Die swemkompetisie

My ma het iewers in haar twintigs ʼn nare ondervinding met water gehad. ʼn Paar vriende het gaan swem by Walvisbaai en sy was maar skrikkerig, want die see is mos nie mens se maat nie. Toe sy later inbeweeg en begin mak raak vir die golwe, het ʼn brander haar platgetrek. Met elke opkom het sy geskree en gewaai en dié op die strand het net teruggewaai en gedink sy is baie vriendelik. Gelukkig het haar kêrel, ons mooie pa, onraad vermoed en hom vinnig na die toneel gehaas en haar gaan red. Dit kon so maklik anders gewees het, maar dankie tog hulle het getrou en vier kinders gekry.

Photo by Pixabay on Pexels.com

Die vrees vir water het haar egter bygebly en elkeen van ons moes swemlesse kry, want water is gevaarlik. Ons swem sertifikate is almal mooi netjies geliasseer in lêers en nie een van ons het dit tot by goudvis status gemaak nie, ons almal was maar ʼn skakering van ʼn sardien, maar my ma se hart was tevrede want haar kinders kon hulself help in die water.

Ons is in elk geval so bang gepraat, want nadat jy deur tannie Lulu se hande is, en jy beweeg op in die swem-leer, gaan jy na die munisipale swembad toe, of soos almal dit genoem het: Die Dorp se Swembad. Die swemmers wat by Die Dorp se Swembad opgeëindig het, was gefokus, het Speedo swembroeke gedra en het altyd ʼn bruin sirkel op hul rûe gehad van lang ure se oefen in die water en dan het mens hul gesigte gereeld op die agterkant van Die Gemsbok gesien waar hulle medaljes en nuwe sweetpakke gekry het en die berigte kom week na week deur dat hulle nóg vinniger kon swem. Hierdie kinders was half vis, half mens. Hulle het ʼn gemeenskaplike ding gedeel wat dié, soos ons wat net kon paddaspring en ‘hand-stands-up’ in die water speel, nie verstaan het nie.

Om op ʼn Saterdag na die Dorp se Swembad toe te gaan, was ʼn weeklange gereël. Mens moet jou ma baie mooi vra, want jy kort geld vir die ingangsfooi en snoepiegeld én dan moet jy nog daar afgelaai word, want dis net te ver om met die fiets soontoe te ry. Met die aankoms moes ons eers deur pers water loop om al die kieme dood te maak en dan staan mens eers en retireer bietjie voor die groot magtige, blou swembad. Dit is intimiderend en die pawiljoen aan die anderkant het klomp oë wat vir mens loer. Die plan was altyd om so vinnig moontlik ʼn boom te gaan soek, ons goed te smeer sodat ons nie brand nie en dan een-een die vlak kant te betree. Op ons heel waaghalsigste het ons getrippel tot in die middel, maar ons het die diepkant maar gelos vir die rowwe seuns wat van die duikplank afspring en toertjies doen.

Sondae by die Sondagskool kon mens die kinders met die pienk skouers en neuse uitken en weet hulle was by Die Dorp se Swembad en Maandae het die velle begin waai en was ons almal vol vlekke en niemand mag aan jou raak nie want jou hele lyf brand.

Nou ek het maar dieselfde roete gevolg met my twee seuns, as dit kom by swem. Hulle moet net hulself in die water kan help, ek verwag niks meer nie. En toe ek reken Jan kan homself help en van die een kant tot die ander kant beweeg sonder om te huil, het hy sy sertifikaat by tannie Judy gekry en sy vlerkies vir sy broer gegee.

ʼn Paar weke terug kom vertel Jan my van ʼn swemkompetisie en dat ʼn maatjie van hom dit gaan doen en hy is nou ook sommer pens en pootjies in! Ek het probeer verduidelik dat kinders wat aan galas deelneem steeds afrigting kry en boonop nog op Saterdae ekstra oefening doen by ʼn groot swembad om gewoond te kan raak aan die koue water en die helse ent wat afgelê moet word. Jan wou niks weet nie en het voet by stuk bly staan: hy gaan aan die swemkompetisie deelneem.

Sonder om die kind te ontmoedig het ek maar agter hom aangesleep na die swemkompetisie toe. Dis warm, ʼn oom praat op ʼn mikrofoon, daar is ʼn pawiljoen met toeskouers, swemkeppies, swembrille, lewensredders en ʼn oom wat in Engels aan die grootoog Graad 1’s verduidelik hoe die verrigtinge gaan verloop. Ek hou vir Jan dop en sien hy neem alles mooi fyn waar en lyk rustig. Die eerste swemmertjies spring in en swem fluks tot aan die anderkant.

In die hoek van my oog sien ek ʼn paar grootmense om ʼn kind staan en toe ek weer kyk, sien ek dis my kind. Toe ek nader loop, sien ek die trane en die bekommerde gesig. Bang oë en ʼn mond wat sê hy wil nie. Die ander grootmense was baie gaaf om so mooi te vra dat hy moes probeer, ʼn lewensredder het selfs aangebied om saam met hom in sy baan te swem, maar ek het geweet sy nee is sy nee.

Nadat ek ʼn rukkie by hom gesit het, het hy net saggies gesê hy wil nou huis toe gaan. Ons stap toe maar kar toe, verby die tannie wat by die tafel sit om medaljes uit te deel, op pad om ʼn pastei by Woolies te koop vir troos.

Ek sit die aircon aan, want die bakkie kook en ons gunsteling Spoegwolf liedjie, maar verder ry ons maar in stilte, want wat moet dan nou gesê word.

Toe ek amper op die snelweg klim, vra ʼn stem van agter dat ek asseblief die bandjie van my arm sal afhaal. Ek besef toe die arme kind wil nie aan dié dag herinner word nie en ek haal dit dadelik af. Hy begin later ontdooi en gesels weer oor honde wat klere dra en hoe sy seehuisie eendag moet lyk en ons hardloop weer deur die formaliteite vir Hennie se begrafnis, want dit is iets wat meer beplanning verg as ʼn koninklike se afsterwe. Die hond is nog springlewendig maar Jan wil net seker wees dat ek mooi verstaan hoe hy sy hond eendag wil groet.

Toe Jan sy troos-pastei in sy lyf het, kyk ons Shrek. Hy is eintlik nog so bitter klein, maar hy was braaf genoeg om te gaan kyk hoe lyk ʼn groot swembad. Hy hoef nie iets te doen wat hom bang maak nie, alles moet nou nog net lekker wees. Ek gaan maak vir hom ʼn glas yskoue koeldrank en vryf sy hare waar hy op die bank sit.

Ek weet nie eintlik wat om vir hom te sê om hom beter te laat voel nie, maar ek hoop en bid maar in my binneste dat hy altyd so braaf sal bly om nuwe dinge te probeer.

2 Comments Add yours

  1. Toortsie says:

    Jan, hierdie tannie verstaan hoe jy voel. En jou mamma ook 😁❤️. Hul het my sommer op dag een verskrik toe ek my kop onder die water moes druk.

    Liked by 1 person

  2. Hoe lekker het ek nou gelees! Natuurlik sal jou seun steeds nuwe dinge probeer, want hy voel geborge, danksy jou 🥰

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.