My nessies

Om in sak in as te gaan lê kom tog so natuurlik. Sodra iets druk, knak my knieë. Sodra die lysies te lank raak, sak my moed. As ek weet ek móét iets doen, dwaal ek om dit en bekyk dit eers van alle kante terwyl ek besluit hoe ek die taak gaan aanpak.

Daar is nog van my brose spesie daar buite, mens herken mekaar tussen die kasies en worsies met ʼn trollie vol ander goed soos melk, brood en ʼn kind wat met een been en swart voetsole saamsleep. Ons oë ontmoet dan en in ons woordelose gesprek ruil ons empatie uit en eindig dit af met ʼn knik om aan te dui dat ons weer moet trolliestoot en die kind met die swart voete red van ʼn ongeluk wat op pad is.

Ek het lank getob en gewonder oor hoe om woema te kry. Slim mense sê mens is veronderstel om te oefen en gebalanseerd te eet en op so manier funksioneer mens optimaal en verbrand nog boonop oortollige vet. Ek ontwyk liefs aktiwiteite wat sweet behels en skaar my eerder by eekhorings, wat my leer om reserwes op te gaar vir die winter. Dus is oefen nie ʼn opsie nie, maar dit los nog nie my dilemma op nie.

Ek sou hou van ‘n boekklub, pottebakkery of ‘n kunsklas iewers in die week, maar dis in die oggende wanneer ek moet werk, so nee.

Soos ek dwaal deur die huis op ʼn vreemde, rare, stil tyd (Abrie is iewers in die dorp, die kinders is in die skool en ek vat gou ʼn asemskeppie voor ek weer insak en werk), gee ek ʼn moedelose kyk oor al die deurmekaar hoekies in die huis. Orals is klein nessies wat opgaar en by die dag groter word. Elke huis het minstens een nessie, maar ons sʼn is ʼn versamelvoëlnes.

ʼn Huiswerknessie op die eetkamertafel met skryfbehoeftes, papiere wat gebêre moet word, want dit is Ben se “maps”, gekoude balle wat Jan wegsteek vir Hennie, maar te sleg voel om weg te gooi.

Links van die eetkamertafel is nog ʼn tafel met ʼn eksperimentnessie. Hier word kristalle gekweek en daagliks dopgehou en die groei word gemonitor, die ekstra papiere en gekoude balle is ook vir ʼn obskure rede by hierdie hoekie en ek weet as ek dit skuif gaan ek raas kry.

Langs die vrugtebak in die kombuis is ʼn nessie van items-wat-boontoe-moet-gaan-maar-ek-is-nou-te-lui-nessie. Skoolbaadjie, sokkies, ʼn pen, toiletpapier en ʼn speelding. Soms vorder hierdie items tot by die eerste drie trappe, dit is nog ʼn nessie, maar hierdie nessie is darem in ʼn proses om na sy oorspronklike plek gedra te word en om ontnes te word.

In ons kamer op die kas met foto’s, lê van Ben se skoolwerk. Hy het die mooiste, reguitste reghoek geknip wat ek nog ooit aanskou het en niemand kan ʼn boom so mooi vol geskeurde papiertjies plak soos hy nie, dit kan nog nie na die onthou-boks toe gaan nie, dit lê en gesels nog bietjie met my daar.

In Jan se kamer het hy ʼn houer vir al sy Lego, maar die nuutgeboude goedjies word uitgestal op ʼn spesifieke kas omdat hy nog te jammer voel om dit op te breek.

Op ʼn ander kas staan goed wat nog in proses is, so dit dien meer as ʼn werkswinkel. Op sy lessenaar is nog ʼn huiswerknessie, nog skryfbehoeftes, papiere, flitskaarte, gekoude balle, Lego waarmee hy speel as hy moet skryf en ʼn halwe glasie melk.

Ben se kamer het nie juis aparte nessies nie, die hele vertrek is ʼn nessie. Gereeld word sy goed georden en hy word in kennis gestel waar die karretjies, mannetjies en blokkies hoort, maar voor hy homself kan kry, roer hy weer als deurmekaar in een speelgoedsop.

Met my pouse wat nou amper verby is en my nadenke oor al die nessies en wanneer ek hulle moet uitsorteer, besef ek dat dit eintlik my tasbare bakens is wat soveel meer sê as net “deurmekaar”.

Die glasie met ʼn blommetjie by die vensterbank (wat al eintlik in die asblik moes wees), is Ben se liefde vir my. Hy stap nie verby blomme sonder om een te pluk nie, selfs al is dit ʼn onkruidblommetjie.

Die plastiek diertjie op die kombuistafel is Ben se meerkat en sy naam is Manie. Manie eet spesifieke kossoorte en het ʼn lewe van sy eie, dit herinner my aan sy ryk verbeelding en sy omgee-hart.

Die vreemde hondjie met die swart gesiggie was ʼn dierbare ou dingetjie wat ek terstond moes koop, want Jan móés dit hê. Ons het hom gewas en die ou diertjie se kopvel is toe daarmee heen en nou lyk hy nie meer so dierbaar nie. Dit herinner my aan Jan se onskuld en dat ʼn sagte speelding nog sy hart kan laat smelt.

My werkkamer het heelwat nessies, ‘n hopie waar alle stukkende goed moet knope aankry of toegewerk word, ‘n boeknessie van boeke wat nog nie rak toe kan gaan nie en nog in oorweging is vir lees en skryfboeke vir ‘n vinnige gedagte of twee, oe en dan is daar die ewige lysies wat oral opgeplak word. Dit wys vir my hoe baie moontlikhede daar nog is en dat al is my werkie net om stukkende teddies se boude toe te werk, is dit ‘n baie delikate operasie wat my seuntjie aan my toevertrou het omdat sy teddies vir hom belangrik is en hy hulle almal oppas.

Die rondlê lekker langs my rekenaar is een waarvoor Jan hard gewerk het en soet gewees het by die skool en toe ʼn beloning aan die einde van die dag gekry het en besluit hy, hy wil dit met my deel.

Die nessies het gebeur soos die lewe geloop het, dit is vol stories, lag, seer, onthou, lekker en mooi. Miskien is dit alles maar net verskonings om nie netjies te maak nie, maar terwyl my huis nie aan die kant is nie, is daar heelwat klein goedjies wat op vreemde plekke uitspring om my van iets snaaks of moois te herinner en dit is hoe ek daarvan hou.  

3 Comments Add yours

  1. Wilmien Wiid says:

    Die nessies is okay, maar hierdie lelike skapierige hondjie, moet waai! Hy gee my die creeps!:)

    Liked by 1 person

  2. Toortsie says:

    My house is clean enough to be healthy and dirty enough to be happy. Ek soek nou my borduurskertjie. Dis weg sedert ek een van baie nessies opgeruim het.

    Like

  3. Jou vertelling is vol deernis en omgee. (Na ‘n lang lewe onthou ek nog steeds met hoeveel entoesiasme my mammie klein bossies onkruidblommetjies ontvang het.)

    Liked by 1 person

Leave a Reply to Tannie Frannie Cancel reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.