Stories is my lewe

Vanmiddag was nie lekker nie. Dit was vol raas en baklei oor huiswerk. Eers moet daar vir Hennie bal gegooi word, dan moet die bal weggesteek word, dan moet Jan sy sit kry, dan is die potlood nie skerp genoeg nie, dan besef hy hy wil eintlik eers gaan poef.

So is daar vir ‘n uur op eiers geloop om die spelwoorde vir môre tot my bloed begin kook het en ek in drie oktawe hoër en harder begin praat het. Ons het maar tranerig vir mekaar nag gesê, want ons albei voel nou simpel. Ek onthou nou weer hoekom is stories so lekker vir kinders om te hoor in die aande. Stories troos. En vanaand is ek dankbaar vir my liewe Ilne vriendin wat haar mooi storie met my op die regte tyd gedeel het.

Dalk is hierdie vir jou ook ‘n troos en dalk voel jy ook ‘n bietjie minder soos ‘n bergheks nadat jy dit gelees het.

Kerrievis vir Joey Davids

Deur: Ilne Fourie

Djong, kyk ek hou van ‘n kunstefees.  Nei wat praat ek, hou? Ek laaik dit!  Hulle sê mos ‘n kunstefees het ‘n vibe, djy wiet, ‘n feeling.  Dis da wa die actors bymaka kô en kinserte hou virrie public. Hulle roep dit arty.  Nou ek is ôk arty, djulle salit nou nooit sê nie, ma die acting loep stêk in onse genes. Ek het myne gekry by my se mammie. Sy het altyd ha hare pers gedye met goet wat ryk soes katpie en knoffel en dan het sy grote hoere op ha kop gebalance. A true work of art! Sy het lang Courtleys geroek met ‘n plastic pypie, want sy het gesê ‘n lady se hande kan nie ruik soos ‘n ashtray nie. Dja is soe, my mammie was ‘n singer, sy het gesê ha stage name was Tracy Violet, dis die dat sy ha hare soe pers gedye het.  Ma sy hettie vir lank gasing nie, ha bors het beginne oppak. Dis hoekom sy so vrieslik gadrink het, sy het gasê die dokters se medicine help boggerol vir ‘n toe bors – Brandy trek hô oep soos warm Vics!  Dis toe dat sy beginne acting klasse gee op onse dorp, die anties vannie dorp het ha nie veel gelike nie, vir ons oekie. Gasê my mammie is die duiwel se suster.  Aaag, ma sytie geworry oor wat andir mense van ha dink nie, want sy het gewiet sy is goed. Ha tjinders het djaar na djaar weggestap by die Eisteddford met goue pryse en A-plusse.

Die een djaar het sy my ook ingeskrywe.  Ek was in Standerd een.  Ek het ‘n grootmens gedig gedoen, Ma deur Antjie Krog.  Daai was ‘n moeirlike gedig en ek het lank gesukkel om al die woore te onthou, maar mammie het my dit oor en oor lat opsê tot ek dit kon sê sonder lat my tong een keer knoep.  Ek was djeel laaste ôppie lys.  Mammie het my eenkant toe geroep en gasê:

Joe, vanaand doen djy hierdie gadig op djou mooiste. En djy sê nie djy en djou nie – Antjie wassie ‘n coloured nie. En djy kykie virrie judges nie. ‘n Mens kyk nooit virre’n  judge nie, anders raak djou nerves opgecharge en djy pie in jou broek. Djy kyk net vir mammie hoor! Djy kyk net vir mammie.” Sy het vi my ‘n rooi Fizzpop loep koep by die snoepie en my pompom styf gatrêk.

Toe dit my beurt was het ek oppie verhoog gestap, my bene was lam en my keel droog. Amper soes wanneer ons aan-aan gespiel het en jy moet hol virrie die blok.  Ek het my naam hard en duirelik gasê:

“Ek is Joe Venter en ek doen Ma geskryf deur Antjie Krog.”

Die judges het hulle lampies aangeskakel en hulle penne laat kliek. Ek het opgekyk en onthou wat mammie gasê het.  Ek sallie virrie judges kykie, net vir mammie.

Ek het begin: “Ma, ek skryf vir jou ‘n gedig sonder fênsie leestekens sonder woorde wat rym sonder bywoorde net sommer ‘n kaalvoet gedig – “

Ek het haar gesoek in die gehoor. Waar was sy?

Want jy maak my groot in jou krom klein handjies en beitel my met jou swart oë”

Die skerp ligte het my oë laat brant, ma ek het bly soek en soek tussen die mense deur.

“en spits woorde jy draai jou leiklipkop jy lag en breek my tente op maar jy offer my elke aand vir jou Here God.”

Skierlik hettie saaldeur oepgegan.  Mammie het ingastrompel gekom. Ma wa was sy dan? Dalk het sy met een vannie anties geprat.

jou moesie-oor is my enigste telefoon jou huis my enigste bybel

Sy het in die paadjie afgeslinger. Ma ek vistanie. Sy het dan gesê haar bors voelie benoutie…sy het mossie norag gehad virrie Brandy vanaand nie.

“jou naam my breekwater teen die lewe”

Mammie het ‘n los vloerplank raak getrap en geval.  Die saalligte het aangegaan en mense het om haar gestaan en fluiste. Een van die judges  het vies omgekyk en gesê:

“Vat om hemelsnaam net hierdie dronk vrou hier uit. Ons is besig met ‘n kompetisie!”

Twee van die menere het haar opgetel en uit die saal gesleepdra. En skierlik wasit stil.  En almal het nogstieds gekyk vi my.  Ek hettie my woore vergietie man! Ek hettie. Ek kon dit nettie sê nie…want ekke wou nie. Hoekom moes ek sê: “ek is so jammer mamma dat ek nie is wat ek graag vir jou wil wees nie.” Daai was mos ‘n lieg. Ek wassie djammer nie, ek was skaam. Vir haar. En toe loep maak ekkie fout.  Ek het gekyk vir een van die judges.  Die tannie-judge op die punt het vir my gekyk, gesmile en geknipoog.  Ek weetie of die ligte my oë laat traan het nie en of ek begin te huil hettie. En toe pie ek my nat. Voor almal.

Ma ag, daai is ou stories! Ek sê altyd let by gones be by gones.  Mammie is later doed.  Die dokter het gesê die Brandy was te veel vir haar bors.  Ek het ook ouer geword en met Danny getrou. Ons twie hettie baie tjeld gehad nie, ma ons was djonk en die liefde was genoeg. En ek onthou nog soos gister, die dag wat klein Joey gebore is.  Die nurses het gelag en hande geklap en toe het hy sy koppie gedraai en vir die nurses gesmaail en sy lyfie eenkant toe gebuig. Ek het nog gelag en gesê: “Kyk Danny, kyk hoe maak hy sy eerste buiging vir sy audience. Hy is klaar ‘n klein actor!” Jirre, Joey was ‘n mooie kind, hy was langer as al sy klasmaats en hy kon al op vyf lies en skrywe, dan het hy altyd vir my die Huisgenoot se Groot-Boek-Bonansas voorlees.  En as dit Easter was het ek altyd my kerrievis tripple loep aanmaak en dan het die straat se bure en kinders saam kom kerrievis en Hot Cross buns eet, dan lies Joey vir ons die storie van Jesus se kruisiging. En hy het dit so mooi gelies, veral die deel innie Garden. Daai was sy favourite deel.

Late het Joey gaan studeer by ‘n grande university – hy wou ôk‘n actor word, ma toe rak Danny soe kwat dat onsie weer geprat het oor Joey se swottings nie. Hy het baie gephone, maar min kom visit, hy was Easter-tyd nooit mee byrie hysie. Gasê hulle maak reg vir die fees wat speel in April . Maar op Goeie Vrydag  het ek hom gephone en dan lies hy vir my Jesus innie Garden se stukkie.  Dit was baie special, want hy het gelies net vir my. 

Die een mirrag sit ek en luister na die mannetjie wat gesels oor die draadloes toe ek hoor hoe advertise hulle weer een van die feeste.  Hulle roep hom die KKNK.  En net narat hulle Scarumba gespiel het, besluit ek: ek gaat fees toe hierdie djaar. Sommer net om te kyk hoe is dit daar. Ek wil ôk wiet wat is hierdie vibe waarvan almal so praat.  Ek het daardie aand vir Danny gesê ek gaan vir ‘n week by my vriendin Tina kyer en ons gat fees.

Danny het gaskrou: “Ons hettie eers geld vir lekker kos innie hysie, en djy wil ga fees! Vir wat?!”  “Cultivated Danny, Cultivated.” het ek vir hom gasê.

Daar loep ‘n mens rond en djy sien alles wat net op die TV. is. Kurt Darren sing sommer hier reg voor djou! Ons moet kan trots wies op onsself en onse kultuur!”

