Baie dae sit en wonder ek wat is my storie as dinge nie so glashelder lyk nie. As ek deur dowwe lense kyk na alles om my, vervaag die duidelike buitelyne en word dit vervang met hoekoms. So baie keer maak ek lysies van wat ek wil doen en hoe ek dinge gedoen wil hê, maar dis min tot nooit dat ʼn storie regtig uitdraai soos ék dit in my kop uitgewerk het.
As Jan en Ben iets kry wat nie presies in hul raamwerk pas nie, is die teleurstelling baie duidelik te bespeur op hul gesigte. Ek hoef nie te wonder hoe hulle voel oor ʼn stroopbroodjie wat eintlik ʼn katjiebotter broodjie moes wees, of ʼn Hot Wheels karretjie wat eintlik ʼn Match Box karretjie moes wees nie. Ons almal loop maar rond met verwagtinge.
Elke oggend vertel Jan vir my, op pad skool toe, hoe sy eerste kar moet lyk. Ben het al sy tuin begin uitlê in sy drome, want sy huis is lankal gemeubeleer. Ek luister en kleur saam in en wonder in my binneste hoe hulle stories gaan uitspeel.
My matriekafskeidrok het ek ook seker al in die laerskool iewers begin teken, in die middae as ek voor my lessenaar gesit het. So eintlik weet ek waarvandaan hierdie appels val, Jan en Ben is maar net besig om te droom soos hul ma.
Nes die stroopbroodjie en die Hot Wheels karretjie, het my matriekafskeidrok ook nie voldoen aan dit wat ek in my kop gehad het nie. Ek het eintlik maar simpel gevoel met die ding en die meisie met die roomyspienk satyn rok met netjiese dun bandjies met diamanté detail op, het my net een kyk gegee en dadelik begin giggel saam met haar netbalspan, wat ewe kuis en koeklik met hul handsakkies gestaan en wag het vir die aand om te begin.
Ek het geleer dinge draai nie altyd uit soos mens wil hê dit moet nie. Maar die hoop beskaam nie. Gou is dié ervaring vergete en die volgende verwagtinge bou maar weer op tot dit uiteindelik uitspeel in iets heeltemal anders. Elke keer as die uiteinde nie was soos ek gehoop het nie, was ek teleurgesteld. ʼn Teleurstelling is mos as mens nie kry wat jy wou hê nie. As al my studentedrome moes waar word, was ek vandag kaalvoet, iewers in ʼn klein afgeleë gemeenskappie, met ʼn kunstenaarsman wat kitaar speel as hy hartseer is en ʼn hele string kinders wat rondhardloop met wit linne kleertjies.
Die uiteinde? Ek het ʼn Abrie gekry, wat somme maak sodat dinge vir hom kan sin maak en net in die stort sing en nie agter ʼn mikrofoon inskuif nie. Ek het nie ʼn “string” kinders nie, net twee. Hulle sal nooit in hulle dag des lewens wit linne klere dra nie, want elkeen het sy “eie styl” soos hulle dit noem. Ben wou gister gaan dromme oefen in sy jamies en Jan moet by wees en aan alles voel en vat voor hy dit sal aantrek. Ook geen helder kleure wat aandag trek nie, die lysie waaraan klere moet voldoen is eintlik nogal lank.
Oe en die drome van “soet” kinders. Hoe mooi hulle almal sal groet, hoe pligsgetrou hulle sal huiswerk doen, takies in die huis en boekies lees. Alles uit hul eie, want dit is lekker om soet te wees.
Die uiteinde? Ek moes besef om kinders te hê kos heelwat meer as in my drome en ek kan nie met bessies en blare betaal nie. Hulle spring ook nie net uit wanneer mens wil hê hulle moet gebore word nie. Hulle kan tot drie jaar, soms langer, neem om my te verras. Ek kan ook nie kies hoeveel ek wil hê nie, want daar is reeds vir my besluit. Ek kan maniere leer, artikels oor ouerskap lees en ʼn meester diplomaat wees, maar niks kan my staal vir dié karakters wat ek nog nooit van te vore teëgekom het nie. Jan reken Checkers moet rustig raak omdat hulle ʼn oormaat paaseiers uitpak, skoenlappers en honde op toiletpapier is onnodig, want dit beland in die toilet en hoe kan McDonald’s speelgoed vir kinders gee, sodat hulle moet dink die kos is lekker, dit bly nog steeds gross. Ben droom daarvan om ʼn rock star te word en dring aan op musiek waar mens die dromme duidelik kan hoor, hy is trots op sy kunswerkies en kuier meer in die straat as in sy eie huis. Hy wil cuddle en maak nie ʼn geheim daarvan nie, hy lewe sorgvry en niks of niemand kan hom terughou om net iets te kan geniet nie.
Ek kan nie teen alles stry waarmee ek nie saamstem nie, ek kan reg wees, of ek kan in ʼn verhouding wees met hierdie karakters.
Die werklikheid staan in kontras met dit wat ek voor gehoop het, maar dit waarvoor ek gehoop het was eintlik te eenvoudig en sonder enige fyn detail.
Dit is my storie, die een wat ek nie self kon skryf nie, maar die een waaraan ek nie ʼn oomblik van sal verander nie.












Leave a Reply