Aan die anderkant

Sonder dat ek wil, bevind ek myself daagliks opnuut in ʼn weegskaal. Party dinge wat aan my knaag is groot goed, té groot om klein te kry op een dag. Ander is weer klein en onbenullig, maar genoeg om ʼn goeie dag te bederf.

As iets vandag duidelik en helder lyk, kan daardie selfde lyne môre oormekaar begin loop en soos ‘n heel ander prent lyk. Die bekende word eweskielik vreemd en dit wat veilig gevoel het, is nou soos ‘n wilde ding met hondsdolheid.

Photo by Anni Roenkae on Pexels.com

Party dae voel alles wat onregverdig is net te oorweldigend en dan begin stroom die hoekoms en waaroms in en dan begin voel ek ʼn bekende krapperigheid en kort voor lank is ek weer kwaad vir die Here.

Nadat die Here my pa in 2012 kom haal het, ná al die gebede en volle vertroue dat hy genees sou word, is hy hemel toe. Ek was vir ʼn lang ruk oortuig daarvan dat belangrike gebede soos om ‘n siek mens gesond te bid, meer vir die hoër rang Christene bedoel is. Dis die mense wat almal ʼn laer trek om iemand en dan aan die einde sukses beleef en met vreugde in dit kan verkondig as die persoon genees is, “God is goed!”

Behalwe vir siek mense wat nie altyd weer gesond gebid kan word nie, is daar tog ook ʼn hele ander rits onregverdige dinge om ʼn mens. Huwelike wat vou, oë wat dwaal, woorde wat seermaak, ag die lys is te lank om alles op die naam te noem.

So elke nou en dan vang ek myself waar ek dink “wat nou, wat is volgende?”. Wat moet ek bid as ek weet van ʼn vriendin wat seer het? Ek het dan tog al geleer dat dinge nie gebeur soos mens vra nie en hulle vra so mooi waarvoor ʼn mens spesifiek moet bid.

Die antwoord wat ek gekry het sit nog nie altyd te lekker met my nie en dis moeilik om dit aldag te aanvaar, maar ek het besef ek kan nie sê wat ek wil hê nie. Ek mag nie ʼn goeie uitkoms kies en daarvoor bid nie, die Here staan klaar aan die anderkant en weet presies hoe hierdie fliek moet uitspeel. So dan voel dit eintlik half arrogant om vir die Regisseur te sê dat Hy ʼn paar ekstra rolle moet inwerk en my dialoog verander sodat die plot my kan pas. Dis in elk geval nie asof ek uit hierdie kontrak kan kom nie. Om ʼn vloermoer soos min te gooi, waar ek volstrek weier om saam te werk, sal ook nie goed afgaan nie, want dan sit ek die hele fliek op halt en al die akteurs kyk grootoog vir my omdat ek hulle lines heeltemal gegooi het.  

Dit bly ʼn konstante gebuk en ʼn gekniel en gevra om maar net deur genade te kan kom waardeur ek gaan en dat die mense vir wie ek lief is ook met hulle stuk seer saam met hulle sal kan dra, al is dit dan net dag vir dag om die ergste, eerste groot slukke te vat.

En elke keer nadat ek deur ʼn diep donker kloof gestap het, sonder ʼn koplig, net so voel-voel al met die pad langs, het ek iets geleer en is ek daardeur.

Ek voel nou deesdae te simpel om te bid vir wat ek graag wil hê. Dalk mag mens dit so doen, ek weet tog nie wat is regtig reg en verkeerd nie. Al wat ek weet is elke keer as ek net vra vir genade en niks meer nie, is ek nie so kwaad aan die einde nie en ek kry ek soveel meer as wat ek wou hê.

Photo by feelalivenow on Pexels.com

3 responses to “Aan die anderkant”

  1. Baie waar. Ek eindig altyd met “U wil” as ek so my eie dinge vra. Baie mooi prent ook.

    Like

  2. Jy beskryf dinge so mooi, menslik en eerlik. Pragtige skrywe, dankie vir die deel🌻

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: