Wat van môre?

Toe ek in 2013 gehoor het ons verwag ʼn seuntjie, het ek en Abrie albei aangeneem dit gaan ʼn rowwe affêre wees. Vuil rugbytruie, vuil gesigte, klomp seuntjies wat kom speel en mekaar beetkry op die gras en kragte meet.

Ons is nie juis sportief nie en het maar besluit as die kind in sport belangstel sal ons staan en skree langs die veld, maar ons weet nie juis hoe om dit van kleins af aan te hits nie. Nodeloos om te sê nie Jan of Ben kry juis rugbyballe of krieketkolwe vir ʼn Kersfees of ʼn verjaarsdag nie. Nie omdat ons dink sport is onnodig nie, allermins. Ons is net nie kompeterend nie, so ons doen nie moeite om die reëls te verstaan van die verskillende sportsoorte nie. Op ʼn Saterdag as ons by vriende gaan braai sal ons toevallig uitvind daar is rugby aan die gang. Dit pas my, want dan kan ek die bak tjips oppas.

Ben kan nogal ʼn bevlieging kry en allerhande goed in die lug gooi en kyk of hy dit in ʼn boom kan laat vassit. Die enigste ronde goed wat Jan se aandag trek is die maan en sterre. Soos die twee seuns ouer word leer ek so baie van seuns wat ek nie geweet het toe ek hulle ouderdom was nie. Seuns het empatie, hulle raak bekommerd, hulle raak ook angstig, hulle kan ook wonder oor ʼn maatjie by die skool wat heeltyd brandwoorde gebruik en hulle kan ook meegevoer raak. Ek was altyd van gedagte sagter, emosievolle dinge lê by meisies en vrouens.

Jan se tweede voortand het hy vanoggend uitgewikkel voor skool, nou is daar al twee tande wat in die plastiek sakkie lê en wag vir die tandemuis. Die tandemuis kom slegs as ek hom laat weet het dat Jan vir hom ʼn brief geskryf het. Hy geniet ʼn leesstukkie en voel darem of iemand nog waardering vir sy edele beroep het. Tyd het ons vanmiddag bietjie ingehaal, so om ʼn brief te skryf is oorgedra na môre se lysie.

Vanaand karring Ben by die tandemuis se deurtjie, wat in sy kamer is en toe Jan op hom afkom, wil hy weet hoekom hy daar peuter. “Nee”, keer Ben. “Ek wil vir die muis ʼn geldjie los, want ek kry hom jammer.” “Ja, die muis kry baie swaar Jantjie”, val ek toe sommer in. “Hy het nie geld vir bederfies nie.” Jan is toe heel uit die veld geslaan en wou weet hoe werk dit dat die muis arm is. Hy bring dan blou geldjies vir tande. “Nee maar onthou, dit is wat sy baas vir hom gee om vir die tande te betaal. Dit is nie geld wat hy in sy sak kan steek nie, hy moet die geld gebruik om mooi tande mee te koop”, is my antwoord.

Ek staan met my rug na Jan en grawe in Ben se laai, wat nooit netjies is nie. Ek draai om toe ek ʼn snik hoor en kyk vas in ʼn Jantjie met trane wat rol oor sy wange en ʼn lippie wat bewe. “Ek wil nie hê hy moet arm wees nie. Hy moenie meer blou geld bring nie. Sê dit vir hom! Bel hom en sê vir hom ek soek nie sy geld nie en hy moet vir niemand op aarde meer betaal nie, sodat hy net ʼn roomys kan gaan eet.”

Ek druk hom styf vas en troos, maar my wikkel hom weer los en maak doodseker dat ek wel sal kontak maak met die muis en hom mooi moet verduidelik dat hy moet ophou geld uitgee en eerder na homself moet begin omsien.

My keel raak ook eweskielik dik en my oë nat. Ek dink aan hierdie muis wat nog nooit die binnekant van ʼn Wimpy gesien het nie en wat nie weet hoe dit voel om vir jou naar te eet aan ʼn wafel nie. Ek sien hoe hardloop Jan se gedagtes terwyl ek hulle bad. Hierdie onderwerp is nog nie afgesluit nie. “Mamma, ek gaan vir hom twee, nee drie blou geldjies gee.” “Okei Jantjie, dis mooi van jou, hy werk so hard. Dalk kan hy vir hom ʼn nuwe baadjie koop.”

Ek vee sy trane met die waslap af en voor hom sit sy klein broertjie wat wil ophou eet sodat hy kan doodgaan en hemel toe gaan en by Jesus uitkom, sodat hy direk met hom kan praat en vir hom vra om vir ons nie een nie, maar twee babas te gee (een vir Ben en een vir my).

Ek giggel lekker vir deesdae se jongmense wat ‘LOL’ en ‘YOLO’ en klomp ander vreemde akronieme gebruik. Soms wonder ek hoe die nuwe generasie sal kan oorleef in hierdie harde wêreld en of hulle groot besluite sal kan neem en hul man sal kan staan.

Maar met liefde en empatie het hulle al baie meer vermag as meeste grootmense en dit maak my opgewonde oor ‘n blink toekoms.

2 Comments Add yours

  1. Dis so ‘n pragtige vertelling! Daar by julle is ‘n tandemuis. Hier by ons is daar ‘n “tooth fairy”, maar om ouma se Afrikaanse taalstryd te akkommodeer, ry die feetjie op ‘n tandemuis 😉

    Like

  2. VirgoC says:

    Pragtig geskryf. Hoe wonderlik om sulke empatie te hoor van iemand so jonk🌻

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.