Meer as net kitsch

Laatmiddag, net voor die weer begin opsteek het, het ons die Kersboom opgeslaan. Ek sê nogal vanoggend vir Abrie die boom kom ook al ʼn entjie saam met ons. Hy het ons eerste huisie vol gestaan toe ons hom 12 jaar gelede gekoop het en hy doen nog sy werk. Elke keer het hy dieselfde effek op ʼn mens se gemoed.

Op die oog af, as hy in die kombuis ingebring word, nadat Abrie hom eers moes uitgrawe uit die dak, kom hy in kompartemente wat toegeplak is in swartsakke. Die versierings is in ʼn toegeknoopte plastieksak. Elke keer as die boom wat in sy drie dele voor my lê maar ʼn hartseer gesig. Die sakke is stowwerig, die versierings is maar yl en elke keer is ek bang dat hy hierdie jaar dramaties gaan omval en sy laaste buiging gaan maak. Maar boom stel net nooit teleur nie, hy staan weer getrou op sy plek.

Die oopmaak van die plastieksak en die ophang van die versierings, waarvan ons al vergeet het, bring ʼn bekoring van sy eie. Dis glad nie duur goed met name wat gehang word nie, dis eintlik bietjie kitsch, maar dis vir ons bitter mooi. Die engelhare is vir die kinders van kardinale belang en dit word soos ʼn kombers baie seremonieel om hom gedrapeer. Iewers met ʼn kind se verjaardag het ek vlaggies met goue kolle op gekoop. Dit het dadelik Jan se oog gevang en die kolle-vlaggies is toe nie asblik toe saam met die ander papierborde en glasies nie, dit is netjies gebêre tussen die Kersversierings.

Sedertdien is kolle-vlaggies maar deel van die bontspul wat jaarliks op die boom land. Ek staan en kyk ons handewerk so vanmiddag en dink by myself dis ongelooflik mooi. Ek wil dit nie anders hê nie. Die kans is goed dat iemand met styl kan dink dit is ʼn ontploffing van commin, want daar is nie ʼn patroon of kleurkombinasie van ʼn dag oud nie. Maar ek is nie juis lus om ʼn perfekte boom te hê nie, want ons jaar was nie perfek nie. Die boom is ook moeg, maar hy is nog hier. Aan sy een tak hang ʼn karton hartjie wat Jan uit ʼn papboks gesny het wat aan ʼn rooi wolletjie hang, die takke wil nie meer so lekker dig en welig staan nie, dis vol gate, nes ons.

Kersfees het eintlik nogal ʼn lekker dik streep van kitsch van crackers met klein speelgoedjies, papier servette en geskenkpapier met klein Kersvadertjies op. Ek is mal daaroor.

Ek gaan gooi vir my koeldrank in en ek besef eweskielik dat ek nie net een keer ʼn jaar met kitsch te make het nie, dankie tog vir die dierbare figuurtjies in my huis wat vir ander mense lelik is. Niemand wil hulle hê nie, hulle is deur die samelewing uitgeskuif en dra lables om hul nekke wat hulle nie verdien nie.

Voor gaste gaan piepie, groet ʼn glas hondjie hulle vriendelik, ek weet nie of hy altyd vriendelik terug gegroet word nie, maar hy doen sy werkie pligsgetrou en hou nooit op met glimlag nie. Die porselein boekie wat ook sommer ‘n blompotjie is het die Onse Vader op in goud gedruk. Mens moet mos nou byderwets wees en eerder geroeste woorde hang van Geloof, Hoop en Liefde sodat mense kan sien jy is kunssinnig én gelowig. Maar ek hou van my Onse Vader boekie, dit laat voel my geborge, so hy gaan nêrens heen nie.

My rak in die kombuis het allerlei goedjies met stories, sommige noem dit “kaggelkakkies”, maar dit klink dan of hulle in die kaggel hoort en kakkies is, en ek kan nie iets wat vir my so baie beteken so vloek nie. ʼn Glas botteltjie hou ander stukkende botteltjies se glas binne in hom, asof hy die ander botteltjies wil troos.

My ouma Ella se rottang bordjie waarop sy baie versigtig ʼn lappie gesit het en met ʼn netjiese greep Jan Smuts koekies uitgepak het, staan ook daar. Ek proe Jan Smuts koekies as ek dit sien en ek verlang my ouma sommer bietjie meer.

Op die boekrak staan ʼn bordjie met ʼn brandsiek windhond. Hy was vol stof in die winkel, seker omdat niemand hom wou hê nie. Ek het hom aangeneem en met ʼn servet dadelik sy boude blink gevryf en huis toe gebring. Die hond maak my tranerig, want hy herinner my aan almal wat verstoot word en nie iewers inpas nie maar tog so graag wil. In my vertoonkas is alle items, so ʼn klein bietjie ekstra heilig.

My pa se klein bruin kangaroe waarmee hy gespeel het toe hy klein was, as mens die stertjie druk, spring die babatjie uit die buidel; ʼn hasie wat Abrie vir my gekoop het omdat hy geweet het dit gaan nie eendag vir hom mooi lyk in ons huis nie, maar hy weet hoe mal ek daaroor is; my ouma se bril; die padkaart wat my pa geteken het om hout te gaan haal in Bloemfontein om die eetkamertafel mee te bou, wat ook nou in ons huis staan; klein potjies en geblomde bordjies wat in ouma Ella se vertoonkas gestaan het, waaraan niemand mag geraak het nie. Niemand mag nog steeds daaraan raak nie, ek weet nie eintlik hoekom nie, maar ouma Ella weet en ek respekteer haar besluit.

Nadat ek weer by al my goedjies gekuier het, is my hart sommer weer vol en begin raak my oë nat en my keel dik. Ek is dankbaar vir alles wat ons oppas in die huis en alle ou aardse goetertjies wat stories vertel sodat ons minder alleen hoef te voel.

Moeilik om die boom in die middel van die leefvertrek te mis, draai ek na hom en gee vir hom die nodige eerbetoon. Hy is ook al moeg en gaar, maar hier is hy nou en hy gee al weer hoop, selfs beter as wat ʼn nuwe boom sou kon.

Ons het nie van die ster vergeet nie, dit is die laaste stap. Ben het heel jaar onthou dat dit hierdie jaar sy beurt is om die ster op te sit. Abrie moet hom optel om die ster in te druk. Iewers daar onder waarsku Jan, die verantwoordelike: “Wees asseblief versigtig met die ster Ben, dis baie spesiaal en skaars.”

One Comment Add yours

  1. ❤❤❤ Daardie ster! ❤

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.