Die afgelope paar weke wat verby is kon ek aan niks merkwaardig dink om te skryf nie. Ek moet iets ten minste skryf, want as ek dit nie doen nie, bottel dit op. As gedagtes ingehou word en nie op papier beland nie, voel dit soos ʼn enorme wind wat ek probeer inhou in ordentlike geselskap. Sodra alles uit is en in klein swart lettertjies voor my staan, maak my padkaart weer sin en sien ek die rigtingaanwysings duideliker en my eie simpel besluite staan uit soos rooi vlaggies met waarskuwings op wat sê: “moet liewer nie hierdie weer probeer nie”.
Soms is gematigheid lekker, mens voel veilig en weet wat om te verwag. Daardie selfde veilige gevoel kan ook later vervelig raak en my begin seesiek maak. Ek het ʼn paar veilige skuite waarop ek elke dag vaar. Geen hoë branders om te tem nie, geen hewige konfrontasies, net ʼn rustige, matige kalmte. Dan kasty ek weer myself omdat ek nou vrede het en dat dit juis ander se grootste wens is, om net in ʼn laer rat te kan leef.
Ek is die laaste ruk ongeduldig, want daar is dinge wat in en om die huis moet gebeur en dit staan stil, want petrol is duur en ʼn brood kos al R30 000 en ons wikkel deur ʼn paar in ʼn week. Die kinders het op ʼn streep verjaar en dit voel of ons uit ʼn oorlog gestap kom en op lemmetjiesdraad trap. Hennie eet al vir dag twee katpille, want ek sien nog nie kans om ʼn lening aan te gaan vir hondepille nie. Alles voel te groot en oorweldigend. Terselfdertyd voel alles net so ongelooflik rustig en gematig. Mense gaan dood van die honger, maar ons is nog hier en leef ons voorstedelike lewe. Mense skiet uit en raak ryker as ryk, maar ons is nog hier en leef ons voorstedelike lewe.
Natuurlik is dit afskuwelik om oor so iets te mor en bieg, ek het mos baie om voor dankbaar te wees. Steeds voel dit of ʼn sterk hand my terugdruk in die bed as ek soggens moeg opstaan om die skoolrondtes te doen, ʼn muf brein wat nie kreatiewe nuwe planne kan uitdink nie, hande wat nie hekel nie, ʼn ma wat nie mooi aandag gee aan wat haar kinders vertel nie, want die stories klink al te bekend. Orals is ʼn psigiese blok teen alles, iets wat my keer om te doen wat ek wil doen en my asem en vryheid kom steel.
Nes krewe wat in ʼn pot kook en probeer ontsnap, pluk een van die afgunstige maters die vlugteling weer af kookwater toe. Daai verdrietige prentjie broei die laaste ruk in my kop. ʼn Kreef is so ʼn liederlike ding en dan moet hy nog kook ook. Ek wil asseblief ʼn plan maak om hier uit te kom sodat ek nie meer myself so hoef te sien kook nie.
Vanaand toe ek deur ʼn boek blaai vir inspirasie, kom ek op ʼn artikel af oor skrywersblok. Daar is allerhande rate oor hoe om die stilswye en niemandsland-periode te oorkom. Maar die kortste sin is die een wat my oog gevang het en met my gepraat het: Just write. So maklik soos dit. Skryf net.
Ek skryf my eie storie, en die vervelige hoofstukke is my eie skuld. Deur te lééf, gee ek mening, kleur en kwaliteit.

Leave a Reply