Eendag lank, lank gelede…

Toe ek nog voor ʼn klas 10-jarige gesiggies gestaan het, het ek hulle altyd aangemoedig om nie ʼn storie met ‘Eendag lank, lank gelede’ te begin nie. Dit is hoe meeste van die stories in hul leesboeke begin het en ek wou hê hulle moes probeer wegbreek en iets nuuts probeer. Dit het maar ‘n gedink gekos en hier en daar het ʼn tong uitgesteek soos daar gedink word aan ander moontlikhede om ʼn storie te begin. Dit was altyd so snaaks as ek die opstelle ingeneem en begin merk het en sien hoe baie van hulle ‘Eendag lank, lank..’ doodgetrek het aan die begin.

So nou en dan as ons te moeg is vir lees in die aande, vra Ben nog vir my om vir hom ʼn storie te vertel. Teen wil en dank en sonder om te huiwer, begin ek ook met ‘Eendag lank, lank gelede’. Die oomblik wat daardie sin gesê is, is mens outomaties in ʼn ander plek en gereed vir enigiets om te gebeur. Ná daai eerste sin, kan wonderlike goed gebeur. ‘Fluit-fluit, my storie is uit’, is dan weer die terugkoms na jou stoel of bed waar jy jou bevind en dan moet jy jou oë oopmaak en besef dit was net ʼn storie.

Ek sukkel om iets te kry op televisie wat my boei, so toe besluit ek maar om vir myself ʼn storie te vertel:

Eendag lank, lank gelede, was daar ʼn baba voëltjie. Sy naam was Gertjie. Gertjie se ouers het hom alles van die wêreld vertel van die gevare daar buite. Met al sy lesse wat hy by Ma en Pa geleer het, het hy ook besef daar is mooi dinge in die lewe. Koes vir kinders wat met ketties rondloop, moenie dik katte onderskat nie, hondepille proe hemels, maar moet nooit naby ʼn kosbak kom nie. Bye, skoenlappers en miere is gawe insekte, hou hulle dop en leer by hulle, weet waar slaap die kinders sodat jy hulle soggens by hul vensters kan gaan wakker maak en herinner om op te staan.

Die moets en moenies was darem nie te veel nie en al wat nog vir Gertjie voorgelê het om te doen, was om te leer vlieg. Dit was maar ʼn vreesaanjaende proses en hy het nooit besef sy ouers is eintlik braaf nie. Aan die begin moet jy basies val, tot jou instink inskop en jou vlerke begin fladder van pure adrenalien en dan gebeur dit: jy styg op. Soos die dae verby gaan bou Gertjie selfvertroue en begin maak selfs toertjies en duik na sy nes. Hy besef maar al te goed, die volgende stap is om sy eie nes te bou en ʼn maat te kry, maar eers, dink hy om bietjie bo die dorp te gaan vlieg om die perfekte omgewing te gaan uitsoek.

Photo by Anete Lusina on Pexels.com

Hy weet hy wil graag naby sy ouers wees, hulle kan help om die kuikens groot te maak, as hulle albei moet uitgaan en werk vir kos, so hy gaan nie die draai wat hy wil vlieg té groot maak nie. Gertjie wip af en kies koers na waar hy groot dakke sien, hoe nader hy kom hoe meer lyk dit vir hom soos ʼn kompleks. Daar is ‘n vrolike braaivleisvuur wat brand en iets wat klink soos Snotkop blêr nogal hard. ʼn Man staan en skree op sy vrou voor hul kinders. Dit maak Gertjie angstig en hy swaai na regs.

Die volgende klomp mense wat hy sien moet skoolkinders wees, want almal het dieselfde klere aan en speel buite en eet broodjies. Kinders is gewoonlik gaaf, so hy vlieg laer om te hoor waaroor hulle alles gesels. Reg onder die boom waarin hy sit, sit ʼn groepie en hou pouse. ʼn Ander kind kom nader om te vra of sy met hulle mag speel en die antwoord kom hard en duidelik uit: “nee”. Die ander kind lyk afgehaal en gaan sit maar eenkant.

Met ʼn swaar hart styg hy op en moet eweskielik vinniger begin vlieg nadat ʼn paar seuns hom gesien het en hom met klippe wil bestook. Uit pure frustrasie vlieg Gertjie sommer net reguit vorentoe en pyl af op ʼn hoë gebou. Hy sien kantore en soos hy verby elke venster vlieg, sit mense agter rekenaars en lyk vreeslik bekommerd. Hy het nou baie gevlieg en besluit om eers bietjie te rus en die wêreld te bekyk. Ver onder hom, by die verkeerslig, staan ʼn vrou met ʼn baba op haar rug en vra vir geld, ʼn man staan verslae, want sy kar is sopas gesteel en aan die oorkant van die pad is ʼn vrou besig om haar restaurant te sluit, dit lyk of sy huil.

Hoe op dees aarde moet ʼn voël dan ʼn plekkie kry waar daar nie so baie hartseer en verdriet is nie? Mens kan mos nie jou kuikens in so ʼn somber omgewing grootmaak nie. Alhoewel sy dae in sy ouernes getel is, weet hy, hy kan darem nog terugkeer soontoe. Met ʼn spoed vlieg hy oor karre wat vir mekaar toet, mense op selfone wat nie vir mekaar kyk nie en baie rook.

Met ʼn diep sug van verligting plof hy neer op die sagte nes wat sy ouers met soveel deernis gebou het. Hy het nooit besef die wêreld is so rof toe hy nog nie kon vlieg nie.

Gertjie se ma sien hy lyk bekommerd. “Gertjie, my lief, eet ʼn wurmpie, ek kan sien iets pla jou.” Bietjie barbaars begin verslind Gertjie die arme wurmpie asof dit sy laaste maaltyd is. Hy sien sy ma se oë is nog steeds op hom.

“Gaan jy my vertel?”

“Ek het uitgegaan vandag Ma. Die wêreld is ʼn lelike plek. Ek kan nie ʼn nes bou in ʼn ongelukkige plek nie, wat nog te sê van kinders hier grootmaak.”

Soos wat net ʼn ma verstaan, skuif sy ma nader en trek hom onder haar vlerk in en sê: “My liewe Gertjie, hierdie is niks nuuts nie. Ons het jou net beskerm. Dit is nou jou werk om jou kleintjies ook te beskerm.”

Bietjie uitgeboul deur sy ma se woorde, maar nog nie heeltemal oortuig nie.

“Maar ma, ek wil nie hê my kinders moet seerkry nie. Alles wat hulle ervaar moet net mooi wees.”

Sy ma sit haar vlerke teen sy wange en kyk hom stip in die oë en sê: “Jy het altyd gedink dat die wêreld ʼn mooi plek is, omdat jou nes jou so gelukkig gemaak het. Jy kort net ʼn gelukkige nes.”

Met ʼn vol maag en ʼn hart vol hoop skuif Gertjie tussen sy ouers in en maak gereed vir die nag se rus.

Fluit-fluit, my storie is uit.

Photo by Mauriciooliveira109 on Pexels.com

3 Comments Add yours

  1. VirgoC says:

    Wat ‘n pragtige les en storie, dankie🌻

    Liked by 1 person

  2. Wilmien Wiid says:

    Ek love dit!!! Jyt iets baie waars geleer my Laan!!

    Like

  3. Wilmien Wiid says:

    Lovit!!!

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.