 Toe raak hy so kwaad dat hy drie van my borde met die English Rose Printing stukkend gegooi het:“As djy vi Kurt Darren wil sien sittie donnerse TV aan. Wat die hel moet ek eet vir ‘n wiek as djy da gan loep rond cruise en holiday hou!?”

Toe raak ek so warm soos Upington op ‘n goeie dag en ek gooi my ander drie borde met die English Rose Printing stukkend (wat sou ek anyway met ‘n halwe set kon doen) en ek sê:

 “Man vlieg in djou glorry in! Ek runnie ‘n hotel nie. Maak djou eie mince gaar, die deepfreeze het genoeg in tot die einde vannie week.”  En toe loep pak ek my vanitycase en ek klim op die bus en gat fees toe!

En daai was soes heaven on earth! Daar wassie mooiste goeters, pers en pienk volstuisvere en sunglasses soos die supermodels dra innie Heat.  Die musiek het uit elke krakie van die dorp uitgekom, die strate het gelewe. Ek en Tina het ons voete bruin geloep vannie stof en ons het ‘n foto laat niem en hulle het ons twee geprint op ‘n Rooi Rose se cover!  En toe het ek gewiet – hier moet ek wees. Danny se gat!  Die tweedelaaste aand het ek moeg op die sleeper couch gelê,

met Kurt Darren se handtekening en die feesboekie. Ek wou sien watte ander famous mense is nog hier. Ek wil so graag vir Charmaine van 7de Laan sien, sy was my heel beste.

En skielik het ‘n naam my oeg gevang. Joey Davids.  Sy naam was in hoofletters getik saam met ‘n klomp anne mense se name. Hy het gespeel in ‘n show! Hier op die fees.  Nou ek hettie baie tjeld oorgehad nie, maar ek het die volgende dag vir my ‘n bloes met baie glitter loep koep en ‘n ticket vir Joey se show. Ek het in die benoude saaltjie loep sit en die ligte het afgegaan. Da was baie mense – het gasing en mooie gedigte opgesê van N.P. van Wyk Louw en C.Louis. Leipoldt. Ek het nog gedink: “Haai jirre, mammie sou nou hierie gelaaik het.” En skielik toe kom Joey opgestap, mooi regop rug en skouers, tot in die middel van die verhoog. En toe breek sy stem klokhelder in die beknopte saaltjie los:

“Ma, ek skryf vir jou ‘n gedig sonder fênsie leestekens, sonder woorde wat rym, sonder bywoorde, net sommer ‘n kaalvoet gedig –”

 Man ek wou somme hyl. Ek was so bang hy sien my raak en vergeet sy woorde. Ek was so bang hy sien my raak en hy kannie die woorde sê nie, hy willie die woorde sê nie, want hy is skaam. Vir my.

En toe sê hy dit: “ek is so jammer mamma dat ek nie is wat ek graag vir jou wil wees nie…”  

Die ligte het afgegaan en skielik het al die mense opgespring en beginte cheer en handeklap.  Ek het net bly sit tussen die stampende lywe. Ek wou nie hê hy moet my sien nie. Hy was dan ‘n famous actor, netou embarres ek hom. Ek wou hom gat groet het na die tyd, maar ek hettie gegaan nie.

Ek het gewiet dit is nog nie die regte tyd nie.  Ek sal wag vir die dag.

Ek sal wag vir die dag wat ons nie meer hoef hoenderpote en pap te eet nie, wanneer Danny ophou suip het en my ophou rondklap, wanneer ek mooi bêlletjies dra en nie meer hoef skelm geld te save nie, en wanneer ek genoeg cash het vir ses glitter bloese…daardie dag sal ek opstaan en op die verhoog stap en ek sal langs Joey gaat staan en ek sal sê:

Hierdie is my seun Joey Davids. En ek is sy mammie en ek so lief vir hom, en ek is so trots op hom.”

En dan sal ek hom vashou en sê: “Jirre Joey my tjind, Antjie het nog allie djare vir ons gelieg.  Mamma is djammer dat ekkie is wat ek soe graag vir djou wil wiesie.”

Maar tot dan travel ek van fees tot fees, want ek weet dit is nog nie die regte dag nie. Ek loep kyk elke show by elke festival.  Hy weetie ek kom kyk nie, maar ek laaik dit so. Daai is vir my special.  Want wiet djy, sometimes dan kry ek so ‘n feeling…djy wiet – ‘n vibe…Miskien weet hy tog ek is daar, want die aande wanneer ekke kô kyk, speel daai tjind net vir my.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.