Tyd vir stilstaan

Van net ʼn bietjie stilsit en niksdoen, sien ek die ander dag sommer ʼn klompie mense raak:

Photo by Paula Schmidt on Pexels.com

ʼn Vrou met ʼn sportiewe pakkie, maer lyfie en selfoon in die hand het fluks aangestap gekom. Sy hoor nie wat haar kind sê nie, haar gedagtes is op ʼn ander plek.

Twee mans het eenkant gestaan en luidrugtig gestaan en gesels oor hul bakkies, perdekrag, bykomstighede vir bakkies en wat hul bakkies alles kan doen. Dit was duidelik dat dit ʼn algehele kragmeting is.

ʼn Vrou en haar vriendin kom verbygestap, die een babbel en die ander enetjie kry nie ʼn woord in nie. Die een wat babbel spog met haar kind op universiteit se beurs, haar goeie morele waardes en watter fantastiese voorbeeld sy vir haar kinders is.

ʼn Lang man staan voor die hysbak en is besig om ʼn stemboodskap te stuur. Hy moet slim wees. Hy noem in sy boodskap dat hy van beter weet want sy doktorsgraad is lank reeds gedoen, hy is nou besig met sy MBA en dus moet die res van wat hy dan te sê het sekerlik meer sin maak vir die ou aan die anderkant van die foon.

ʼn Ma met drie kinders in ʼn trollie stap verby. Die kinders praat ongeskik met haar en dis asof sy nie eens hoor hoe hulle met haar praat nie.

Twee jongerige vriendinne kom stap verby, elkeen met ʼn koffie in die hand. Wimpers is ekstra lank, middels is ekstra dun, broeke druk plat en ondersteun waar dit moet. Hulle doen baie moeite met hul hare, spandeer baie geld op hul voorkoms en beslis baie tyd in die gym.

ʼn Skamerige vrou met vaal klere en ʼn vaal handsak, klou haar Miladys pakkie vas en maak dat sy vinnig by haar kar uitkom.

Ek weet nie altyd waarheen ek op pad is nie, meeste kere dink ek maar iets nuuts uit om weer vir opwinding te sorg. Die laaste ruk waar ek gevoel het ek is tot stilstand geruk, was nie toevallig nie. Ek was gedwing om verskillende mense raak te sien. Al hou ek nie noodwendig van almal nie. Al wil ek dalk nie met hulle ʼn wyntjie gaan drink nie, moes ek na hulle kyk. Vreemd, ek weet.

My eerste gedagte by elkeen was: “prentensie”. “Hy is vals”. “Sy sit aan”.

Stadig maar seker hoe langer ek na hulle gekyk het, het ek hulle begin sien.

Ons is net mense. Net soos wat diere se pelse hul lywe moet beskerm, dra mense jasse vir beskerming. Elkeen se weersomstandighede lyk anders, daarom is almal se verdedigingsmeganismes anders.

Al van Adam en Eva se tyd wil mense nie meer kaal loop nie, almal loop en draai gedurig ʼn nuwe lagie om hulle.

Ek oordeel te vinnig en sien te min. Ek moes gaan stilstaan om te leer dat kyk nie goed genoeg is nie, ek moet sien, sodat ek verby die jas kan kyk en verstaan.

Photo by mentatdgt on Pexels.com

4 responses to “Tyd vir stilstaan”

  1. Elana – your writing is a breath of fresh air. I enjoy your words immensely because it is in one of the most beautiful languages in the world. Moreover you always express so succinctly – Thankyou – you are a South African Diamond in the sky!

    Like

    1. Sjoe baie dankie vir die mooi kompliment! Sodra mens jou hart uitpak op die tafel, raak dinge eerlik en kan ander ook minder alleen voel.

      Like

  2. Net nou die dag sit en dink hoe fassinerend dit is om mense te kyk en hul reaksies. Dadelik wil jy iemand in n boksie plaas. Sonder dat jy die ui behoorlik wil skil. Oulik geskryf Elana.

    Like

  3. Mooi opgesom van dit wat jy so goed raakgesien het onder al die klere en maskers skuil. Mense se harte, siele en emosies.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: