Al(een)

Ek weet nie wat is dit met ekstroverte nie, hulle wil alewig ʼn introvert aanneem en leer om bietjie uit ‘sy dop te kom’. Ek is ook skuldig hieraan. Ek probeer al vir ʼn hele rukkie om my introvert oudste mak te maak vir gesels en in die oë kyk.

Ek dink as Jan eendag moet terugdink aan sy grootwordjare, sal “met wie het jy vandag gespeel?” soos ʼn seer vinger uitstaan. Dit is ʼn ou vragie wat by my uitglip nog voor ek regtig daaroor gedink het. Al van kleuterskooljare is dit die eerste vraag wat ek in die kar vra op pad huis toe. In die kleuterskool was dit dieselfde name wat altyd geroteer het, nou in die laerskool wissel dit van twee tot geen. Die dae wanneer hy met selfvertroue vir my vertel hy het pouse alleen gesit, breek nog ʼn stuk van my hart af. Hoe kan dit lekker wees op mens se eie? Hoekom loop hy nie ʼn draaitjie en kyk wie geselskap soek nie, daar is tog altyd ʼn maatjie vir ʼn praatjie.

Sonder om te veel te karring, beweeg ons maar vinnig weg van die maatjie-gesprek. Buitendien, as ek te lank aanhou, sal Jan baie vinnig vir my sê hy het nou genoeg hieroor gepraat.

As ek net twee keer ʼn week ‘n sinvolle gesprek met ʼn vriendin gehad het, voel ek nog steeds leeg en half lammerig van binne. Dit is bitter moeilik om te verstaan dat iemand nie geselskap soek nie, al is dit net af en toe. Maar ek dink al weer net aan myself. Ek moes in ʼn introvert se skoene stap om te probeer verstaan hoekom hy doen wat hy doen.

Buite hom woel die wêreld, maak geraas, kom in konflik, maak onbenullige praatjies en beheer. As jy jouself daarvan distansieer is jy veilig. Terwyl jy praat, kan jy nie sien of hoor hoe iemand anders voel nie. Daar is dalk ‘n waarskynlikheid dat niemand van die groep maats dieselfde humorsin as jy het nie, so bêre maar eerder daardie lawwe grap diep in jou sak waarvoor jy so lekker giggel. Nie almal is so mal oor honde nie, so moenie eens begin verduidelik hoe lief jy vir Hennie is nie, hy is nie net nog ‘n oulike hondjie nie, hy is ‘n sielsgenoot. Party maats wil altyd die baas wees en as hulle vir jou ‘n werkie uitdink, val die kollig op jou, so bly eerder uit hul pad. Grootmense is vriendelik en wil weet hoe dit met jou gaan, wurg ‘n ‘hallo’ en ‘n ‘goed’ uit anders is jou ma briesend vir ‘n week.

Skaam? Baie. Verstaan hy homself en weet hy wat vir hom werk? Jip. Hy doen niks onnodig nie, hy beplan wat hy wil sê, hy praat nie om leë spasies te vul nie, want as mens kosbare stilte wil breek, moet dit sin maak. Om alleen te wees, beteken nie noodwendig jy is eensaam nie. In jou gedagtes is daar prente, jy sien kinders rondloop en jy kan self in jou gedagtes gesprekke opmaak en ʼn hele storie kan voor jou afspeel. Om alleen onder ʼn boom te lê met jou warmsjokolade pouse, is om jou gedagtes te orden, lekker te sit en giggel vir iemand wat snaakse gesigte trek en om jou bene te strek na ʼn lang sessie in die klas.

Omdat hy homself afsonder van die groep, maak dit sy sintuie sensitief en kan hy observeer en luister soos wat party grootmense nie eens kan nie. Hy is bewus van sy omgewing en hoe hy daarin pas. Soms laat glip hy een of twee woorde deur wat my laat besef die lewe gaan nie by hom verby nie, al lyk dit net vir my so.

Verhoudings is vir hom belangrik, al het hy min. Die bietjie wat hy het is vir hom lekker, op die stadium is dit ons gesin en ʼn paar naby familielede, maar dit is sy wêreld en dit maak hom gelukkig. Hy kan sien as ek nie lekker voel nie, nog voor ek vir myself besluit het ek voel goor en dan word dit reg gedokter met ʼn Lego-skepping wat op my lessenaar verskyn of ʼn koekie uit die koskas.

Om aanmekaar te karring dat die diep denker bietjie ontspan en ophou wonder oor hoe dinge werk en met Pokémon-kaarte speel, sal hom en my net moedeloos maak. Terwyl ek hom nog vir ʼn ruk onder my vlerk het en hy nie lus is om by die hele straat se maats te gaan kuier nie, leer ek by hom. Ek hoef niks te doen wat onnodig is of wat nie sin maak nie, ek hoef nie poefpraatjies te maak nie en ek moet meer dink oor dinge.

Die wêreld het hopeloos te veel praters, die handjievol stilles moet gekoester word, want hulle het al die antwoorde.

Photo by Mayu on Pexels.com

2 responses to “Al(een)”

  1. Jou Jan is baie gelukkig om jou as mamma te hê. Een van die interessantste mense wat ek ken, is ‘n volslae introvert – maar ai, watter ryke lewe lei sy binne daardie mure! (“Mure” volgens die ekstrovert se gesigspunt…)

    Liked by 1 person

  2. Sulke wyse woorde, Elana. So waar.

    Like

Leave a Reply to elsabeskryf Cancel reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: