor wat hulle ook te sê het, want dis wys en kom direk op ʼn silwer skinkbord uit die hemel.

Terwyl ek bietjie minder alleen voel en nog ekstra pienk sous op my chips gooi, kom sluit Bennie by my aan. Lekker uitasem gespeel. Die gesiggie is bloedrooi en die sweet tap hom af.

“Was dit lekker Bennie?”

“Ja baie!”

“Met wie het jy gespeel?”

“Ag sommer niemand.”

“Shame, hoe so?”

“Nee, ek was lus. Hierdie roomys lyk lekker ek gaan nou ʼn reënboog mix maak!”

“Nou toe, eet lekker my beertjie.”

Na ʼn rukkie wat ek vir hom sit en kyk hoe hy moeite doen met elke happie en verskillende vreemde kombinasies aanpak wat eintlik heel lekker proe, sê ek: “Bennie, dalk moet jy eers ʼn stukkie wafel vat en roomys op dit sit sodat die sprinkles aan dit kan klou.”

Sy antwoord: “Of ek gooi sommer net die roomys in die sprinkles en eet dit uit die klein bakkie uit.”

“Ja Bennie, goeie plan.”

Photo by iOnix on Pexels.com

One response to “Ek dink ons sal okei wees”

  1. Once again you have written a beautiful blog. Thankyou

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: