Op jul merke, gereed …. gaan!

Die begin van ʼn nuwe jaar ruik soos varsgesnyde gras, nuwe skryfbehoeftes, netjiese skoon boeke en vars brood. Alles word opnuut raakgesien, al is dit oud. My tas lyk weer soos ʼn nuwe sikspens, al het hy al ʼn paar myle op. My skoene is ekstra blink gepoleer, al is dit nie splinternuwes nie. My skoolrok voel skoner. My potlode voel skerper. En my huiswerkboek is vol beloftes dat hy hierdie jaar elke denkbare stukkie huiswerk vir my gaan help onthou soos ʼn getroue vriend. Met al die sintuie wat so opgeskerp is aan die begin van die jaar, lewer agterdog, angs en vrees ook hul beste vertoning aan die begin van die jaar. Daar is soveel verwagtinge, soveel mylpale, maar waar gaan realiteit my tussen die oë tref? Is dit nie maar beter om net glad nie met my nuwe kraakvars atletiekbroek by die rugbyveld op te daag en nie my naam met ʼn plank te slaan as ek my rug wil afkap met ʼn hoogspringlat nie? Is dit nie maar beter om net nie verder met klavier aan te gaan nie, want die teorie is besig om hand-uit te ruk.

Photo by Ann H on Pexels.com

Aan die begin van ʼn nuwe jaar dink ek altyd terug aan laerskool en die ewige vrese vir al die nuwe dinge. Alles van atletiek het my bang gemaak. Die onderwysers lyk intimiderend in hul wit klere, waarvan die afsitter soos ʼn sielsieke lyk met die geweer na bo gelug. Die dirigente wat op ʼn klein verhogie voor die pawiljoen staan en gil en jam-blikke visblikke uit elke liewe siel wurg. Dit is die kreet van die dag en jy moet vir vreemde kinders gil wat jy nie ken nie, die groepie dirigente voor jou lei jou oorlog toe en met rooi gebrande gesigte en ʼn gesmeek en ʼn geween word elke laaste kriesel van jou wese getap. As daar in die volgende ruk mondeling gepraat moet word, moet dit maar met ʼn krakerige stem gedoen word, want jy het jou stem geoffer vir mense wat oor pale kan spring en baie ver in sand kan beland.

Sodra die atletiekseisoen verby is, begin heers daar ʼn algehele rustigheid in die skool. Almal het ʼn ritme gevind. Hier en daar begin steek ʼn akademiese probleem kop uit, die Wiskunde begin raak bietjie stram, want die hersiening van die vorige jaar is vasgelê en nou begin die nuwe werk. Dié wat vreeslik gaaf was drie weke gelede, begin raak nou moeg daarvoor en ontwikkel buie. Die onderwysers het klaar ken-mekaar gespeel en begin raak ongeduldig met almal se streke wat hulle in die klas uithaal. My skoene is nie meer so blink nie, my potlode nie meer so skerp nie en my rok nie meer so nuut nie. Dan besef ek die jaar het sy volle aanvang geneem en nou swem ons aan die diepkant en dobber nie meer in die vlak kant rond nie.

Met my Jan-kind wat hierdie jaar Graad 1 toe gaan en die skryfbehoeftes en skoolklere wat gereed moet wees, voel dit kompleet of ek weer skool toe gaan. Die manier van dinge doen het aansienlik oor die jare verander, maar is tog ook nog dieselfde. Nuwe boeke, nuwe skryfbehoeftes, nuwe maats, nuwe roetine – dit is als dinge wat ʼn klein mensie baie bang kan maak.

As ek na baie jare terug kan kyk en dink niks van daai goed het my doodgemaak nie, net groot, onthou ek hoe intens ek alles ervaar het toe ek daar was.

Jan het sommer vanaand gehuil oor Heidie, ons hondjie, wat al laasjaar hemel toe is. Ek dink dit is maar angstigheid omdat die slapies nou min raak en die afwagting het ʼn lang ruk gehad om op te bou.

Ek kan dit nie vir hom sê nie, maar my broek bewe ook maar bietjie. Ek moet gereed staan om trane af te vee, aan te moedig, huiswerk te herhaal, roetine te volg, vroeg op te staan en my nie te steur aan boommammas wat onderlangs kompeteer en kyk hoe hulle die juffrou kan beïndruk nie.

Gereeld as die boeties speel hoor ek Jan sê vir Ben: “ons speel net, dis nie ʼn kompetisie nie”. Miskien hoor hy dit baie by my, of miskien hou hy regtig ook nie van kompetisie nie, nes sy ma.

Wel, Jan. Ons twee banges is saam in hierdie ding. Genadiglik skop jy nie jou jaar met jam-blikke visblikke af nie, so dit voorspel net belowende dinge vorentoe.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.