‘n Rede om te glo

Ons dierbare huishulp, Emily, is al vir 11 jaar deel van ons gesin. Sy het al baie van ons lewens beleef en so deur haar stilligheid kon ek al ʼn paar los drade aanmekaar sit en haar stories ook beleef. Die dag toe ek ore in die nek Bloemfontein toe moes jaag om my pa te gaan groet, het sy gestaan en stryk en my met ʼn paar laaste bemoedigende woorde gegroet. Sy was weer agter die strykplank met die bondel begrafnisklere toe ons by die huis kom. Sy het lief geraak vir ons Jan, die een wat van ons ouers kom maak het en help met maniere leer en opruim sedert 2014. Sy is net so versot op Ben wat haar altyd gaan soek sodat iemand vir sy vertoning kan lag. Sy is dalk nie aldag lus vir lag nie, maar sy lag maar en kielie so bietjie terug.

So tussendeur die strykbondels en seepbelle wat spat het sy al stukkies van haar storie met my gedeel. Dit voel te swaar en te veel vir een mens, maar dis haar pakkie. Sy dra dit beslis nie elke dag saam met haar rond nie, sy gee dit so stuk-stuk aan vir die liewe Vader soos wat dit na haar kant toe kom.

Emily moes al twee van haar vier kinders aan die dood afstaan, haar huis het afgebrand, sy moes na haar dogter wat in die hospitaal kort na haar bevalling dood is, na haar kleindogter begin omsien. Eweskielik is sy ʼn ouma, maar sy het niemand om die vreugde mee te deel nie en eintlik moet sy die skoene van ʼn ma volstaan. Princess is gedoop, haar eerste verjaardag is gevier en so is daar van elke mylpaal rekord gehou met ʼn foto wat sy op haar foon bêre en diep in haar tietie druk vir ekstra beskerming.

Verlede jaar het Emily nog ʼn kleinding bygekry, nadat haar oorlede suster se dogter haarself ontslaan het in die hospitaal en die baba agtergelaat het. Die maatskaplike werker het op Emily as naasbestaande afgekom en so is Gift (soos Emily hom geregistreer het) in haar sorg geplaas.

Elke week as ons in die kombuis staan en gesels is daar ʼn nuwe intrige, ʼn nuwe aanval, wat sy met grasie afweer en wat haar nie ontspoor nie.

Emily het vir my ʼn lysie gemaak met skoonmaakmiddels wat sy nodig het en ek ry gou winkel toe om dit te kry. Op die radio sing Elvis Blue “elke mens het ʼn storie, elke mens het seer…”

Terug by die huis en Emily pak die sak uit en is wraggies bly oor goed wat sy nodig het om haar werk mee te doen. Haar oorfone is in haar ore geprop, haar lyf maak ʼn ligte skoffel en sy sing saggies saam, net saggies want sy is te skaam om ʼn keel op te sit en die diafragma behoortlik te laat dreun.

Ek sien sy het weer nuwe hare wat vasgevleg is. Seker die naweek laat doen. Sy glimlag. Die foon lui en die hande word eers drooggevee en nou is dit eers tyd om bietjie buite in die sonnetjie te gaan staan en lekker te kuier. As ek later wonder waar gesels sy so lekker, is sy nog steeds by die wasgoeddraad, die foon in die nek vasgeknyp en kuier te lekker nog al die pad met dieselfde vriendin.

Ek hou vir Emily fyn dop sonder dat sy eens weet sy leer my ʼn klomp goed, want ek wil ook eendag oor ʼn hele string hartseer stories nonchalant kan gesels, terwyl die seepbelle opskiet en die musiek in die agtergrond blêr.

Emily se stórie is haar getuienis, nie haar seer nie. Daar is nie plek vir hoekoms en waaroms nie. Alles is net aanmekaar geweef met ʼn goue draadjie van onwrikbare geloof en die wete dat God sal voorsien.

Sy laat voel my klein en dom, maar sy gee my ʼn rede om te glo.

2 Comments Add yours

  1. VirgoC says:

    Jy skryf so mooi, ek kan haar sien. Ek is bly jy het ‘n Emily in jou lewe, myne, sy was Katy en ek mis haar so. Eintlik ongelooflik hoeveel invloed ons vrouens op mekaar het en hoe ons mekaar baie diep lesse leer. Dankie vir die pragtige deel🌻

    Like

  2. Wilmien Wiid says:

    Dis so amazing, ek wil ook soos Emily glo.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.