Party mense dra ʼn tasbare kalmte saam met hulle rond en dis mooi om te sien. Hulle het berusting in alles wat met hulle gebeur, hulle aanvaar volkome dat ʼn onverwagse draai deel is van hul pad en dan is hulle nog flippen vriendelik ook. Ek is nie een van daardie mense nie. Ek hou nie van verassings nie, ek skop teen verandering soos ʼn steeks donkie en as slegte goed gebeur en dit word nog onder mens se neus ook ingevryf, voel ek net eenvoudig net verstar en dom.

Ek voel veral die laaste ruk dom met gebed. Die aakligste goed gebeur en mense vra mekaar om in te haak bymekaar en soos een man te pleit vir ʼn siek kindjie se longe om te herstel nadat sy ouers al meer as ʼn week by sy bedjie sit in die intensiewe sorg. Sy longe moet eers herstel voordat die dokters verdere toetse kan doen om te bepaal of daar breinskade is nadat die outjie byna verdrink het. Niemand het nog antwoorde nie, almal moet net wag. Elke sekonde maak saak en daar word beurte gemaak om by sy bedjie te waak. Ons moet bid vir hulle. Almal bid vir longe wat volkome sal herstel.
Ek voel soos die stout kind in die klas wat nie my mondeling voorberei het nie en wat probeer om deurskynend te lyk sodat die juffrou nie my naam moet roep nie.
Sien, ek was nie lus om hierdie “mondeling” voor te berei nie, want ek het al ʼn vorige keer by die Here gepleit vir genesing en nie gekry waarvoor ek gevra het nie. Ek het selfs met Hom onderhandel en dinge belowe wat ek gewonder het hoe ek dit uitgevoer sou kry, maar ek het nogtans belowe. Dinge het nie uitgedraai soos ek en al die ander familielede gevra het nie. Almal het gesê God is groot en Hy kan enigiets doen en niks is vir Hom te groot nie. Jy moet vra as jy iets wil hê, sê as iets jou pla en Hy sal voorsien.
En toe, koue water in die gesig. Verslae. Uit die veld geslaan.
So as iemand gesond word en volkome herstel, dan is die Here goed, maar as die persoon weggeneem word en sy aardse tyd is verby, dan is almal kwaad en verstaan nie hoe die Here dit kon toelaat nie. Hier en daar is altyd ʼn kalm een met baie antwoorde, maar ek sukkel nog daarmee.
Ons almal was so opgewonde toe ons hoor die bloedtoets is positief en my niggie is swanger. Haar inplanting was ʼn sukses. Al hul spaargeld en ʼn maand in die Kaap bly was alles die moeite werd toe die bloedtoetse wys sy is swanger. Twee dae later begin die bloeding, tot dit later ʼn definitiewe miskraam is. Ons het nog Sondag gesit en gewonder oor name en hoe die nuwe klein toevoeging se geaardheid gaan wees.
Koue water in die gesig. Verslae. Uit die veld geslaan.
Sulke dinge maak my baie dom en ek weet nie hoe om te voel of wat om te sê nie. Dit is duidelik dat ons nie altyd kry wat ons wil hê nie, alhoewel ons van gedagte was dat ons wel sou. Ons vra mos nie vir aardse stront nie, ons vra vir lewe.
So terwyl ek liederlik worstel en op die vloer sit by God en nie ʼn woord vir Hom wil sê nie, begin ek maar my hart uit te pak, stukkie vir stukkie. Ek sê vir Hom hoe kwaad ek raak oor onregverdigheid, dat bitter min dinge vir my sin maak en dat gaaf sou wees om ten minste net 10% van die antwoorde nou te kon hê vir bietjie gemoedsrus. Ek kan nie in hoë taal met Hom praat nie, ek gesels maar so op my primitiewe manier, soos ʼn tannie wat nog met haar vet handsak bank toe gaan om haar geldsake te gaan doen en die week se broodgeld in ʼn banksakkie te sit.
Te bang om groter versoeke in te sit en te bang vir nog verassings vra ek maar net dat Hy almal moet kalm hou en sommer vir my ook, soos daai ander rustige mense wat altyd so wys lyk.
Maak almal se breine net dof dat hulle nie nou vrae begin vra nie, want hulle gaan net nog kwater word. Maak ons oë toe vir ander mense wat kindertjies kry as hulle net hul mans se onderbroeke op die draad hang.
Stuur net die regte mense oor die mamma en pappa, met die siek seuntjie, se pad vir die regte wysheid en kalmte. Dis al op die stadium wat ek voor kan vra. O,ja en maak ons almal ook asseblief baie geduldig, sodat ons kan wag om eendag al die antwoorde te kry, want nou is ons dom.
Leave a Reply