‘n Haas, ‘n kat en Ben

Ek het Sondagaand voor badtyd so gewens vir ʼn rukkie stilte. Ek wou myself in die middel van die chaos toemaak in ʼn kokon en net onsigbaar wees. Die geluide en vrae het my tenk vir die dag vol gemaak en ek sit en hou die tyd dop om die rawe te gaan bad. Ben kom toe na my toe en voor hy sy mond kon oopmaak om sy storie te vertel, sê ek vir hom: “Bennie, gee my net ʼn paar minute om bietjie alleen te wees. Ek gaan julle amper gaan bad dan gesels ons weer lekker.” Waarop Ben, sonder om te huiwer, reageer: “Maar Mamma, ek en jy is vriende, ek gaan jou nooit ooit los nie.” En hy klim met sy 4-jarige lyfie teen my op en houvas my vir baie lank en druk my styf. Met ʼn titsel irritasie en waardering druk ek die bekkige kind vas en soen hom.

Gister trek ek gou by die garage uit op pad kwekery toe. My kar ken al die paadjie wat ons twee so gereeld op en af ry. Voordat ek in drive sit, moet die regte liedjie speel wat ek op daardie tydstip nodig het. Deesdae is Jo Black se ‘Rig jou oë op na die berge’ ʼn treffer wat gof geluister word. Ek moet inderhaas plante gaan koop want my vrylopende haas is besig om my buurvrou se humeur te toets. Spinasie, blomme, plante, alles verdwyn voor Frieda se kake. Vir een of ander obskure rede het sy die buurvrou se bont tuintjie in haar visier en nie haar eienaar se tuin nie. Ek het gehoop sy sou al aanbeweeg en ʼn veldhasie word, maar helaas, sy is nou gefokus op een huis se tuin en maak dit haar missie om elke plant op te vreet.

Na die uitstappie, kom sit ek blomme en ʼn windpomp voor haar hek om jammer te sê, met ʼn kaartjie met al die tipiese ‘jammer-sê’ bewoording in.    

Vanoggend trek ek by die garage uit op pad dorp toe. Kies my liedjie. Sit in drive. Swart knoppie om die garage toe te maak, sit in drive, groen knoppie om by die kompleks se hek uit te kom, venster kom ʼn bietjie af sodat ek my pypie kan rook en die musiek moet ook harder. Ek jaag nie, alhoewel ek seker vreeslik windgat moet lyk in die kar wat eintlik Abrie se keuse was.

Met ʼn gemiddeld van 50 km/p/h hou ek by my spoed tussendeur die huise. Jo Black is hard aan die werk om my in die regte bestemming te kry vir die dag en ek voel nogal vandag het potensiaal. Daar is nuwe moontlikhede, dinge om na uit te sien en dit maak my opgewonde. Ek is dankbaar vir dit wat ek het en wat ek kan doen daarmee. Om alleen in die kar te wees is vir my ʼn heilige oomblik. My musiek, my gedagtes en stilte. Stilte is goud werd as mens kinders het. Ek hoef nou niks te verduidelik of aan antwoorde te dink nie, ek hoef ook nie vir 88ste keer te vra dat dwalende vingertjies die knoppies moet uitlos nie.

Links langs die pad sit ‘n swart en wit kat wat lyk of hy wag dat ek verby ry. Eweskielik toe my kar voor hom is, besluit hy om ʼn kans te vat en maak sy lyf plat en hardloop vinnig om oor die pad te kom. In ʼn oogwink voel ek hoe kap iets hards onder die wiele en die kar ry net gemaklik aan. In my truspieëltjie sien ek hoe die kat sukkel om te loop. Ek draai links en ry om die blok om weer by die kat uit te kom om te sien wat die skade is. Teen die tyd wat ek by hom gekom het, was sy lyf stil. Ogies nog oop. Ek bel toe dadelik vir Abrie en vra hoe maak mens as mens ʼn dier doodgery het en hy sê toe ek kan maar aanry, hy sal kom help.

Heeldag spook die kat by my. Die kat was iemand se dier. Sy pillebakkie gaan nou gebêre moet word. ʼn Huis se daaglikse roetine gaan nou anders wees en leër wees. Nog erger, dalk is daar kinders wat vanaand slegte nuus aan tafel moet kry. Trane gaan loop vandag en dit is alles my skuld. Ek het net Jo Black geluister en toe ek weer sien verwoes ek ʼn huishouding. Intussen het Abrie met die vrou gaan kennis maak en haar kat gevat om veras te word.

Na my dorpdraaie en afspraak vat ek blomme en lekkers na die huis waar die kat gewoon het, die grootste cliché vir ‘jammer-sê’ in die boek. ʼn Vrou met nat wange maak die voordeur oop, gevolg deur ʼn lang seun. Dit was die Gr. 11 seun se kat. “Nice”, dink ek by myself, tieners het alreeds issues en nou is ek ook nog ʼn bydrae tot dit. Dalk gaan kwartaal 3 ʼn vrot rapport wees omdat die tannie sy kat doodgery het.

“Haai, dit was ek. Ek is jammer. Ek is so so jammer.” Ek prop die blomme en lekkers in die vrou se hand en luister vir ʼn lang ruk na die kat se gewoontes en hoe stil hulle huis nou is en dat nog nie almal in die gesin dit weet nie. Dit sal haar 6-jarige se eerste keer wees wat hy met die dood gekonfronteer word.

Ek belowe om vir haar ʼn nuwe kat te soek en vat haar nommer.

Ek dink sommer vanaand aan Sondagaand toe ek so bitter graag net ʼn paar minute alleen wou wees en Ben geweier het om my wens waar te maak. Hy het eenvoudig op my geklim en geklou asof ons twee aanmekaar gegom is. Met badtyd vanaand, toe ek hom afdroog, sê hy weer vir my: “Onthou Mamma, jy is my vriend, moenie dit vergeet nie.”

My 4-jarige vriend, wat toevallig ook my kind is, het my net weer kom herinner dat ons moet kyk na mekaar. Om alleen te wees is eintlik nie so lekker nie. Verlies is aaklig. Jammer-sê is moeilik, want dit maak niks beter nie, maar dis dinge wat gedoen moet word. Volgende keer as my tenk weer oorvol is en Ben kom klim op my vir drukkies, moet ek dit nog langer geniet, want drukkies en tyd maak moeë harte vol en vol tenke weer leeg.

2 Comments Add yours

  1. Ag foeitog, dit was nou ‘n ramp – en jy was baie dapper om met die mense te gaan praat ❤

    Like

  2. VirgoC says:

    Jammer dit het gebeur, voel soos Frannie, dit was braaf en ‘n pragtige gebaar om hulle te gaan sien . Bly jou “vrien” in jou hoek, dierbaar🌻

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.