Tyd om oor te gee

Op die oog af lyk ek dalk of ek geen beheer het nie, maar ek het tot ʼn mate en dit laat voel my veilig. Vreemd dat grootmense ook die behoefte het om geborge en veilig te voel, maar dis maar soos my kop werk.

Om lysies te maak gee struktuur, struktuur is die boustene van my dag en sonder dit tuimel alles inmekaar. Alles het ʼn tydgleuf. Daar is ʼn tyd om te werk, ʼn tyd om grappies te maak, ʼn tyd om huiswerk te doen en rond te ry vir buitemuurse aktiwiteite, daar is ʼn tyd vir lees, ʼn tyd vir koffie drink, ʼn tyd vir eet, ʼn tyd om vinnig winkel toe te ry om ʼn paar van die dinge op die lysie dood te kan trek. As al my dinge wat ek moes doen in ʼn dag in hul tydgleuwe ingepas het en my lysie vol regmerkies is, voel ek goed en kan ek gaan slaap met ʼn skoon gewete.

As die tydgleuwe begin oorvleuel en begin bots, dan voel my kop soos ʼn kas met oop deure en klomp klere wat uitpeul.

Om op ʼn Saterdagoggend te kan slaap tot ek wakker word is een van my gunsteling dinge en iets om na uit te sien, die stil vreedsame oomblik wanneer ek voor die televisie saans kan gaan plak is broodnodig, bewaar die kind se siel wat dan by die trappe afkom en sê: “ek kan nie lekker slaap nie” of op my kom spring en kliphard sê: “môre Mamma”– my appelkar val net daar om.

Kinders wat eweskielik iets nodig het vir die volgende dag, melk wat oornag opgeraak het, iemand wat dringend verkoue medisyne kort of ʼn hond wat nog net een bakkie pille oor het, kan nogal ʼn program omver gooi, maar daarvoor laat ek ook gewoonlik bietjie ruimte en probeer altyd vooruit beplan, juis sodat ek nie onkant betrap word nie.

Ek is gewoond aan ʼn appelkar wat omval, ek tel maar net weer die appels een vir een op en beweeg aan, dis nie nodig om na drank te gryp omdat ʼn kind nie kan slaap nie of omdat ʼn man eweskielik 22:00 die aand knorrig is omdat daar nie iets lekkers is om aan te peusel nie.

Wat my wel nogal uit die veld slaan en my tenk tot barstens toe kan volmaak, is wanneer daar 180˚ afgewyk word van ʼn taak. As ek besig is om kos te maak en ʼn kind kerm oor pannekoek of as ek met een van die skool af kom en hulle MOET nou by ʼn winkel stop om ʼn baie spesifieke sjokolade te kry wat blykbaar net by ʼn sekere slaghuis is, wat ook natuurlik nie op ons roete huis toe is nie. Die verduideliking vir die liefste ogies wat met soveel afwagting sit, is dreinerend. Om gemiddeld 6 keer ʼn dag aan iemand in die gesin te verduidelik: “ons kan nie nou nie, want…” ruk al die struktuur en lysies uit my seile en ek is opslag moeg.

Gister was geen uitsondering om af te wyk van ons normale daaglikse roetine nie. Terwyl ek staan en kosmaak, besluit Ben teen 17:30 dat Mientjie (ʼn 12-jarige chihuahua) vandag verjaar en sy kort ʼn behoorlike opskop. Die gesprek raak so hewig dat hy later met Abrie op die foon gesels en hom smeek vir ballonne, koek en tjips wat brand. O en die tema is streng uitgelig: dinosourus. In my stilligheid hoop ek Abrie vergeet sodat die kinders nie na aandete ʼn bohaai moet opskop met ʼn hondepartyjie nie, want dan is dit weer ʼn gesukkel om hulle rustig te kry om te gaan slaap.

Ons het wel na aandete vir Mientjie, wat baie onwillig moes deelneem, ʼn partytjie gehou en gesing. Dit was nie beplan nie en niemand het iets oorgekom daarvan nie. Die kinders is ʼn rukkie later bed toe, maar met tevrede harte, want ons kon Mientjie se lewe vier.

Ek sê gereeld vir Abrie ek raak soms moeg, want dit voel of ek almal in die huis moet voorsê en ‘manage’ sodat dinge kan gebeur. As ek beheer verloor oor dinge, is als uit beheer: pille word vergeet, klere word vergeet, die lys gaan aan.

Miskien is beheer ‘verloor’ nie die regte siening nie. Miskien moet ek eerder beheer oorgee, want tussen die boksies en die vooropgestelde lysies is daar heilige oomblikke wat verewig word in foto’s en mooi herinneringe.

Sien video van arme Mientjie wat geskud word:

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.