Die jaar is besig om sy laaste paar asems uit te blaas en dit kom veral voor in ʼn onverwagse hittevlaag, hande wat nie weet waar om te vat en te los nie en ʼn kop wat draai en saggies begin slapies aftel vir Kersfees. Dit is mos sosiaal aanvaarbaar om ʼn mens se Kersboom op 1 Desember op te slaan, daarom beteken dit ek sal dit eersdaags in November opslaan, net om die gemoedere te lig in die algeheel.
Kenmerkend van die einde van ʼn jaar is blink prestasies, medaljes, sertifikate en mooi rapporte. Mammas spog en die woord ‘trots’ word mildelik gebruik. Vreemd genoeg word ‘blessed’ mos misbruik, maar eintlik is die woord ‘trots’ die ‘underdog’ as dit kom by die beskrywing van ʼn kind. In meeste gevalle word daardie woord net uit sy houtkissie uitgehaal waar hy saggies in rooi fluweel lê. Voordat ‘trots’ sommer net soos ʼn goedkoop spesery in die sin gegooi word, word daar eers sorgvuldig besluit waar hierdie juweel hoort en waar dit die meeste trefkrag sal hê. Sodra die sin geuiter is, gaan trots weer houtkissie toe en moet blink lê en wag tot die volgende keer wanneer ʼn kind op ʼn verhoog klim en ʼn resitasie opsê wat by hom ingedril is.
Ek besef ek raak elke dag bietjie minder cool vir my kinders, maar terwyl ek nog vir julle semi-oulik is, wil ek graag vir julle twee manne iets sê.
Die woord prestasie beteken jy het iets behaal. Mense (alias die wêreld) koppel prestasies aan eerste gekom, die vinnigste gehardloop, die mooiste gesing of die beste punte in skoolwerk behaal. Jy kry dan ʼn papier en as daardie papier goed lyk volgens mensgemaakte standaarde, dan het jy volgens die ‘mense’ presteer.
Die ‘mense’/samelewing koppel ook die woordjie ‘trots’ aan prestasies. Byvoorbeeld: Gert jy het so goed gedoen in jou rapport, Mamma is baie trots op jou.
Julle ken julle ma nou al teen dié tyd, en aangesien ek besluit het om die Kersboom vroeër op te sit, kan ons net sowel ʼn paar ander wêreldse reëls breek, waaraan die mense so onnodig vasklou.
In ons huis is trots nie ʼn woordjie wat gebêre word vir ʼn paar keer in die jaar nie. Ons gebruik hom aanmekaar. Ek en Pappa is geensins geïnteresseerd in hoe die wêreld julle in getalle en persentasies kan meet nie, maar dit beteken nie ons is nie trots op julle nie.
Jan, jy het besluit snesies met prentjies op is belaglik en ʼn mors van geld, ek is trots op jou dat jy verder kan dink. Jy is lojaal teenoor jou maats en ʼn vredemaker, dit maak my so trots. Almal verdien ʼn maat wat vir hulle ʼn veilige plekkie skep om by te wees. Jy het vroeg al besluit die snoepie is geldmors en jy vra my net af en toe vir ʼn geldjie, dit maak my trots dat jy iets so helder kan deurdink. Jy kom krap my rug op die regte tye, asof jy gestuur is. Jy kan sien as ek bietjie aandag nodig het, jy neem jou omgewing baie sensitief waar en dit maak my so trots. Die wêreld het genoeg mense wat net stoomroller oor alles en almal, daar is ʼn leemte vir sensitiewe siele. Jy daag jouself ook nou en dan uit om iets nuuts te probeer, jy is nie bang nie, ek is trots op jou brawe hart!
Ben, jy is mal oor elke stukkie van jou dag. Vir jou is dit elke dag ʼn goeie dag om ʼn goeie dag te hê. Soos jy ouer word sal jy sien daar is nogal heelwat suur pruime daar buite wat dink almal is teen hulle. Mag jy altyd jou positiwiteit behou, dis ʼn mooi eienskap. Ek is trots op jou mooi gesindheid. Jy doen presies dit wat jy wil, of jy nou soos ʼn olifant wil skool toe gaan, of omdat jy koer oor elke baba wat jy sien en dit eintlik nie meer cool is vir 4-jariges om dit te doen nie, traak dit jou nie, want dit is die dinge wat jou tenk volmaak. Daar is nogal baie mense, selfs grootmense, wat hulle moeg maak oor wat ander van hulle dink, bly altyd jy. Jy probeer nooit inpas nie, jy kyk eerder wat pas en wat pas nie by jou nie, dit maak my trots.
Eintlik is dit vandag net ʼn doodgewone dag. Ons almal is moeg na die week se werk. Jan speel met ʼn maatjie op die tablet ‘n speletjie, Ben kyk Paw Patrol en Abrie lê uitgestrek op die bank met ʼn oop mond. En ek, hier waar ek sit, is ek ongelooflik trots.
Leave a Reply