Meer as ʼn voël

Voëls. Alles van hierdie geveerde spesie laat my ril. Die kraalogies wat loer. Die onvoorspelbare snawel wat in ʼn nanosekonde jou van ʼn vinger kan ontneem. Benerige beentjies. Benerige lyfie. So breekbaar, maar braaf genoeg om ʼn mens aan te durf met vlerke wat fladder in jou gesig en allerhande duikaksies te doen vir ekstra intimidasie.

Ek het nogal ʼn gevoel van sukses ervaar toe ek opmerk Jan hou ook liefs verby ʼn voël. Honde is meer ons ding. Maar Ben is anders en Ben is Ben. Ben het besluit hy is versot op voëls. Die geween en gekners van tande kom al vir ʼn rukkie aan. Teen verlede week het Ben besef daar word nie gehoor gegee aan sy voëlversoeke nie en hy het toe maar die volume begin opdraai.

Dit het begin by ʼn loopneus…

ʼn Siek kind en ʼn hoesborsie het dadelik my aandag. Ek maak my tafel skoon en pamperlang soos wat net Florence Nightingale kan. Teen Dinsdag het hy nog nie beter gelyk nie en ons hou hom toe maar Woensdag ook nog bietjie by die huis.

Teen Woensdagmiddag het met blink oë en ʼn halwe kuggie (wat hy eweskielik onthou het om te maak) vir my kom vra om vir hom Youtube aan te sit, want hy wil na blou budgies kyk.

Wat ek gedog het is ʼn oulike tydverdryf, was al die tyd navorsing vir sy meesterplan. Kort daarna moes ek ʼn lysie maak van benodigdhede vir ʼn blou budgie en moes aanhoor hoe mens te werk moet gaan om ʼn blou budgie gelukkig te hou.

Die res van die week het hy ook sommer skoolsiek gespeel en hom verdiep in blou budgie-video’s en sy lus vir hierdie geveerde vriendjies het net al hoe groter begin word.

Dit het al hoe duideliker begin word dat daar iets aan sy saligheid gedoen moet word, want die man wil gebless word met ʼn blou budgie, en vinnig ook.

Nadat hy slapies afgetel het vir nog ʼn week, het hy verlede Vrydag verenig met die dier wat sy hartsnare so roer.

Vele beloftes is gemaak van hoe hy die hok sal skoonhou en kosbakkies vol hou. Ek was skepties (is steeds), maar vir nou word daar Woolies aarbeie gesny en lil’Blue het ʼn taamlike koninklike lewe.

“Jy is die mooiste voël in die wêreld! Hoor jy my” “In jou hok is daar niks reëls nie, hoor jy my!” “Ek is jou basie en jy is die soetste, beste voël!” Dit is die tipe gesprekke wat daar met lil’Blue gevoer word.

Ek weet nie wat is ʼn budgie se lewensverwagting nie en ek weet ook nie hoe lank gaan die gier hou nie, maar die pure geluk op Ben se gesiggie die dag toe hy ʼn eienaar word van ʼn troeteldier, sal ek nooit vergeet nie.

3 responses to “Meer as ʼn voël”

  1. Mag die voëltjie vir nog vreeslik lank so mooi vertroetel word!

    Liked by 1 person

  2. Ai, hoe straal daardie gesiggie!

    Liked by 1 person

  3. Wat ‘n pragtige blog! Beautifully written. Thankyou. En Ben….mooi kyk na jou ‘budgie’.
    Dankie Elana vir jou mooi skryf.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: