Beste voetjie

Ek het nog altyd gewonder oor die sêding van “sit jou beste voetjie voor”. Is my ander voetjie dan minder goed? Hoekom het mens net een voetjie wat beter is en hoekom moet jy dit voorsit sodat mense net jou blink kant kan sien? Dis maar hoe die grootmense gepraat het en ek het juis altyd raasgekry omdat ek te veel vrae vra en “vergadering hou” soos my ma altyd gesê het. As ek aan daai sêding dink, dan het ek altyd in my geestesoog ʼn blink skoolskoentjie gesien met netjiese wit sokkietjies. ʼn Skoentjie wat nie aan my behoort het nie, want myne was altyd stowwerig en as ek die dag my skoene blinkgevryf het, dan het my sokkies weer swart merke opgehad van die politoer wat afsmeer. Blink skoene was nie vir my ʼn trots nie, dit was iets wat ek moes doen omdat dit van my verwag was.

Photo by Pixabay on Pexels.com

Ek is nou al oud genoeg en groot genoeg om vir myself te besluit en sekere reëls by die agterdeur uit te gooi wat vir my nie sin maak nie.

Beste voetjie (enkelvoud), asof die ander voetjie aspris die swartskaap is en nie sy samewerking wil gee nie en nou maar net ewe gedwee aansleep saam met die lyf. Beste voetjie beteken jy moet net oulik wees waar die mense jou sien. Jy het klere waarmee jy dorp toe en kerk toe gaan en dan het jy huisklere wat jy kan dra waar die ander mense jou nie sien nie. Jy werk mooi in jou skoolboeke, want dit is ʼn advertensie van jou en jou huisgesin en dit wys hoe goed jy grootgemaak is, maar jy mag maar morsboekies by die huis hê, waar die ander mense dit nie sien nie.

Met grootmense in ʼn geselskap is daar ʼn spesifieke manier hoe jy moet praat, met ʼn spesiale woordeskat in ʼn aparte lêer wat jy vir spesiale geleenthede uithaal, by die huis mag jy maar “poep” sê waar die ander mense dit nie hoor nie. As daar kuiermense kom, moet die huis blink, skottelgoed word gewas en dit wat nie gou genoeg skoon kan kom nie, word in die oond weggesteek – dit moet lyk asof dit nog altyd so gelyk het, as hulle weg is kan ons maar weer ons handwerk en legkaarte uithaal.

By die Tuinbou-klub het die vrouens met elke byeenkoms die tafels versier met rangskikkings en drapeersels en dan is daar ʼn prys toegeken aan die mooiste tafel, dit is nie hoe dit gewoonlik lyk nie, maar op so ʼn dag sit mens mos jou beste voetjie voor. Sondae as daar ‘n lang tafel gedek is en die kostrollie word nader gesleep om al die potte op die tafel te kry, die Noritake eetstel was uitgehaal en die klein sout – en peperpotjies is soos soldaatjies tussen elke tweede persoon netjies geplant. Servette is gevou, pepermente langs die glase en die kombuistafel is vir die kinders gedek sodat hulle eenkant kan wees.

As die mense weg is, word die mooi goed weer diep gebêre in hul tassies wat uitgevoer is met fluweel en wag vir ʼn ander spesiale dag. Duur parfuum word bietjies-bietjies gespuit as mens na mense toe gaan en jou elke-dag-parfuum is heelwat goedkoper en kan mens rojaal gebruik as mens nie na mense toe gaan nie. By skoolfunksies en prysuitdelings waar mens saam met jou ouers was, is daar ekstra meer moeite met die uniform gedoen en die hare moet nog netjieser as gewoonlik lyk, want nou sien almal vir jou en jou gesin saam, jy kan ook nie jou maatjie uitgelate groet soos gewoonlik nie, want nou moet jy jou beste voetjie voor sit en stemmig wees.

Ek mis die negentigs, veral as dit kom by musiek, maar ek het nou besluit beste voetjie is sommer simpel voetjie. As ek nie albei voetjies kan gebruik nie, is dit nie die moeite werd om soos ʼn eenbeen voël te probeer water trap nie. Beste voetjies is onnatuurlike voetjies. Ek hou van elke-dag-voetjies. Mens mag maar op ʼn Dinsdag uit jou beste koppie tee drink sonder dat die mense sien, daar kan koek in jou huis wees, sonder dat jy gaste kry. Daar kan vuil skottelgoed wees as daar mense kom en jou bolla mag maar skeef sit al sit jy in die kerk. Ek het nie meer beste klere of beste breekgoed nie, want dan beteken dit daar is net beste dae en al die ander dae is gedwing om vaal te wees sonder dat mens eens probeer het om dit kleur te gee. Bo blink onder stink, beste voetjie teenoor bo stink soms onder blink en sommer net voetjies wat albei dieselfde lyk.

One response to “Beste voetjie”

  1. Ja, ek hou ook van elkedag voetjie, maar tog geniet ek dit soms om iemand net ‘n bietjie meer te bederf en die spesiale koppies wat van my ma ag kom, uit te haal. Want sien, dit moet met die hand gewas word en ek is darem te lui om die vir al my baie eie teedrink te was. 😊

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: