Stilte…eers bietjie later

Stil oomblikke is skaars, ek wens vir stilte. Net ʼn oop spasie waar ek my eie gedagtes kan hoor en waar dit nie gevul word met wat ander om my wil hê nie.

Toe ek weer vandag so sit en wens vir ʼn rustige tydjie, nadat ek op gaar pampoen gegly het, met Hennie en sy bal, Ben en sy skopfiets en Jan op sy skaatsplank, almal in die kombuis, op een oomblik, onder my voete.

Eweskielik besef ek, hierdie kos is net vir hulle. Die baie op en af draaie, is ook net vir hulle. Die koskas vol snacks, waar ons vakansie hou, wat ons naweke doen, is alles net vir hulle.

En ek besef ek sien nie nou al kans vir stilte nie.

Hier volg ʼn tipiese gesprek tussen my en Jan in die kar soggens. Ek wil hieraan vasklou. Ten spyte van die sit in die verkeer, klim ek en Jan uit die kar en teen die tyd dat ons by die skool kom, het ons om die wêreld en terug getoer.

Jan: Mamma, watse plant groei daar teen die heining?

Dis baie vroeg, ek het nog nie my tande geborsel nie en net vinnig ʼn kam deur my hare getrek om die eerste een by die skool te kry. Dit moet stiptelik wees. Hy raak senuweeagtig as hy ʼn lang ry karre begin sien, want dan glo hy ons is laat. Die horlosie by die Spar-sentrum word elke oggend dopgehou om te kyk of ons regtig laat of vroeg is. Hy weet waar die lang beentjie moet lê en nie moet lê nie.

Jan: Mamma, hoor jy ma?

Ek: Seker ʼn Ticky Creeper, ons het ook so een in die tuin.

Jan: Ek soek dit by my seehuisie eendag. Dit moet teen ʼn draad oprank en langs dit moet daar beelde wees. Mamma weet soos statues. Mamma!

Ek besef ek luister te veel na Martin Bester en te min na my kind.

Ek: Dit klink mooi Jannie.

Jan: Hoe moet jou en Pappa se seehuisie eendag lyk?

Ek besef ek moet ʼn deurdagte antwoord gee, ʼn kort sin gaan nie voldoende wees nie.

Ek: Ek soek ʼn klein huisie, naby aan die see, met ʼn mooi stoepie met ʼn rusbank en ʼn lekker groot tuin.

Jan: Ja en onthou ons gaan die heinings tussen ons huise mos afbreek sodat ons honde kan maats wees.

Ek: Net so!

Jan: Watse hond gaan julle hê?

Ek: Jantjie, ek het nog nie so ver gedink nie.

Jan: Maar dink nou!

Ek: Goed, ek dink ʼn Frenchie en ʼn Pug sal oulik wees.

Jan: Ek gaan ʼn Husky, ʼn Yorkie, ʼn Golden Retriever, ʼn Toy Pom en ʼn Pug hê! Die Husky gaan ʼn gangster baadjie dra, die Toy Pom gaan net in die son lê en die Golden Retriever gaan baie goed kan swem.

ʼn Liedjie begin speel en ek begin sing net lekker saam…

Jan: Weet Mamma hulle hou van swem?

Ek: Nee.

Amper by die skool, dan kan ek ʼn power song luister om wakker te word.

Jan: Hoe kan Mamma nie weet nie.

Ek: Ag, want Mamma is sommer silly, jy is die een wat alles van hondjies af weet.

Jan: Mamma, ʼn pikkewyn is eintlik baie cooler as ʼn leeu, weet jy hoekom?

Ek: Nee, hoekom.

Jan: Want, ʼn pikkewyn moet ʼn eier vir amper ʼn jaar kan warm hou tot dit uitbroei, en leeus is net lui.

Ek: Dit is so, ja.

Jan: Dink jy ook leeus is lui Mamma?

Ek: Vreeslik lui.

Jan: Mamma wat maak jy vanaand om te eet?

Ek: Mmmm ek weet nog nie, ek sal nog bietjie dink.

Jan: Jy moet weer pannekoek bak. En het jy geweet ek hou die meeste van Krispy Kreme se gewone doughnuts? Nie die wat sjokolade en sous op het nie, net die gewone doughnuts. Wat is jou favourite?

Ek: Wat is Afrikaans vir favourite, Jan?

Jan: Ag sê nou net! Jy moet kies!

Jan: Mamma, gee gou jou foon, ek moet die wolke afneem. Jy gaan dit nie believe nie.

Ek: Ek hou van ʼn doughnut met baie sjokoladesous op Jantjie.

Jan: Mamma, het jy geweet nè, ʼn pikkewyn is eintlik baie cool, want hy sink nie weg in die sneeu nie, hy trap lekker vinnig.

Ek: Is so.

Jan: Luister jy?

Ek: Ja, van die pikkewyne.

Jan: Watse dier wil jy wees, ʼn pikkewyn of ʼn seemeeu.

Ek: Mmmm ʼn seemeeu, want dan kan ek mense se chippies gryp.

Jan bars uit van die lag en ek kan dit ook nie meer hou nie, want ek sien die prentjie.

Jan: Ja imagine jy is ʼn seemeeu en jy gryp iemand se chippie wat lelik is met iemand anders, dan vat jy sommer sy kos af en as jy wegvlieg, dan poef jy op die boelie se kop.

Ek: Ja dit sal funny wees.

Jan: Super funny!

Jan: Imagine dit! En dan dra Mamma ʼn cape en kry chippies by al die boelie mense en gaan voer die siek seemeeue in die seemeeu-hospitaal.

Ek: Ja dit sal cool wees.

Ek: Onthou om jou briefie vir jou juffrou te gee en onthou om pouse eerste jou broodjie te eet.

Jan: Ja ja jaaaa ek weet al hierdie goed.

Ek: Maar ek kry nog steeds vol kosblikke by die huis, jy moet eet Jan.

Jan: Ok, ek belowe.

Jan: Mamma?

Ek: Ja Jannie.

Jan: Lief vir jou.

Ek: Lief vir jou my seun.

3 responses to “Stilte…eers bietjie later”

  1. Sjoe, julle dek omtrent ‘n wye verskeidenheid onderwerpe 😊. Ek sal nie weet waar om te vat en te los aan die gesprekkie nie – ek probeer nog dink van watter doughnut ek hou, dan is ons by ‘n seemeeu hospitaal (en skielik probeer ek my indink hoe die seeumeeu dokters en “nursies” lyk en of hulle ‘n vlieg ambulans het) 😄. (Ons kon nooit kinders he nie … maar ek dink nou ek sou nogal ‘n seuntjie geniet het … dit klink my hulle neem jou op ‘n wonderwereld!).

    Like

  2. Jan is baie geseënd om so ‘n wyse superheromeeumamma te hê.

    Liked by 1 person

  3. Ek is so bly jy gee aandag en geniet hierdie tyd. Dis kosbaar en vlietig. Pampoen gly ten spyt

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: