My Jan-kind

“Wag Mamma, nog ‘n foto!”

Ek het nog altyd gewonder hoe op dees aarde Woolies dit regkry om hulle nartjies en ander saamgeflansde oranje sitrusvrugte so identies te kry. As ek die boksie in die trollie sit, kyk al die netjiese gesiggies na bo, met plakkers senter in die middel en nie ʼn blaartjie of ʼn swak plekkie in sig nie. Elkeen proe so wonderlik soos die vorige een en vinnig is die bak leeg.

Hulle is te oulik en te netjies om uit te druk vir sap en die ander vrugte wat saam met hulle pronk op die rak wil ook net maag toe en nie verwerk word in ʼn konfyt vir ʼn broodjie nie. Die dag toe hulle van die boom gepluk is, het hulle geweet: ons gaan op ʼn vervoerband beland, saggies afgespoel word, dan gevee word en met handskoene verpak word in voorafgemete bokse wat ons huisies gaan wees en ons krone is mooi plakkers wat almal na dieselfde kant toe kyk.

Met my eerste inleiding tot huiswerk met ʼn Graad 1-kind in die huis, het ek nogal kort-kort die prentjie van die vrugte voor my gesien. Kindertjies wat op ʼn vervoerband beweeg, almal teen dieselfde pas, wat dan by sekere merke moet verbybeweeg en plakkers kry om markgereed te wees. Maak nie saak hoeveel bemesting ek my boompie gegee het nie, sy vrugte wou nie soos die ideale vrug vir daardie tydstip lyk nie.

Vispille, natuurlike aanvullings om te konsentreer, ʼn bril en aktiwiteite om hom te laat blom in skoolwerk. Al dié, was bemesting wat ek in die Jan-boom se akker ingewerk het met die hoop dat hy betyds verpak sal kan word en sy plakker kan kry om tussen ander vrugte oulik op ʼn rak te gaan lê en glimlag.

Maar helaas, my boom se wortels wou nie al die voeding intrek om te kan bot nie. Hierdie boom was nie besig om dood te gaan nie, maar het ook nie nuwe blare gemaak of ander tekens van groei getoon nie. Dit het my begin bekommer en die nou drukgang het ons in die gesig gestaar. Die vervoerband met ander vrugte het ongesteurd aanhou loop. Ek het paniekerig begin raak en gedink ek moet dalk die vrugte begin vryf en druk toepas, maar raas en skree het die blare laat afval. Nou was die Jan-boom eintlik erger af – van stilstaan na afbreek.

Vrugte moet op die vervoerband beland, dit is vrugte se voorland. Ek het heeltemal vergeet van ander opsies vir vrugte soos jellie, bredies, blatjang, konfyt, ingelegde vrugte, lekkers en terte. Al wat ek voor my gesien het is die ry oranje netjiese vruggies met plakkers wat almal gereed is vir die boks.

Dit het my vriendinne, my suster en my eie boom gekos om my te kom leer dat ek verkeerd werk met my boom.

Groot was die ontnugtering toe ek die rapport bekyk en wonder waarheen al ons harde werk dan is. Iewers tussen niks en nêrens die vakansie waar die lug skoon is en jy net die woord “druk” gebruik wanneer jy jou bakkie se bande afblaas, het ek besef ek plaas hopeloos te veel druk toe. My kneukels het eintlik wit gestaan soos ek die knoppies gedruk het wat nog nie eens behoorlike vruggies was nie.

Al wat dit my kom leer het is dat dit kneusplekke maak.

Ek besin mos oor wat ek doen, hoe kon ek so ʼn yslike fout maak? Wel, ek het. Ek het myself blindgestaar teen ʼn stukkie papier, die sogenaamde resultate wat ʼn kind definieer, die boksie waarin almal moet pas, terwyl daar nie eintlik boksies hoef te wees nie.

My skaam Jan met sy skewe glimlag raak in vervoering oor ʼn mooi sonsondergang en kan nie genoeg na die sterre kyk nie. Hy neem foto’s van dit wat hy graag wil onthou en wat met sy hart praat. Hy wil help, aanraak, skep en uitgelos word om in vrede te groei. Op dié stadium droom hy van ʼn honde-dorpie en ‘n huis wat soos ʼn hond lyk, met die tong as garagedeur. Hy wil met hondjies boer en sy skaaphond moet oral saam met hom gaan.

Hy gaan heel moontlik nie perfekte oranje vruggies dra nie, ons weet nie, maar in tussentyd geniet ek my boom meer as hy vir my. Ek geniet sy kalmte en koelte, ek gee water soos ek moet. Soms vat ons ʼn ruskansie, soms droom ons, soms dwaal ons af, want dis lekker en nodig vir hom.

Ek het my onnodig opgewerk oor dinge buite my beheer en moes weereens besef dat ideale en drome so uniek is soos elke boom.

3 responses to “My Jan-kind”

  1. Dit is die mooiste veduideliking en so pragtig geskryf. Dankie vir die deel hiervan en die fotos is stunning🌻

    Like

  2. So oulik geskryf, ja ons is nie oranje vrugte nie en ns boksies lyk soms skeef en krom, maar ons het elkeen ons eie doel en is perfek soos ons is

    Liked by 1 person

  3. So dankbaar jy en jou unieke boompie geniet mekaar. ❤️

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: