Stilte asseblief

Om stil te bly en net alles om my te observeer is altyd iets om na te streef en waarvoor ek wens, veral as ʼn paar uitmergelende weke my van alle vriendelikheid en humor gestroop het. Ons het verlede week gaan kamp en die gedagte om my woorde spaarsamig te gebruik was weer eens bo-aan my lys. Ek kry dit nie altyd so lekker reg om net stil te bly nie, want ek wil hoor of almal om my okay is, wat hulle nodig het en wat hulle dink, sodat ek ook kan rustig en gelukkig voel.

Al babbelend en pratend het ons opgeslaan en die kampterrein begin verken, die gedagte om minder my mond oop te maak lê in die verte soos ʼn stofwolk op ʼn grondpad.

Verlede week Maandag om 14:30 het dit gevoel of die wêreld ophou draai vir my, terwyl die res van die mense houtgerus aangaan met hul doen en late. Toe ek en Ben al geselsend loop en lek aan ons roomyse, val my voortand uit. Die klingel weergalm, hop op die bruggie en val in ʼn modderige poel onder die bruggie. In ʼn nanosekonde is ek tot stilstand geruk. Ek kan vir niemand vertel wat aangaan nie. Ek moet tot by Abrie loop en die scenario al fluisterend agter ʼn bakhand verduidelik. Die kinders wil my “shark tand” sien en dit word baie vinnig vir hulle gewys en dan weer bedek met ʼn lip. Terug op ons spoor ontdek Abrie my tand en dit word in my beursie gebêre tot wie weet wanneer ek hulp sal kry.

Ek wil so graag vir Abrie sê hoe commin die een tannie vir my lyk en hoe ongeskik die kinders op hul fietse ry. Die musiek by die swembad pomp te hard na my sin en ek voel dis my plig om daaroor te teem, maar ek kan nie. Ek maak my beursie oop en vryf ongesiens aan die wit tand wat vir my lê en loer.

Onwillig en onmiddellik is ek die stil tannie by die kamp. Die een wat net ʼn digte toe smile gee as iemand spontaan groet, die een wat na haar kinders, wat al gillend mekaar onder water dompel in die swembad, stap en fluister en agter haar hand fluister om rustig te wees en die enigste een wat gehoorsaam haar masker dra in die bloedige hitte dra, sodat sy agter die stukkie lap oopmond kan asemhaal.

Vir die eerste twee dae met die oop gaping in my mond was die gedwonge stilswye nogal vreemd en beslis iets om aan gewoond te raak. Toe die aanvaarding van my stomheid my bereik, het my ander sintuie skerper begin oorneem. Ore wat vroegoggend sagte geselsies hoor waar twee oumense sit en koffie drink. Hulle is rustig, stadig en gelykmatig. Elkeen het sy werkie en hulle vul mekaar aan sonder om ʼn groot lawaai te maak. Jan wat op die kampstoel sit en droom en die verte inkyk soos ʼn fortuinverteller en stories bou van hoe sy hy huis en erf moet lyk. Die gestremde dogtertjie wat te skaam is om in die groot geraas te wees by die swembad, maar wat op haar mooi pienk handdoek om die hoek sit en die gras lê en vryf. Eweskielik sien ek ander stil en skaam mense raak en dis asof ons almal mekaar begroet met ʼn knik of ʼn vinnige handbeweging en dadelik weer op ons eie dinge fokus, niemand is lus vir geselsies maak nie en is maar te bly die groet was vinnig oor en verby.

Laas week Vrydagoggend is my selfbeeld weer in ere herstel met ʼn nuwe tand wat vasgesement is en my woorde kruip weer uit soos bang kinders wat weggekruip het vir ʼn monster. Ek kan weer praat soos ek wil en hoef nie na iemand in die gesin te stap om iets te fluister nie. Op ʼn vreemde manier mis ek my uittand. Daai gaping het my weerhou van onnodige sinne en het net die nodigste laat deurkom. Ek het gesien en gehoor wat ek andersins nie sou nie. Ek het empatie vir ander ervaar omdat ek self broos en blootgestel gevoel het.

Niks wat ek het is myne nie, en as iets weer weggevat word (of uitval) sien ek uit na die ervaring.

Photo by solod_sha on Pexels.com

2 responses to “Stilte asseblief”

  1. Goeiste, so ‘n uit voortand kan ‘n mens nogal tot stilstand ruk, ne! En ek lag so graag … dit sal vir my ‘n groot pyniging wees (en dan’s ek nog bang vir ‘n tandarts ook – dubbele slag)! Ek’s bly jy kan weer bree mond gesels 🌸.

    Like

  2. Ek kan half nie help om te lag nie, want ek het ook dit al oor gekom en ook soos jy skaam my mond toegeknyp. En dan lag ek ook omrede my man sou sê hoe salig die stilte vir hom was. So, ek lag nie vir jou nie, ek lag saam met jou. Jy het die storie baie mooi beskryf.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: