Die sewende dag

So op die vooraand van die nuwe week wat voor my lê, dink ek sommer terug aan die bedrywige week wat agter my lê. Dit was net sewe dae, nie veel in vergelyking met ʼn maand of selfs ʼn jaar nie. Die oomblikke wat nie deel vorm van mooi herinnering en in my onthou-blik hoort nie, is reeds vergete en die mooi oomblikke is soos skermgrepe uit ʼn fliek en lê netjies bo-op mekaar.

Tussen deur frustrasies, min tyd en ʼn seer kop omdat ek probeer reg eet voor ek in ʼn swembroek moet pas, was daar lang gesprekke met Jan. Gesprekke waarvoor ek nie noodwendig baie lus was nie, maar wat my gedwing het om vir ʼn paar keer dié week stil te sit en weer my albasters in ʼn ry te kry, want die kind het my leiding nodig. Woensdagaand, onder andere, wou hy by my weet wat kanker is, terwyl hy en al sy teddies en hond vir my sit en kyk met ronde oë opsoek na antwoorde.

Op die mees verteerbare manier het ek my basiese kennis van kanker aan hom oorgedra. Natuurlik is dit nooit net een vraag nie, “wat is kanker?” is slegs die inleiding tot ʼn baie diep gesprek en gewoonlik eindig ons op by die hiernamaals. Lang storie kort, ek moes verduidelik dat dit die chemoterapie was wat gemaak het dat Ouma se hare uitgeval het en dat die dokters daarna nog wou seker maak die kanker regtig weg is en haar nog gestuur het vir bestraling ook. Hy wou weet hoekom is haar tietie dan af.

Ek moes verduidelik dat dit die heel eerste ding is wat die dokter wou doen om van die grootste nare deel van die kanker ontslae te raak. Hy wou ook weet of Ouma se tietie weer gaan aangroei en toe hy hoor die antwoord is ‘nee’, het die trane geloop. Die jammers het van sy wange afgerol en hy was baie ontsteld dat Ouma nou net met een tietie deur die lewe moet gaan. Met moeite kon ek hom kry dat hy aan die slaap raak en dadelik was my irritasies eers opsy geskuif en het dit plek gemaak vir dankbaarheid dat my liewe ma nog lewe.

Ben het die week mangelontsteking gehad en was maar knieserig aan die begin van die week. Toe hy Maandagaand op my skoot kom klim toe ek en Abrie voor die TV sit, was hy baie haastig dat ek by hom moet kom lê. Baie vies dat ek my alleentyd, waar ek net bietjie kan sit sonder om te dink moet opdeel, tel ek hom op my skoot en sê hy moet net ʼn rukkie wag. Toe die bekende wysie begin speel en die storie klaar is, was ek eintlik lus vir nog ʼn episode, maar klein poffervingers het my gesig beetgekry en vir my gesê: “kom lê nou by my, genoeg skermtyd vir jou”. Die irritasie wat ʼn rukkie terug by my opgestoot het, het plek gemaak vir dankbaarheid vir ʼn bekkige Ben wat ʼn sin vir humor het.

Die ander skermgreep van die week wat my bybly is ʼn baie gawe bedelaar wat my vreeslik entoesiasties groet. Ek het nooit kontant by my nie en het nog nooit vir hom iets gegee nie, eintlik hoef hy nie gaaf te wees nie, maar hy wil, al weet hy, hy kry niks terug nie.

Ek het weer mense, vir wie ek lief is, na ʼn lang ruk gesien en die lag en gesels is nie as vanselfsprekend aanvaar nie, dit gaan alles onthou-blik toe.

Teen dag sewe het ek besef ek raak honger vir die onthou-oomblikke en dat my vergeet-oomblikke heeltemal uit fokus geraak het.

Ek het weereens besef dat geld nie geluk kan koop nie, aardse goed is nie hou-goed nie, mensgemaakte titels is sommer verspot en onbenullig en as iets my vrede kos, is dit te duur.

Met ʼn dankbare hart vir dit wat ek het en dit wat ander om my bereik, is daar nie plek vir afguns nie, net ʼn nederige dankbaarheid dat daar vir my ook ʼn plek is onder die son en dat ek mooi oomblikke saam met my kan neem en versamel tot my onthou-blik se deksel nie meer wil toe nie.

Photo by Hendrik B on Pexels.com

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.