Ek het bitter min chroniese klakouse in my lewe, ek kan net soveel keer simpatiseer met dieselfde ding tot ek later begin wonder na ʼn paar jaar, wanneer gaan Sus nou iets aan haar saligheid begin doen. As dit makliker is om heeltyd in sirkels in die sop te dryf, wil sy seker nie uit die pot klim en wegvlieg nie.
Die min mense wat ek wel naby aan my toelaat het loshande die Jannie-jammerbal toets geslaag. By hierdie liewe goed kan ek leer. Ons tel mekaar op en as die seer te groot raak om alleen te dra, help ons mekaar om dit stukkie vir stukkie saam op te eet. Om van ʼn swaarmoedigheid ontslae te raak is gewoonlik nie ʼn baie dramatiese gedoente nie. Dit gaan gepaard met lag en sagte hande wat my boot weer in die regte rigting stoot. Ek voel soms skuldig omdat ek gelykmatig en gelukkig voel, maar dan onthou ek, dis omdat ek sulke wonderlike steunpilare het wat almal om die beurt my onwetend in die lug hou.
My blou-oog vriendin, maak die mooiste herinneringe saam met haar kinders in hul nuwe nes. Sy het ʼn groot nuwe Kersboom gekoop en het ʼn wilsbesluit geneem om vorentoe net op die mooi te fokus. Voor hulle by die deur uitgaan soggens, besluit dié drie dat dit ʼn lekker dag gaan wees en dat hulle die beste gaan maak van alles wat hulle aanpak. Ten spyte van verraad het sy ʼn hart wat vergewe en knieë wat sy afbid vir almal wat gejaag word deur die swart honde.
My groen-oog vriendin het ʼn werk wat baie van haar vereis, maar sy skuif dit altyd opsy, want dit is vir haar belangriker om te weet hoe dit met ander gaan. Om tye haarfyn te beplan om al die aktiwiteite van die kinders in te pas, ʼn vinnige koffie saam met my en ‘n hele klomp ander vir wie sy tyd maak, het sy goed bemeester. Sy is baie slim, maar sy laat voel ander slimmer. Sy leer my dat vriendelikheid gratis is, maar dat mense dit nie as ʼn swakheid moet sien en mens daarvoor moet misbruik nie.
My ander groen-oog vriendin bly ver. Sy bly saam met haar skaap op ʼn plot en lewe vir ʼn goeie grap. Eenvoudige dinge word gedramatiseer en ernstige en hartseer goed meng sy bietjie met gin en tonic. Die punt is, ons lag altyd. Sy het ʼn geheue soos ʼn olifant en kan gesprekke herroep van toe ons nog saam op universiteit was. ʼn Pap wiel of ʼn bankrekening wat nagmerries veroorsaak, moet maar wag, sy het ʼn snaakse storie om te vertel en gaan dit uitrek dat jy vir minstens ʼn uur lê en krul van die lag.
Die bruinerige, groenerige-oog vriendin het uitdagings met haar kind van sy geboorte af. Sy het nie spesiale kragte gekry om met al die doktersafsprake en bekommernisse af te reken nie. Dit kon net sowel ek gewees het wat in haar skoene gestaan het. Nietemin, lag sy, trek mooi aan, ruik lekker, stel belang en vertel ʼn lekker storie. Sy is gaaf met almal, selfs al verdien hulle dit nie.
My ma het haar man verloor, ons mooi pa. Sy is al vir nege jaar eensaam. Wat ʼn belaglik woord: eensaam. Jy is saam met een. Sy het haar borskankerpaadjie alleen geloop, sy kook sop vir arm kindertjies, sy woeker by die basaar, kuier by die susters, hekel, werk vleis en gaan steeds Woensdae dorp toe, want dis dorp-dag.
Dit sal lekker wees om weer in die kerk te kan sit as ons eendag weer mag, maar intussen het ek ʼn nuwe kerk gevind tussen mense. Mense wat eg en onopgesmuk is, aardse goed skeel hulle min, jou adres en titel tel nie in die minste nie. Die belangrikste vir hulle is dat jy jouself sal wees sodat mens ʼn pad saam kan loop.
Deur vir my ʼn kruk te wees, het hulle gemaak dat ek net so graag ook een wil wees.

Leave a Reply