Dra dominees pajamas

Mense is net mense. Of hulle nou dink hulle is belangriker as ander, of hulle dien of nie. Ons almal is net mense. Ons val. Ons kry seer. Ons staan op. Ons lag. Ons onthou. Ons verlang. Ons droom. En om die heel beste uit hierdie tyd op aarde te neem, is om in dankbaarheid te staan vir wat ek het, nou voor my. Ek het nie te min nie, ek het ook nie te veel nie, net genoeg vir elke dag. My liewe vriendin in Bloemfontein het hierdie stuk geskryf oor ons mense.

Photo by MART PRODUCTION on Pexels.com

Deur Ilne Fourie

Liewe Jesus

Onthou U toe ek nog klein was?

Hoe ons Vrydae by oom Spiros se kafee videospeletjies soos Street Fighter en Contra kon speel vir 50c. Pacman was goedkoper, dit was 20c. Jy moes gou spring, want die groot kinders mag eerste gespeel het en die ryk kinders het sommer ‘n R5 ingegooi en die hele middag die masjien geannekseer.

Onthou U hoe het ons laken-tente in die agterplaas gebou en sommer daar geslaap, met ñ oop agterdeur vir die bangbroeke (waarvan ek een was) wat die volgende oggend probeer om weer terug in jou slaapsak te kruip sonder dat die ander agterkom jy het by jou ma geslaap.

Onthou U daai koppie agter die karavaanpark? Dit was die hoofkwartiere van ons eerste bende – Die Swartkat bende. Ons het skelm vuur gemaak met Johan se pa se vuurhoutjies wat hy gegaps het en wors probeer braai. Onsuksesvol. En die dorpswembad met die hoogste duikplank in die wêreld waar net die Hoërskoolseuns en ‘n paar windgat standerd 5’e afgespring het. R12 toegang vir die hele dag.

Ons het aande om in die strate gespeel, ruite uitgeskop, blombeddings verwoes, garage parties gehou, spookstories vertel, straatbraaie gehou, spin-the-bottle gespeel, toktokkie…

Ons het een aand stry gekry – ons wou weet of die Dominee in sy kerkpak ook slaap. Ons het klippe op sy dak gegooi om te kyk of hy met sy pajamas gaan uitkom. Hy het nie. Ons het nooit vir Dominee in sy pajamas gesien nie.

Onthou U die dag toe ek wou kyk hoe oud die groot denneboom voor ons huis was? Ek wou sy ringe tel en het ‘n diep keep in die stam uitgekerf met ‘n klip. Ek het ‘n hengse pakslae gekry en pappa het vir my gewys dat ‘n boom kan huil. Die sap het soos trane oor sy bas gedrup.

Pappa. Die dag toe U hom kom haal het. Iewers in my kop het ek geglo net siek mense gaan dood. Siek mense en ou mense. Dit is hoe mense mos doodgaan.

Maar iewers in hierdie 20 jaar het die wêreld skeef gedraai. Mense laai nou pornografie af vir 50c. Kinders slaap agter slot en grendel. Krane loop leeg, want daar is nie water nie of die geld word gesteel. Bendes brand winkels af en moor en verkrag. Spookstories word vervang deur stories oor moorde en aanvalle, kapings, ontvoerings en inbrake. Die Amasone brand en die bome huil. Vrouens gaan dood. Kinders. So baie kinders….

Dominee het altyd gesê: “God slaap nie…” maar miskien is U moeg. Moeg om te kyk hoe U kinders mors en moor. Miskien het U besluit genoeg is genoeg. Miskien het U die hemelhekke toegesluit en vir ‘n paar jaar op u sy gedraai en u kop neergelê en gaan slaap. En dit is okay. Ek verstaan.

Maar Here ek gooi vandag ‘n klippie in die lug op. Ek gooi hom hoog. Tot op U dak… Om te sê kom uit, staan op, want ons is bang. Ons is alleen. En ons is jammer. Oor alles wat ons gedoen het wat die wêreld so skeef laat draai het.

Ps. Dra Dominees pajamas? Ek het nog altyd gewonder.

Amen

3 responses to “Dra dominees pajamas”

  1. Aan Ilne… ja, dominees dra pajamas😉

    Like

  2. So kosbaar. So waar. So hartseer. Die realiteit is erg.

    Like

  3. Dit is ongelooflik mooi geskryf, so waar, so eg. Dankie vir die deel hiervan🌻🌻

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: