Die laaste ruk word ek nogal erg gekonfronteer met ongemak. Dis beslis iets wat niemand geniet nie. Ek is oorbewus van hoe stadig ek die afgelope week loop na my operasie en ek kry myself jammer. Ek kyk met verlangende oë na mammas wat met ʼn huppel na die skoolhek toe stap om kleinding die te kry en hoe gemaklik sy weer opwip in haar voertuig en woerts wegry. Alles in een elegante beweging.
Ek doen alles in paaiemente. Ek kom parkeer en vat die draai eers stadig en wyd. Onmiddellik begin ek vlak asem haal en soek ʼn knop dat die kar se wind net moet aanhou blaas in my gesig. Dan besef ek, ek het nog nie grimering aangesit nie en die helfte van die dag is al verby, so die sonbril en masker moet maar nader getrek word om mamma se aartappel-gesiggie te verbloem. Die uitklim is ʼn affêre. Maak die deur wyd oop, swaai voete uit, rem aan deur vir ondersteuning en bid ook terselfdertyd dat die deur nie op my toeklap nie.
Voetjie-voetjie stap ek na die hek toe. Die hek voel baie ver. Die kinders lyk ekstra besig en dit voel of elke armpie en tas wat verby my vlieg my ʼn hou kan toedien op my wond. Die einste wond wat deur my eie toedoen nou op my maag sit, juis sodat ek nog ʼn asempie kan kry, met tyd wat nugter alleen weet waar ek dit vandaan gaan kry. Maar die hoop beskaam nie, ek is nou in die ding, en eendag sal ek dankbaar wees.
Dis ʼn ewige gewag in die genadelose skerp son. Jan sien my, maar stap nie vinniger nie. Hy moet sy ritme van koel en kalm behou. Ek het nie die kapasiteit om opgewerk te raak nie en ek kan dit ook nie bekostig dat te veel oë na my kant toe swaai nie, want ek lyk soos ʼn bergadder. So ek bly kalm, kry warm, maar hou aan hoop en vertrou dat ek binnekort weer sal kan sit met koue wind in my gesig.
Uiteindelik na Operasie Inklim, kan ons huis toe, suutjies oor die hobbels en ver onder die spoedgrens.
Alles is nou net ongemaklik. Elke basiese ding wat vinnig en moeiteloos was, verg nou ʼn optog en beplanning. Ek het ook begin gril vir my voete, waarby ek nie kan uitkom nie, so toe skuifel-skuifel ek vanmiddag na ʼn plek toe wat naels doen.
Dis oorvol en bedompig binne en ek ruik vreemde chemikalieë. Ek het ʼn hartlike verwelkoming verwag en strelende musiek in die agtergrond, maar helaas, hier is ons nou.
Ek beland op ʼn leunstoel, langs ʼn jongerige vrou. Sy is luidrugtig en op haar gemak. Die keuse van naelkleure is vir haar ʼn elektriese ervaring, want dis nie net die kleur wat ʼn opsie is nie, maar ook wat die kreatiewe kunswerkie moet wees op toon nommer 2 asook die ringvinger.
Ek sien haar foon se screen saver is ook ʼn prentjie van naels. Sy swaai haar sterk bene op en af op die tegnikus se skoot, asof sy ʼn dans doen. Sy weet presies wanneer sy haar voete moet ruil. Sy weet wat sy wil hê en sy is hier om dit te kry. Sy noem dat sy ʼn geesdriftige netbalspeelster is en eweskielik kan ek haar op ʼn baan sien speel. Net soos wat ʼn netbalspeelster met haar spanmaats kommunikeer, kommunikeer sy met die vrouens wat haar hande en voete doen. Sy is absoluut in beheer, maar die lekkerste van als is, sy is op haar gemak.
Ek wil net my tone geverf hê omdat ek fisies nie by dit kan uitkom nie, ek besluit om op die eindproduk te fokus en maak my oë toe.
Die netbalspeelster gesels driftig voort en bieg dat haar laaste twee jaar op skool hel was. Sy het Graad 11 en 12 in die Covid-tyd gedoen en kon nie sosialiseer of sport doen nie. Ek besef ek het haar dalk te rof geoordeel met die eerste oogopslag en besef dis tyd dat empatie nou die oorhand moet kry. Ek was al weer vieslik. Sy klink duidelik nou ligter hier waar sy sit en gesels na hierdie swaar tyd van inperking van net sit agter die boeke kan sy nou agter haar sit en aanbeweeg en vry wees.
Ek maak my oë oop na die sessie, betaal en waggel kar toe.
Sonder dat sy dit weet het die meisie met die babablou toonnaels my eintlik vanmiddag laat wakker skrik.
Almal ervaar ongemak. Niks is vir almal lekker nie. Alles wat sleg is het ʼn einde, en as dit nog nie beter geraak het nie, is dit nog nie die einde nie.

Leave a Reply