Daar is nie tyd nie. Daar is mos nooit tyd nie. In hierdie daar-is-nie-tyd-nie ingestelde dag moet daar gepak word. Dié keer net vir myself. Ek kry eers tyd om dit te doen nadat die huis rustig is en daar na al drie manne se behoeftes omgesien is. Teen 23:30 staan my tas reg. Môreoggend staan ek 06:50 buite die huis en wag vir my lift. Ons is vier ma’s wat ons kroos en mans agterlaat en vir drie slapies net gaan ontsnap. Dit is my eerste makansie. Ek is nog ʼn beginner as dit kom by skuldgevoelens en beheer oorgee.
Vir ʼn laaste paar keer het ek weer aan die belangrikste goed gedink en dit weer herhaal wat almal moet doen. As dit nie reën die naweek nie, gee die plante water. Onthou Jan se pille. Onthou die diere se kosbakkies. Onthou eers pap eet in die oggende. Wees asseblief goed vir mekaar en moenie onnodig baklei oor nonsens nie.
Toe ons op die lughawe sit en die vliegtuie kyk wat kom en gaan met ʼn bakkie vrugte in die hand, het dit gevoel of ons nou-nou weer huis toe sal gaan. Dis mos hoe dit hoort. Gʼn wonder daar was borde in ons oumas se huise met die woorde: “wat is ʼn huis sonder ʼn moeder?” op nie. Die plek gaan in duie stort. Ek kla so maklik omdat dit voel of ek die enigste een is wat kophou, maar dit voel maar eerder of ek nou by die huis moet wees, want die ander kan nie so lekker dink nie.
Toe die vliegtuig land in die Kaap en ons deur die lang gange stap, voel dit nog steeds of ons nou-nou huis toe gaan. Hierdie is net speel-speel. Ma’s gaan mos nie alleen met vakansie nie, dis mos net verspot. Toe ons die koffie en beskuit kry vir ons huisie, dring die besef tot my deur. Ek gaan regtig alleen wakker word. Niemand het my môreoggend nodig nie. Hierdie koffie en beskuit is net vir my. Daar is nie blou pap en snackies in die trollie nie. Dis letterlik net koffie en beskuit (en water vir ʼn lastige nadors). Dis mos ʼn selfsugtige besigheid dié.
Ons huisie is mooier as wat ons kon indink en dis glad nie kindervriendelik nie, net soos ons planne vir die naweek. By geen eetplek is daar klimrame en glyplanke nie. Ons beplan ook nie om te kook nie, ons gaan uiteet as ons honger is.
Ons neem mooi foto’s van mekaar, want mans en kinders neem die alleraakligste foto’s. Ons oe en aa oor die berg wat nou sy kombers om hom het en netnou weer afgeskud het. Ons luister vir mekaar en niemand val die ander een in die rede nie. Ons sing in die kar en dit is nie Baby Shark nie.
Jy mag stadiger loop as jy wil as jy nog foto’s wil neem. Jy hoef nie ander mense aan te jaag nie, want almal maak ewe gou. Niemand kerm oor wat op hul borde is nie. Niemand vra ingewikkelde vrae nie. Vier ma’s wie se breine totaal en al geherprogrammeer word om aan hul eie behoeftes te dink. Dit is al klaar ʼn bederf, al was ons ook op Prieska!
Daar is tyd om met vreemdelinge te gesels en hulle stories te hoor en bietjie die lewe uit ‘n ander hoek te bekyk. Daar is geld in my beursie om iets onprakties te koop wat net vir my mooi is. Daar is tyd om net te sit en nie te weet wanneer jy weer moet opstaan nie.
Ons praat aanhoudend oor ons kinders, maar ons verlang hulle nie. Ons wonder wat hulle doen, maar ons is dankbaar ons is nie nou by die huis nie. ʼn Oproep is ook nie ʼn uitgerekte lang gesprek nie, dit maak die naweek net korter. Ons soek bloot net bevestiging dat ons gemis word en dat almal nog leef.
Berg, trein, kos, wyn, lag, see, wind, son, stories en vars lug het my tenk volgemaak sonder dat ek besef het my tenk is leeg en hardloop al op dampe.

Toe ek Maandagaand by die deur instap waar ek drie slapies terug uitgestap het, het ek besef hoe nodig is dit om op ʼn vol tenk te loop. Ek herhaal hierdie oefening so gou as wat my spaarvark weer vet is. Almal is gelukkig en het meer as net oorleef. Saamwees word weer waardeer, dit sou nie kon gebeur het as iemand nie bietjie ʼn draai geloop het nie.

Leave a Reply