Voorbereid vs. Gereed

Desembervakansie is nou net foto’s, maar daar het nogal heelwat beplanning en voorbereiding ingegaan. Reg deur die jaar is pryse dopgehou en aankope gedoen vir ʼn ekstra tent om onder te kuier, nog ʼn grondseil, slim planne sodat gras nie deur die grondseil groei nie, ʼn ekstra tent vir die kinders, ʼn haak vir die fietse, ʼn groter fiets vir Jan, ʼn haak vir die karavaan, die lys gaan aan.

Ons het dus taamlik voorbereid gevoel toe ons regs draai en die grondpad vat na die plek wat ons huis gaan noem vir die volgende maand. Daar aangekom, kon mens die opwinding in almal se oë sien. Klomp nuwe gadgets peul uit Takealot bokse om die lewe te vergemaklik. Blinker en groter karre is aangeskaf om blinker en groter karavane te sleep. Nuwe speelgoed staan en wag op waentjies om uitgetoets te word op die water.

Maar al wat wou kom is die son. Met al die voorbereiding in die wêreld het niemand voorsien hoeveel dit sou reën en dat ons vir lang rukke vasgekeer sou wees nie. Ek het ook later begin moeg raak om dag in en dag uit te sit en inkleur in die karavaan, terwyl die wasgoedbondel hoër raak en ek nie in die nat wil uitgaan om dit te gaan was nie. Ons was voorbereid vir kamp, maar nie gereed om só in mekaar se spasie die heeltyd te wees nie. In ʼn 1 m radius was daar heeltyd een of twee siele om my.

Toe die son sy eerste verskyning maak, het almal soos een man afgesak strand toe. Voorbereid met ons trollie, drinkgoed, handdoeke en strandtent. Hierdie dag moes gerek word om op te maak vir al die ander reëndae. Toe die wind uiteindelik te sterk begin waai en ons besluit om op te pak, begin ek en Jan met die oprol van die tent. Toe ek die tent by hom vat om in die sak te frommel, haal hy dit uit my hand en sê: “nee Mamma, dit werk nie so nie, ons moet dit op die regte manier doen.” Dit tref my soos ʼn vuishou in die maag dat hy nes sy oupa Kosie klink, wat hy nie eens die kans kon kry om te leer ken nie. Oupa Kosie se leuse was altyd: Doen die regte ding, al is dit nie altyd maklik nie. En hier staan Jan voor my en ek besef hoe belangrik dit vir hom ook altyd is om eerder die regte ding as die maklike ding te doen. Ek was voorbereid op ʼn stranddag, nie gereed vir my kind se wysheid nie.

Soos die bakkie huis se kant toe koers kies en ons in die donker nag weer ‘n stad vol liggies sien, voel ek half uit die veld uitgeslaan. Die liggies is als behalwe mooi en die groot advertensieborde is verblindend. Tekkies en parfuum wat mooi afgeneem word sodat ʼn mens moet lus wees om dit te koop. Ek was voorbereid om huis toe gaan, maar nie gereed vir die omgewing nie.

Nadat ek en die seuns gaan skryfbehoeftes kry het en ek by die tafel kom sit het om alles te merk, het ek besef mens kan ook net tot op ʼn punt voorbereid wees en die res moet ʼn leë spasie wees om ons iets te kom leer. Potlode kan skerp gemaak word, lêers kan lê en wag in ʼn tas, maar geen voorbereiding kan ʼn kind voorberei vir hoe maats en juffrouens gaan wees en hoe hy alles gaan ervaar nie – dit is die leë spasie, die verassingselement.

Soveel voorbereiding as wat mens kan doen is gedoen, maar dis die gereed-wees vir enige oomblik, hoe ook al die dobbelsteen val, is wat die jaar ʼn leerskool gaan maak. Onverwagse slegte nuus, siekte, dood, nood en moed-in-jou-skoene-oomblikke kan kom. Mense gaan aanjaag en seermaak. Harde woorde kan val. Ek wil gereed wees vir enigiets, maar dis moeilik as ek nie weet wat gaan gebeur nie. Al wat ek kan doen is om my ark solank te bou en dig te seël, veilige sirkels om my kinders te bid en te vra vir ʼn rustige hart as die storms kom.

Photo by Matt Hardy on Pexels.com

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.