Die volgende dag

As kind, as my ma-hulle gou iewers gaan kuier het, en ek wou nie saam nie, het ek later eintlik so bietjie spyt begin kry. Ek het snaakse geluide begin hoor en my die gruwelikste goed begin verbeel. Alhoewel dit veilig was en die kombuisdeur altyd oop gestaan het, was ek vas oortuig dat iets in die gang vir my wag. As my nood later buite beheer was en ek nie meer kon hou nie, het ek ‘Soos ʼn Wildsbok’ luidkeels gesing tot ek weer in die televisiekamer was. Net om hardop te kon sing dat ek alleen en bang is en afhanklik van God is, het my getroos en darem weer weg van die gang gekry.

Photo by Teona Swift on Pexels.com

Op universiteit, as die koshuisgang te lank en te donker begin raak het, het ek maar weer ʼn vers of twee uitgepak om minder alleen te voel. In vergelyking met die vrese en bekommernisse van destyds, is hulle nou eintlik oulike klein sagte speelgoed, teenoor die monsters wat almal nou in die gesig staar.

Na gister se ellendige nuus, het dit vir my gevoel of ek nie arms of bene het nie. Hoe moet ek dink wat om te gaar te maak vir aandete as mense daar buite moor en roof. Hoe moet ek kalm bly vir my seuns, wat van absoluut niks weet nie. Hoe gaan mens van nou af net vorentoe en bou weer voort, net om die volgende plundering in die gesig te staar. Binne ons vakuum moet speelgoed opgetel word, maniere moet geleer word, roetine moet gevolg word en die dag moet afgeëindig word met Bybel en ʼn storie.

Vanoggend, na ‘n onrustige slaap, skyn die son weer. Dit is ʼn nuwe dag. Niks het tot stilstand gekom nie. Ek skuif weer voor die rekenaar in om te begin met die dag se werk. Die koffie proe nog dieselfde, die kinders lag, Hennie jaag die bal, die hadidas kom sit op die gras en die kat sit op die dak. ʼn Doodgewone Dinsdagoggend.

Ek weet nie mooi wat my te doen staan om deel te wees van die positiewe draai wat so broodnodig is nie, want ek is dan so mismoedig en voel bang. Die inkopielysie word al hoe langer, maar ek sien nog nie kans om in die kar te klim nie. Kort-kort onthou ek nog iets, “o, ja Weetbix”……”o,ja stroop”…..”o,ja hondepille”.

Na middagete, sit ek my rekenaar af en vra die kinders waarvoor is hulle nou lus. Gewoonlik wil niemand met my speel nie en spat dan in rigtings en kry hulle baie vinnig iets om te doen, want ek is gewoonlik baie lus om puzzle te bou of om woordjies te oefen. Jan stem toe in om bietjie parkie toe te stap, Ben wou nie saam nie, hy kry te koud.

Soos ons stap, praat Jan een skoot deur en ek luister met ʼn halwe oor. My gedagtes is by visums, ander lande en oop groen velde met gawe bokkies wat rondhuppel. So nou en dan hoor ek iets van ʼn cool kar wat hy gaan koop of ʼn nuwe toertjie wat hy wil oefen met sy fiets.

By die parkie, sit Jan sy fiets neer en mik dadelik vir die trampoline. So deur die spring, praat hy een stryk deur. Ek vra hom later om net so bietjie op my skoot te kom sit soos ʼn baba. Sy hare ruik lekker en die boonste voortand is al lekker los. Hy kyk na alles om hom en sê vir my hy wil ook eendag so ʼn groot trampoline in sy tuin hê. Die hele tuin moet soos ʼn ‘jungle’ lyk en daar moet baie toue wees waaraan almal kan swaai. Hy weet nou al hy soek drie honde, maar hy is nog onseker oor hul name. Hy soek ʼn ‘massive’ huis met baie watervalle en ʼn zipline.

Ek soen sy sagte wang en besef hierdie kind kyk met ander oë na die wêreld. Hy sien ʼn toekoms. Hy het wraggies hoop. Ek kan nie my kop om dit kry nie en ek kan nie verstaan hoe ʼn jong generasie eendag hier hul drome kan uitleef nie, maar ek kyk met ʼn realistiese ‘grootmens’-bril.

Alles is net eenvoudiger vir ʼn 7-jarige. Alles is moontlik en maklik. So terwyl ek ‘Soos ʼn Wildsbok’ sing in my stilligheid, droom ek saam van ʼn nuwe ʼn groep mense wat eendag deel, gee en koester. Al wat ek kan doen is om my kinders veilig te laat voel nou, sodat hulle nie eendag kwaai grootmense is nie.

3 Comments Add yours

  1. …en dit is meer as genoeg!

    Liked by 1 person

  2. VirgoC says:

    Jy laat mens diep dink

    Like

  3. Toortsie says:

    Pragtig geskryf. Dankie.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.