Ek het nie ʼn dag en datum vir wanneer ek die eerste keer ʼn krismisroos gesien het nie, al wat ek weet is dat dit my lewe verander het.
Die vrolike blomme groei in heelwat tuine, so ek het dit al baie keer raakgesien maar nooit behoorlik ingeneem nie.
Iewers in ‘n geselskap het ek gehoor watse moeilike groeiers hulle is en dat dit nie in elke tuinier se broek sit om dié meisies gelukkig te hou nie. Net daar en dan het ek besluit: hulle het nog nie met my te doen gekry nie. Die skaam blomme met hul baie boererate oor hoe suur die grond moet wees en hoe sagkens daar met hulle gewerk moet word het nogal soos ʼn lekker uitdaging geklink.
Groot was my skok toe ek moes hoes vir my eerste vier krismisrose, hulle het my beursie nogal gebrand. Ek het opgelees, gedroom en gevisualiseer van ʼn droomagtige tuin met klosse krismisrose wat jou buitentoe nooi en altyd ʼn grou dag ophelder. Daardie prentjie was vir baie lank die episentrum van my gedagtes. As ek sukkel om aan die slaap te raak, begin ek met landscaping idees net om weer op te spring en die internet te raadpleeg.
Die seisoene het gekom en gegaan en elke keer hoop ek vir die lente, maar die krismisrose hou aan krimp of gee net een belofte van ʼn blaartjie om vir my genoeg hoop te kan gee. As ek van die dorp af kom is daar ʼn verassing vir die krismisrose tussen die pakkies. Of erdwurmmis, koeksoda, nog kunsmis of boombas. Dit was my absolute lewenstaak om hulle die lewe te gee wat hulle verdien. Nou dat ek terugkyk besef ek dit was eintlik nogal ʼn ongesonde obsessie. Ek het op ʼn stadium selfs al die krismisrose uitgehaal en eers die bedding dieper laat grawe sodat hulle wortels dieper in die grond kon skiet en gemakliker kon wees. Hulle front suid, hulle staan in ʼn koel en klam area, geen skerp son, nes al die slim mense sê. Steeds geen vooruitgang. Soms is daar ʼn blom of twee en dan gaan kuier ek elke oggend met my beker koffie vir hulle en probeer hulle groter kyk, dalk moedig my nabyheid hulle aan het ek gehoop.
So af en toe het ek met ʼn breë bors met ʼn splinternuwe krismisroos by die huis aangekom. Vol lof en hoop dat dit een is van ʼn gesonde familie met sterk gene wat vir die res van die maer trietsige meisies gaan leer hoe om te groei. Sodra ek weer een blink oggend gaan inloer by die krismisrose het die hoofmeisie ook verkrummel en lyk nes die res van die dwelmverslaafdes wat half mank en onwillig daar staan.
Al my energie en moeite, my planne en drome irriteer hulle. Hulle wys openlik vir my dat ek moet wegbly en hulle my nie soek nie. Dis ʼn krismisroos-boikot sessie en ek is die grap in die verhaal. Almal van hulle het ooreengekom om dieselfde simpel toertjie te doen as ek een van hulle oor my drumpel dra.
My hart is seer dat ek na drie jaar nog nie ballonne het soos ouma Ella nie, of soos die tannie op Pinterest wie se krismisrose almal 2 m hoog staan nie. Ek het alles en meer gedoen. Terwyl die spekbome en vetplantrosies al hierdie bederf moes aanskou, het hulle maar net nederig bly groei en toekyk hoe hierdie selfsugtige tewe my ignoreer.
Ek moes ʼn besluit maak, een wat ek nog nie voorheen voor kans gesien het nie. Die skrif was nog heeltyd aan die muur, maar ek is nou eers gereed om op te kyk en te lees:
Moenie jou energie en tyd in dinge of mense sit wat dit nie waardeer nie.
Ek wou met die muur baklei en sê dat ek hoop gehad het en nie wou moed opgee met hulle nie.
Die muur was vir lank stil en het later maar weer dieselfde boodskap geflikker.
Ek was nog steeds nie bereid om dit te aanvaar nie. Ek het deur al die fases van verlies gegaan en vir ʼn hele rukkie stilgestaan by woede.
Hoe kon hulle dit aan my doen? Hoe kon hulle my liefde weier? Hoekom ek? Hoekom in my tuin? Hoe kan mens in vandag se tyd waar daar ʼn tekort aan liefde en aandag is onvergenoegd wees?
Vieslike les dié een. Een wat ek nie wil hoor nie, want ek hou meer van my eie planne en soms as ek my oë toemaak sien ek nog steeds die prentjie van hoe krismisrose oopbek lag en so ryg groei dat ek altyd vir die huis ook kan afknip. Dit spook by my.
Ek moet berusting vind en my vrede is dat ek met ʼn lewensles kan wegstap.
Ek was te veel en te oordadig vir hulle. Dalk het ek hulle oorrompel. Een ding is seker, ek is vir eers klaar met krismisrose.
So cheers krismisrose, ek block en bless julle!

Leave a Reply