Vergeet raak makliker

Kleintyd het my ma my gebruik as haar inkopielysie as sy dorp toe gaan. Dit was altyd vir my vreeslik lekker om kort-kort aan haar rok te pluk en te sê: “moenie van die gom vergeet nie” of om heeltyd ʼn resitasie te herhaal soos: “jellie, meel, brood, sjampoe”. Ek het dan baie groot en belangrik gevoel omdat ek die inhoud van die trollie kon memoriseer en dis te danke aan my dat ons alles onthou het.

Later het ek ʼn simpel gewoonte begin kry om in die helfte van my sin te kom en eweskielik die klimaks van my storie te vergeet, asof dit net uitgewis is, en dan volg die vervelige ou sin wat ek altyd sê: “uhm wat wou ek nou weer gesê het?”. Asof die arme ander persoon presies weet wat op die punt van my tong was.

Ek kom agter die “wat wou ek nou weer gesê het?” -sinne raak al hoe meer en as ek met ʼn kind praat begin ek by die troeteldiere en noem al ons geliefdes se name op tot ek kwansuis op die arme dierbare se naam afkom wat my in die oë kyk. Ek raak vies vir myself dat my brein se paadjies verdof en dat die onkruid kniehoogte staan. Dit is immers nie ʼn helder GPS-kaart met ʼn vrolike vrouestem wat praat en ʼn netjiese kaart uitskop sodra ek aan ʼn sleutelwoord dink nie.

Ek dink my brein is ʼn kombinasie van ʼn ou padkaart en ʼn stowwerige biblioteek, al die herinneringe is daar iewers in die argiewe, maar dit word nie gedurig afgestof en herroep nie. Niemand kom kuier daar en lees weer die ou hoofstukke nie, maar elke boek is nog daar. Party boeke lê oop op tafels soos wat ek nog geblaai het daardeur en te jammer was om dit weer te bêre van bangheid ek gaan dit weer vergeet. Die moeilike boeke wat die padkaarte so bietjie bekrap het en gemaak het dat van die paaie toegegroei het, was die seertye. Die ligte, helder boeke is ook daar, maar ek maak dit nie genoeg oop om weer deur te blaai nie, so dié is ook maar stowwerig.

Party paaie is nie op my padkaart van vooropgestelde paaie aangedui nie en is maar na die tyd in potlood aangebring en aangepas. As mens nou na die kaart kyk, kan mens sien daar is heelwat maniere om by dieselfde plek uit te kom, maar op daardie stadium voel dit soos verdwaal.

Vrede was ʼn plek waar ek nog altyd wou wees, die naam klink mos al klaar asof dit ʼn lekker plek is. Geen konflik, geen stryery, geen bitterheid, want daar is net plek vir vrede in Vrede. Met my kaart in my hand het ek aangeneem ek is redelik op koers, maar toe moes ek maar later ʼn potloodpaadjie met die hand inbring net om rekord te hou dat ek ʼn onverwagse roete na die bestemming geneem het.

Toe ek op 27 Maart in 2012, op ʼn Dinsdagoggend moes hoor: “Time of death, 08:48” en die suster plak my pa se oë toe nadat hy nog ʼn paar sekondes terug geleef het, het die aarde ophou draai. Niks het meer sin gemaak nie en die volgende paar weke het gevoel soos ʼn fliek met baie swak acting. Om nou by Vrede te kon uitkom sou onmoontlik wees, aangesien ek ʼn lewensgrootte rots voor my gehad het.

Nege jaar later, met baie probeerslae om verby die stuk rots te kom, het ek uiteindelik besef ek sal ʼn nuwe paadjie moet aandui op my padkaart, een wat om die rots loop. Dis makliker gesê as gedaan en dit word maar baie omkyk-omkyk gedoen.

Dit voel darem asof Vrede al ʼn bietjie nader moet wees, die oase waarna almal dors. Ek is net dankbaar dat dit makliker raak om te vergeet, die onnodige detail, die weke in die hospitaal en die hoekoms het al bietjie stof begin opgaar.

Dit wat ek wil onthou, hoef ek nie oor bang te wees dat ek dit sal vergeet nie, want al kan my pa my nie meer bel nie, is hy in Ben se bruin oë, in Jan se frons as hy iets oordink en bepeins, in Abrie se beplanning vir die toekoms, familie wat saamkuier, my ma se sêgoed, granaatpitte, snoek, droë biltong, ʼn bruin windbreaker, ʼn army hoedjie, ʼn dorper lammetjie, rooi duine, ʼn vuurtjie, ʼn wieletjie wors, ʼn halwe bottel Coke in die bakkie en teikenskiet.

3 Comments Add yours

  1. VirgoC says:

    Dit is so mooi geskryf en gerusstellend. Wat ‘n pragtige onthou ten spyte van groot seer. Dankie vir die deel. Ek wens jou vrede op Vrede🌻

    Like

  2. Hartroerend mooi, die liefdevolle onthou.

    Like

  3. Wilmien Wiid says:

    Dankie Laan!

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.