Goeters shmoeters

lovely grandmother, old lady knitting a handmade sweater , logo, label or emblem for your yarn shop

Ouma Pien, my ma se ma, het vier dogters gehad en ons praat nog gereeld onder mekaar van hierdie legendariese ouma wat enig in haar soort was. Ek persoonlik het altyd gevoel sy is nie te gek oor my nie, seker maar omdat sy nie ʼn liefie-ouma was nie. Nooit stroperig en oorvriendelik nie. Net ʼn ouma met ʼn rok en skoene en hare op haar kop. Sy het wel ʼn sagte plekkie gehad vir ʼn mossie wat sy mak gemaak het, so dalk het sy van my gehou, dis nie die punt nie.

Van grondpad loop ken sy goed. Van sente omdraai, spaar en deel met ander was sy ʼn meester.

Sy het ons poppe se rokke gesmok, dadels vertroetel, dadelbrood gebak, klein voëltjies geverf op enige pot wat nerfaf is, want stilsit was nie vir haar lekker nie.

My suster het haar op ʼn stadium gevra om ʼn paar van haar herinneringe neer te pen, sodat ons dit met ons kinders ook eendag kan deel. Sy was heel gehoorsaam en het ʼn paar met die hand geskryf, wat ek toe later oorgetik het.

Soos wat ek ouma Pien se stories lees, besef ek net al hoe meer dat goeters ʼn mens nie help om dieper spore te trap nie, dit maak nie verhoudings dieper nie en dit maak beslis nie ʼn dieper indruk nie, miskien vir ʼn rukkie, maar dit waai gou weg.

Ouma Pien was nie famous nie, sy was nie geleerd met ʼn string grade nie, sy was nie ryk nie, sy was ook nie vreeslik maer nie, sy was alles wat ʼn mens vandag sou beskou as ‘doodgewoon’. Ek dink ook nie sy het vreeslik gesit en wonder oor wat sy nou eintlik met haar lewe wou doen nie, want sy het hierdie een lewe gehad voor haar. Ek het haar nooit hoor sê dat sy eintlik ‘n groter huis wou hê of dat sy miskien ‘n fancy loopbaan wou hê waar sy ‘n baas is nie. Sy wou wel haar kombuis groen verf op ‘n stadium en dit het sy gedoen.

Sy was maar net ʼn tannie wat gaaf was met almal, uitgedeel het wat sy het en altyd haar rouste self was sonder om ooit voor te gee sodat iemand meer van haar moet hou.

Die blink karre in die strate, plastiek verpakkings en oordadigheid is die rivier waarin almal swem. Ouma Pien moes in haar tyd seker ook te doen gehad het met blink goed, maar sy het gekies om altyd meer geïnteresseerd in daisy-saad te wees.

Niks maar niks, kan mens beter maak as wat jy reeds is nie. Voëls skyt op goeters, maar jou hart onder jou klere (stokoud of splinternuut) is die essensie van mense se nagedagtenis van jou.

Al was my ouma Pien ook skatryk met dik rolle geld in haar handsak, is die belangrikste die lesse wat sy geleer het deur te leef sonder om ooit ʼn woord te sê waarvoor sy staan en wat eintlik belangrik is.

Ek dink my kinders is oud genoeg dat ek hierdie storie met hulle kan deel…

Skoolgaan in die laat dertigs

Dit was ʼn arm tyd en daarom ʼn baie harde tyd. Vervoer was taboe, skoolbusse het nie bestaan nie, die meeste kinders het voetgeslaan skool toe. Die bevoorregtes het ʼn donkiekarretjie met twee donkies gehad, partye oues het sommer die donkie gery.

Ons was die stappers…

Wintersoggende was bitter koud, met spierwit ryp oor alles gestrooi – warm klere was nie te veel nie. Baie kinders was kaalvoet, skoene was ʼn weelde artikel. Ten spyte van ons armoede het my pa, Klaas Vermeulen, gesorg vir skoene – self gemaak. Ek was vyf jaar toe ek moes skool toe. Vyf myl (8 km), moes ons elke oggend stap.

