My dankie

Geen dag is net ʼn gewone dag nie en vandag was ook nie ʼn uitsondering nie. Met die opstaanslag mag die hele aksie van pap maak, kosblik pak en Covid-briefie regsit so bietjie voel soos iets wat vooraf geprogrammeer is, maar soos die res van die dag uitspeel, kom die dinge wat net eie is aan vandag.

Photo by Lum3n on Pexels.com

Elke gesprek in die kar op pad skool toe is anders. Soms luister ek na ʼn 7-jarige ensiklopedie wat my inlig van die vinnigste akkedisse wat net in Namibië bly en dat bitter mense hulle kan sien, juis omdat hulle so blitsig is. Ander dae heers daar ʼn effe van ʼn atmosfeer omdat ek myself te veel moes herhaal en blykbaar luister hulle die eerste keer, maar besluit net om die aksie op ʼn later stadium uit te voer. Soms gesels oor die mooi sonsopkoms, ander dae moet ek vrae beantwoord van hoekom daar so baie arm mense is langs die straat en hoekom hulle nie wil werk nie. Vanoggend was weer ʼn stillerige oggend, ek het half skuldig gevoel dat ek kan volg wat op die radio gesê word.

Na ons melodramatiese huiswerksessie was ek en die dierbare Graad 1 getap en uitgemergel. Ek het sit en staar na die tuin en gekyk hoe die vink vir die hoeveelste keer die nes plunder wat haar man vir haar met sorg gebou het. Jan het op sy fiets geklim en net ʼn ent gaan ry, sonder om te groet. Ek mag nie die somme vir hom op ʼn ander manier verduidelik nie, want dan is dit nie reg nie en dan breek ons die reëls.

Ek mag ook nie spelwoorde te veel herhaal sodat hy dit mooi kan hoor nie, want dan irriteer ek hom. Vir die volgende paar jaar is dit ek en hy en die boeke en ek besef met ʼn kind wat aandagafleibaar is, gaan die pad vorentoe nie soos ʼn glyplank in ʼn swembad vloei nie. Ek het hom gestuur om sy neus te blaas terwyl ons gesit en lees het, net om hom 15 minute later te kry waar hy op die badkamervloer sit, besig om die laaste bietjie toiletpapier op die rolletjie uit te kerf sodat dit ʼn klein kunswerkie kan wees. Ek sien ʼn groot kind in my geestesoog wat lê en droom op sy bed en vir my sê sy huiswerk is amper klaar, terwyl al sy boeke nog in sy tas is.

Terwyl ek verder die ongeskikte vink dophou wat nog steeds vermakerig die nes uitpluk, ten aanskoue van die mannetjie, wat ewe gedweë maar weer by stap een moet begin, wonder ek hoe ek dit gaan doen as daar nog ʼn siel saam met my aan die eetkamertafel sit en huiswerk doen. Ek besef ek gaan weer om hierdie selfde berg loop. Ek gaan twee keer om elke berg loop. Ek weet nie hoe doen ander ma’s dit nie, dis dalk maklik, net soos wat partytjies met ballonkransies en Pinterest-koeke ook vir hulle is.

Dit klink eintlik half te pateties om daaroor moedeloos te voel. Ek kan nie onthou dat my ma so gesukkel het nie, dalk weet ek net nie, dalk het sy ook party dae op moedverloor se vlakte gesit en gewonder wat op aarde van my gaan word.

Met die son aan die agterkant van die huis en die laaste strale wat deur die kombuisvenster loer, besef ek die dag is genadiglik verby en ek kan môre weer ligter en beter voel.

‘Dae soos hierdie moet net verby kom, sodat dit kan plek maak vir die beter dae’, dink ek by myself.

Vars gebad, splinternuwe jamies, Bybelstorie en tyd vir bid. Ben bid iets vlugtig en eindig af met ʼn groot dankbare hart vir Hennie (wat nie eens sy hond is of van hom hou nie). Jan het ook iets op die hart en trek los met ʼn string goed waarvoor hy dankbaar is. Hy rammel nie sy lysie af nie, ek kan hoor daar is ʼn dankbare hart agter elke ding wat hy opnoem. Hy is bly dat ons ʼn aarde het, hy sê dankie dat ons almal verskillend is, hy sê dankie dat Mietsie (die kat) twee jaar terug by ons beland het en nie meer ʼn weggooi katjie is nie. Hy sê dankie dat ons ʼn gesin kan wees, dankie dat Hennie in sy lewe is en al wat hy vra, na al die dankies, is dat Mietsie nooit weer moet voel dat sy weggegooi is nie.

Ek trek die deur toe en sit sy lig af. Ek besef ek het my weer bekommer oor stront vandag. Alles sal regkom. Net soos wat ons in die Bybelstorie gelees het vanaand. God sorg vir veldblomme en voëltjies en hulle bekommer hulle hoef hul nie oor môre te bekommer nie, daar sal kos wees.

Ek moet weer gaan sit en my seëninge tel en dankie sê soos Jan, dit laat alle ander bekommernisse asvaal lyk.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.