Legendes word gebore

Gister, 17 jaar terug, is ons ouma Pien hemel toe. Sy het die paadjie geloop wat ons almal moet loop, waar baie ander oumas en oupas al reeds gewag het om haar te verwelkom.

Toe ek vroegoggend my oë oopmaak het die family chat reeds gegons oor herinneringe van ouma Pien. Die een onthou haar koejaweltert, die ander een onthou haar klipharde koekies wat nie eens kon sag raak in ʼn warm beker koffie nie. Die bont sokkies wat sy vir ons almal gebrei het en vir verjaarsdae en Kersfees uitgedeel het. Hoe sy Sondagkos vir die hele familie kon kook op ʼn haarfyn begroting. Hoe sy uitgedeel het vir almal, al het hulle meer as genoeg gehad. Haar vrieskas was altyd vol botterbakkies met gedroogde vye, dadels en dadelbrood in. As jy die Noord-Kaap se grens moes oorsteek vir wat ook al die rede was, moes jy vergesel word deur ʼn botterbakkie.

As kind het ek nie veel daarvan gedink nie. Dit was my realiteit en dit is seker maar hoe alle oumas was. Ek was te jonk om vir haar die regte vrae te vrae sodat ek haar slim antwoorde in my hart kon bêre. Al wat ek oor het van ouma Pien is onthou-stories.

Ouma Pien word vandag as ʼn legende in ons familie gereken. Dit wat sy gedoen het en hoe sy dit gedoen het, het van haar iemand gemaak wat mens nooit wil vergeet nie. Met ons oor en weer gesels op die familie chat, het ek genoem dat ek nie dink ek is enigsins van legende-stoffasie gemaak nie. Dit het my bietjie laat dink aan hoe iemand ʼn legende word. Ek moes ver en wyd gaan krap het in al my onthou-stories om by die waarheid uit te kom.

Eers moes ek ouma Pien weer voor my sien. Sy was ongekunsteld, onopgesmuk, lief vir lag, eerlik en vrygewig. Sy was nie bang om te wees wie sy was nie en sy het nie ʼn front voorgehou om te maak of sy iets was wat sy nie was nie. Haar arm grootwordjare het ʼn groot rol in haar lewe gespeel, maar dit het ʼn diepe waardering by haar gekweek en sy was nooit verbitterd oor wat sy nie gehad het nie. Soos tannie Ericka onthou, sy was opgewonde oor ʼn blikke Coke as hulle ʼn draaitjie dorp toe gery het.

Sy het vier dogters goed grootgemaak wat vandag nog mekaar se vriendinne is en wat die waarde van saamwees en familie verstaan.

Ouma Pien het wyse waarhede met ons gedeel toe ons nog te jonk en te dom was om dit regtig te verstaan, maar sy het nooit ons intelligensie onderskat of gedink ons is te klein nie. Sy het altyd haar die binnekant van haar hart gedeel.

Gistermiddag, heel toevallig op ouma Pien se hemelverjaardag, kry Jan ouma Pien se onthou-boekie waarvan elke gesin in die familie een het. Hierin is ʼn paar van haar stories wat sy neergepen het toe sy begin swak raak het, sodat ons vir ons kinders dit eendag kan vertel. Ons onthou’s is ook opgeteken in die boek. Elkeen onthou haar anders en by elke niggie het sy ʼn ander indruk gelos.

Ek besluit toe ek het nou genoeg gewerk vir een dag en gaan sê vir Jan ons moet op die sagte bank gaan sit. Ek kon sien hoe blink sy oë van nuuskierigheid oor dié klein boekie.

“Jan, hierdie boekie is stories van ouma Pien en hoe sy grootgeword het. Sy is my mamma se mamma.”

So begin lees ek vir Jan voor van Houtmaakdag. Daar was spesiale stokkies bymekaar gemaak vir die koffiepot se kookwater, groter hout vir die oond om mee te bak en weer ʼn ander soort hout waarmee daar buite vuurgemaak is. Jan wou hom doodgiggel toe hy hoor hoe ouma Pien mooi moes voel in die oond as sy die as uitgekrap het, want soms het daar ʼn eier gelê, omdat die hoenders graag op die warm plekkie kom broei het.

Hy kon dit nie glo toe ek lees dat ouma Pien nie die lampie mag gebruik het om haar huiswerk by te doen nie, want lampolie was duur. Die lampie was slegs gebruik as oupagrootjie uit die Bybel gelees het en vir noodgevalle. Ouma Pien moes by die vuur, wat sy gemaak het met hout wat sy self opgetel het, haar huiswerk doen. Dit was haar enigste lig.

Ek sien die verslae uitdrukking in sy gesig toe ek lees van ouma Pien se skooldae. Waar sy reeds op 5 ongeveer 8 km skool toe moes stap. Hoe sy haar slopie met droë brood gebêre het sodat die ander kinders nie moet sien wat sy gekry het in haar kosblik nie. Die juffrou wat die enigste handboek in die klas besit het en die kinders wat hul kennis moes neerskryf op ʼn leiklip en hul foute uitvee met ʼn spoegvinger.

Alles is deesdae vinnig, oorlaai met opsies en gemaklik. Hierdie klink vir Jan eenvoudig net onrealisties.

Soos ek verder hardop lees vir Jan, voel ek eweskielik soos ʼn drol. Ek is beslis nie van legende-stoffasie gemaak nie.

Ben is nou maar eers vier jaar oud, maar hy het reeds die eienskappe van ʼn legende, iemand wat net ʼn veer voel en sy ding doen. Hy gaan skool toe met sy olifant kostuum, hy loop rond in sy mooiste onderbroek en hy draai ou items in die huis vir ons toe omdat hy vir ons wil wys hoe lief hy ons het.

Jan, die sewejarige ou siel, het honde lief met sy hele wese. Honde is belangriker as mense en verdien om op die hande gedra te word. Dagdroom is ʼn belangrike aktiwiteit en hy kan in die middel van die nag vir jou tot die fynste detail verduidelik hoe sy seehuisie eendag moet lyk.

So ouma Pien is vir seker ʼn legende, oupa Kosie is ʼn groot legende, ouma Ella, oupa Willie en oupa Zee was elk in hul eie reg legendes. Hoe het hulle sulke groot geeste geword?

Deur net elke dag te doen wat hulle moes doen en dit goed te doen, sonder om erkenning daarvoor te verwag, sonder om te worry of hulle raakgesien word, sonder om vir ander te vertel hoe wonderlik hulle is – hulle was net.

Legendes word gebore, nie gemaak nie.

Photo by Eva Elijas on Pexels.com

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.