Stadiger, beter

Die jaar het afgeskop soos wat jaar moet afskop: met ʼn gewoel en ʼn gedruis. Die eerste kwartaal en alle eerstes is verby, ek is in rat, in voeling en in ritme. Maar tog voel dit of ek stilstaan en alles in ʼn stadiger spoed om my beleef.

Dit voel of ek na ʼn groot ongeluk wakkergeskrik het en net so bietjie sit om asem te kry. Almal in die kar lewe nog, maar ek moet nog uitpluis waar ons is. Ek het nogal lank parkeer by hierdie rustige punt, ek het later begin om my padkos uit te haal en die ander vinnige karre wat verbyjaag te sit en bekyk. Almal bereik ʼn opwindende nuwe bestemming en vlieg van die een avontuur na die volgende. Dit is nogal ʼn resep vir mismoedigheid.

Ek werk van die huis af en dae kan maklik almal eenders voel omdat my kollegas (Abrie en die diere) elke dag dieselfde optree en praat. Sophia kom lê soggens op haar kussing by my en los winde. Emily begin klokslag met die stofsuier te woel. Hennie blaf op die uur vir elke hadida in die tuin en skuins na 11:00 soek Abrie sy tweede koffie en ʼn vinnige geselsie. Ons jaag nie en dit voel lekker.

Ander wat jaag, jaag omdat dit vir hulle lekker is of omdat iets anders hulle jaag, maar ek wil nie hardloop nie, want ek raak gou moeg en dan moet ek bietjie sit. Vir ʼn onverklaarbare rede is dit cool om te jaag en dié in die vinnige baan reken my wêreld het gekrimp. Ek het dit vir lank geglo en het nogal simpel daaroor gevoel, want wie wil nou in ʼn klein wêreldjie bly. Klein wêreldjies maak mens mos dom en neuroties. Dit maak dat mens oor jou kind se mondeling en speltoets bekommerd is en nie eerder kantoorpolitiek of loopbaankeuses nie. Loopbane is soveel meer wêrelds en groot, dit wys dat mens visie het en toekomsgerig is. Jy ontmoet ander mense en jy maak jou tenkie vol energie en jy kry dryfkrag om ʼn volgende nuwe inisiatief aan te pak.

Vir lank het ek myself gekasty omdat ek so vaal en onsigbaar voortploeter. Ek pak broodjies, ry kinders rond, boer in my sweetpakbroek, ry Checkers toe vir brood, spuit die tuin nat en maak lysies. My kombuis is nou my raadsaal, waar ek die werkgewer en werknemer is. Geen formele vergaderings word aan tafel gehou nie, geen agendas en sperdatums nie. Ek is nie “daar buite” nie, ek is hier binne. En hier binne is ek bietjie moeg vir die plakkers wat hulle daar buite so mildelik plak op ʼn onsigbare werk wat geen erkenning kry nie.

Dit was weer eens ʼn kind, in hierdie geval my Jan, wat my tot my sinne laat kom het en weer perspektief gegee het.

Elke middag vra ek hom hoe sy dag was, met wie hy gespeel het en of hy sy broodjie opgeëet het. Sy kalm aura duld nie so baie vrae nie en hy antwoord selektief om my tevrede en stil te hou. Ek was bekommerd toe ek hoor hy was dié week meeste pouses alleen. Toe ek uitvis om uit te pluis hoe hy daaroor voel, kom ek agter om alleen te wees pla hom nie in die minste nie. Hy het sy warmsjokolade gaan koop by die koffie-oom en lekker in die sonnetjie op ʼn muurtjie gaan lê en bak. Hy is okei met waar hy is en wat hy doen. Wat ander van hom dink, kan hom nie minder pla nie. En toe laat val hy dit ook sommer so in die verbygang, dat hy nie baie daarvan hou as iemand vra vir iets lekkers in sy kosblik nie. Hy sê maar net vir die maatjie wat sit en kwyl hy moet vir sy ma vra om vir hom ook te koop.

Ek staan kaal en ek het toegelaat dat aangeplaktheid en hoë mensgemaakte trone my intimideer. Die ander se dik lae het my laat simpel voel omdat ek nie ook ʼn jas het met ʼn lang mantel van grade, loopbaan, geld en titel wat agter my aansleep nie.

Dankbaar vir begrotings, om nie ryk en belangrik te voel nie. Dankbaar vir ʼn lyf wat jeuk vir mantels. En dankbaar vir ʼn gesin wat my elke keer aarde toe bring en herinner dat dit okei is om net te wees. My kombuis is ʼn werkstasie waar probleme opgelos word en lesse geleer word. Ek moet raas, jammer sê, paai en prys. Ek sit dalk nie meer in ʼn raadsaal met groot oorbelle en funky klere nie en hoor so af en toe dat ek iets reg doen nie. Nou weet ek nooit of ek iets reg doen nie, maar ek het drie manne wat dit alles die moeite werd maak.

4 responses to “Stadiger, beter”

  1. Ek hou baie van die plek waar jy is! Die stadige baan is die een met die mooi uitsigte – in die vinnige baan let mens dit partykeer nie eens op nie …. en na twee/drie jaar wonder jy skielik waar is die mooi dan heen? Dan beweeg mens weer so bietjie oor na die stadige baan en voila … dit was die hele tyd hier reg voor jou oe!
    Jy’s ‘n gelukkige en geseende vrou … ek’s seker jou drie manne sal dit beaam!

    Liked by 1 person

  2. Ai, hierdie stryd tussen loopbaan en huis kom al so baie jare. Jou drie manne is voorwaar geseënd.

    Liked by 2 people

  3. Wilmien Wiid Avatar
    Wilmien Wiid

    Ek love die plek waar jy is……it is gooooooood!!

    Liked by 2 people

  4. Jy is op die regte plek vir jou nou, dis al wat belangrik is. Daar is min kinders met daardie voorreg vandag🌻

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: