Ons familie chat op WhatsApp is ʼn heerlike plek. Dis niggies en tannies uit die Kalahari, Pretoria, Springs, Upington en natuurlik ons nimlike Derick in die Kaap wat nie kan uit mis op ʼn geselsie nie. Boererate vir skete, resepte vir ʼn maklike ding om vinnig te maak vir aandete, begeerlike koeke, handwerk en tuinmaak idees word basies op ʼn daaglikse basis uitgeruil.
WhatsApp-groepies het die manier om mens nogal kramperig te laat voel, maar nie dié een nie. As ek ʼn asvaal dag het en daar spring ʼn boodskap op my skerm en ek sien Derick se blomme blom oopbek of sy nuwe beeld in sy tuin pryk mooi langs die swembad, of ʼn video van waar sy mensvreter hond aan die slaap raak op grootmens musiek, is my dag aan die noordelike kant van die land sommer klaar stukke beter en maak die onweerswolke plek vir die son.
Oudergewoonte het ons weer almal sit en gesels gisteroggend op die fone. Foto’s van die kinders in hul nuwe skoolklere is nou uitgeruil en almal het oor en weer ge-oe en ge-aa. Die nuwe onderwerp op die tafel van bespreking: Tienermeisies. Een van die kleinkinders is nou so aan die begin van die tienermeisie fase en toe dink almal sommer terug aan hul eie jong dae.
Matrieknooi. Dit was ʼn gedoente en ʼn half. Dis meer as net ʼn beauty contest by die skool, dit kring uit na die hele dorp en die meisie wat wegstap met die Matrieknooi-banier en kroon is ook sommer die hele dorp se celeb. Haar gesig verskyn in die plaaslike koerant, Die Gemsbok, saam met haar prinsesse wat breed glimlag en hul tweede pryse met sterre in hul oë ontvang het. Maar net te bly en dankbaar dat hul ook “iets” kon kry. Die res van die meisies moet dan vinnig padgee van die verhoog af, eintlik die prinsesse en so ook die enetjie wat erkenning vir haar oulike persoonlikheid ontvang het.
Om tyd terug te draai van waar daardie glansaand sy oorsprong het, is by die hele groep matriekmeisies. Die hele groep matriekmeisies moes een middag by die skool se klubhuis wees en ons moes netjies aantrek. Almal het onderhoude gehad by ʼn paneel. Juffrou May en ʼn paar ander mense wat van beauty queens en model-dinge af weet, het die vra-werk gedoen en kommentaar op papiertjies geskryf. Die lang tafel waar die beoordelaars sit was mooi gedek, ewe met ʼn ruiker hier en daar en klein vierkantige lappies wat skuins oor ʼn ander tafeldoek gegooi word, dit het nie ʼn doel gehad nie, maar dit benadruk net die feit dat hierdie ʼn uiters stylvolle geleentheid is.
Tydens die ondervraging besef ek, hierdie is so bietjie anders as onvoorbereide mondeling. Hierdie tipe vrae is effe bo my vuurmaakplek. Ek weet nie hoe om wêreldvrede te bevorder nie, ek kan nie juis iets polities korrek beantwoord nie, want ek is net 18, maar een ding was seker: hulle het nie my eerlike antwoorde geniet nie. Hulle was opsoek na iets vars, dog voorspelbaar. ʼn Mooi meisie wat die skool kon verteenwoordig, want hoe kan ʼn meisie wat bietjie dik in die dif is nou ʼn ambassadeur wees vir haar skool? Almal moet vir jou grappe kan lag, jou humorsin moet waarskynlik iets wees tussen algemeen en generies.
Daardie middag wat ek met groot afwagting na die plakkaat gehardloop het om my naam te soek vir die volgende rondte, net om dit nêrens te kry nie, was die einde van my lewe. Ek het al gesien hoe word ek met blomme gegooi op die verhoog, reageer verbaas en bars uit in trane as die kroon op my kop gesit word. Ek het selfs al ʼn uitspattige rok in gedagte gehad vir die finale model-loop-op-die-plank-ding. Om eerlik te wees, ek het my voorspelling oor my prinsesse ook gehad en my beste kant voor my spieël geoefen vir die foto wat in Die Gemsbok sou verskyn.
Ek was nie daai middag lus vir huiswerk nie, ek het op my bed gaan lê en my CD player se eerste liedjie wat geblêr het was Christina Aguilera se “You are beautiful”. Niks het sin gemaak nie, want voor die oordeelsdag het ek darem gedink ek is nie te bad nie, maar nou is ek amptelik afskuwelik in die oë van die mensdom, dit terwyl Christina sing: “You are beautiful, no matter what they say.” Ja Christina, maar jy het nie ‘n blerrie Matrieknooi by jou skool gehad nie, het jy?
Dit was aaklig om weer in juffrou May se Afrikaanse klas te sit, want sy was meer doenig met Matrieknooi-dinge as Afrikaans en sy was eweskielik sagter en gawer met die finaliste. Om ʼn finalis te wees het ook natuurlik die paadjie na matriekafskeid toe vir jou oop plavei, want jy is reeds as een van die top mooistes, so dit het beteken dat jy kon kies en keur tussen die dates.
So is ons almal na skool in ons eie rigtings, wêreldvrede en al die beloftes wat daarmee gepaard gegaan het om die kroon te kon kry het toe nooit gestalte gekry nie. Om die nooi van die matrieks te kon wees, was maar net ʼn liegstorie, ʼn tydlyn met ʼn begin en ʼn einde.
Ek wens ek kon vandag, twintig jaar later, vir Elana in haar kamer gaan troos en sê dit is eintlik bietjie skreeusnaaks en dra geensins gewig of waarde nie. Elkeen het sy eie mooi. Sproete, ʼn vol lyf, dimpels, krulle, dik vingers, you name it.
Sodra jou oë vonkel omdat jy van iets praat waarvan jy baie hou, is jy baie mooi.

Leave a Reply