Halfpad skool toe het ons soggens, in die winter, eers vuurgemaak sodat die verkluimde hande en voete gehelp kon word. In die somer was die hitte middae baie erg. Ons het ʼn kosslopie gekry, gewoonlik maar ʼn broodjie in, meeste van die tyd droog. Dit het ons maar liewer gebêre vir smiddae…

Dit het die langpad korter gemaak en boonop was daar dan nie so baie oë wat kon sien nie, want ʼn mens voel maar skaam vir so ʼn droë katkop. By die skool het dinge nie veel beter gegaan nie – die armoede het daar ook geblom. Meeste van die tyd het ons op ʼn lei geskryf met ʼn griffel, want van leiklip gemaak is. As jy jou lei wil skoon hê, vee jy alles af met ʼn nat lappie of spoeg ʼn vinger. Boeke was baie skaars, die hele klas moes klaarkom met een Aardrykskunde en Geskiedenis.

Die juffrou het die vernaamste punte op die bord neergeskryf – dit was ons leerwerk. Die onderwysers het baie gewissel, seker omdat die losies maar swak was. Hulle salaris was £ 10 (ongeveer R 20) per maand. Een juffrou het nogal redelik lank gebly, ʼn rooikop – Juffrou Dry. Sy was baie kwaai. Haar liniaal het ons boude en hande lekker warm geklop. Baie min kinders het in daardie dae verder gaan leer. Daar was eenvoudig nie geld nie. Jy was goed geleer as jy St. 6 gehad het, dan het die meeste maar uitgegaan en gaan werk.

Enkeles het tog verder gegaan, maar dit was die uitsondering.

10 responses to “Goeters shmoeters”

  1. Sjoe, dit kon net sowel my pa se storie gewees het. Ook skool toe gery op doenkiekar, maar hulle moes eers melk en goed voor hulle die pad kon vat.

    Liked by 1 person

  2. Ag ek hou van die storie!!

    Liked by 1 person

  3. Niks maar niks, kan mens beter maak as wat jy reeds is nie. Voëls skyt op goeters, maar jou hart onder jou klere (stokoud of splinternuut) is die essensie van mense se nagedagtenis van jou. – Sjoe, watter waar woorde. Dis so ‘n mooi storie en jy het duidelik kosbare herinneringe om aan jou ouma te dink en om te koester.

    Liked by 1 person

  4. Ek is altyd bly om ‘n inskrywing van jou te sien en soos altyd, is dit iets besonders. Mag ek dit asseblief herblog?

    Liked by 1 person

  5. Met liefde kan jy!! Dankie vir die mooi kompliment, dis gaaf van jou 🙂

    Liked by 2 people

  6. Dis so eerlik en mooi geskryf, soveel mense se stories. Wat ‘n wonderlike onthou, dankie vir die deel🌻

    Like

  7. Reblogged this on Tannie Frannie and commented:
    Kosbare herinneringe aan ‘n kosbare ouma. Ek herblog graag, want hier is ‘n vaardige skrywer aan die woord, iemand wie se vertellings, weet ek, vir my blogmaats ook genot sal besorg.

    Like

  8. How het die tye verander. Maar egte waardes bly, onaangeraaj deur aardse besittings

    Liked by 1 person

  9. Mens kan net oopmond luister na hierdie vertellinge. My pa het anderdag ook vertel hoe hy as sesjarige, met kaalvoete, die donkiekar moes inspan om 15 km skool toe te ry. Hoe bevoorreg was ons nie – en ons het gekla om 400m grootpad toe te loop na die busstop toe. Eish.

    Like

  10. Hoe kosbaar is die neergepende woorde van ‘n ouma, hoe wens ek ek het ook so iets gehad

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: