As mens te veel doen

Met die reën wat kort-kort val en lug bo ons koppe vol beloftes, op ʼn doodgewone Woensdag, sit ek tevrede met ʼn koffie terwyl die seuns speel.

Photo by Karolina Grabowska on Pexels.com

Jan en Ben wou die strate vat en toe keer die reën hulle om maats te gaan soek. Die twee het vinnig besef hulle is dan vir die middag opgeskeep met mekaar. Ek het nie vandag die emosionele kapasiteit om skeidsregter te speel of om speletjies uit te dink nie, ek dink stilletjies by myself hulle moet maar bietjie afbreek en omkrap, net sodat ek bietjie vrede kan kry en in rustigheid begin om met die aand se kos te begin.

Ek was die laatlam in die huis, nommer vier om presies te wees. Vandat ek in St. 2 was, was ek die enigste kind in die huis, die ander drie grotes was al uit die huis teen daai tyd. Naweke en vakansies moes ek die fiets vat en Upington se bloedige warm strate aandurf as ek by ʼn maatjie wou kuier. Die gedagte het gedurig by my opgekom dat ek dalk mag verskroei en verdwaal in die hittegolwe en nooit weer my familie sou sien nie.

Ek onthou hoe ek dan, soos elke ander keer as ek verveeld was, my ma gaan raadpleeg het vir idees. Sy was gewoonlik besig om te kook vir ʼn weermag of om te stryk. Al was ons daardie tyd net drie in die huis het sy steeds groot gekook, want sy het geglo ʼn vrieskas is ʼn ding wat vol moet wees. As ek met hangskouers voor haar gestaan het, met die hoop dat sy my gaan inspireer, het dit nooit gebeur nie. Ek kan eerlikwaar nie aan een enkele keer dink wat sy vir my ʼn blink gedagte gegee het wat ek kan doen nie.

Daar was nie ʼn rympie van: “gaan speel bietjie Barbie” of “gaan ry bietjie fiets” nie. As sy in ʼn uitsonderlike goeie bui was en die strykhopie was al redelik plat, het sy my soms verras en gesê: “blaai bietjie deur daai boekie” en dan het sy met haar vinger na die kas bo haar kop gewys. “Daai boekie” was Handjies uit die mou, die boek was vol vaal foto’s van tannies wat baie ingewikkelde handwerk doen. Ek wou dadelik my handjies terugtrek in my mou en was dan meer depressief omdat ons nie al die snaakse gomme en papier in die huis het nie en die obskure grafika van die boek was ook nie juis ʼn bron van inspirasie nie.

So meeste van die kere was my ma se antwoord maar net bloot: “ek weet tog nie, gaan soek iets om te doen.” Nou ja, met die lewenswysheid is ek ʼn vakansie ingestuur, ʼn naweek was nog hanteerbaar, maar om daardie woorde te moes aanhoor aan te begin van ʼn Desembervakansie, was hartverskeurend. Hoe op aarde moes ek iets uitdink? Teletubbies was daardie tyd nogal gewild en groter kinders moes dit maar ook gekyk het, aangesien die SAUK seker gedink het die bevolking se kinders bestaan net uit 0 tot 3-jariges.

Die televisiekamer het in elk geval baie warm geword, veral op die middag, so dan moes ek noodgedwonge vlug. In my kamer het ek begin papier soek, deur ou tydskrifte geblaai, gekyk of ek ʼn prentjie kan afteken. As ek genoeg daarvan gehad het, het ek bietjie klavier gaan oefen en liedjies wat ek ken lekker baie gespeel en my verbeel ek is op ʼn verhoog voor baie mense by ʼn konsert. Dit was altyd lekker om in my ma se werkkamer rond te grawe, daar het lappe, wol, lint en idees uitgekom.

As sy dan nie vir my wou sê wat ek kan doen nie, moes ek self die idees gaan soek het. Stukkies lap wat ek in die hande kon kry, het gewoonlik Barbie-klere geword. En aangesien ek klaar doenig was as kleremaakster, het die dwergies, wat ek geglo het in die holte van die olyfboom woon, ook nuwe klere gekry. Ek het dan die nuwe klein kleertjies voor hul gat in die boom gaan sit. Na so ʼn dag se spelery het ek meestal op ʼn hele paar ander goed in die huis afgekom wat ek kan gebruik om iets mee te maak die volgende dag. Die dae wat volg het dan al hoe makliker geword, ʼn bokskonstruksie vir ʼn Barbie-huis, kompleet met gordyne, meubels en stukkies mat in, my eie tydskrifte wat ek ontwerp het en dan is ek die joernalis, redakteur en voorbladnooi en prentjies uitknip uit tydskrifte om ʼn collage te maak. As ons dan iewers moes gaan kuier, moes my ma mooipraat om my in die kar te kry, want ek het te veel dinge wat ek nog wou doen en wat nie afgehandel was nie.

Tevrede sit en sluk ek my koffie terwyl Jan en Ben voor my speel soos twee droomkinders. Elkeen het ʼn “base” gebou met kussings en die kombuistafel is ook geannekseer om ʼn “base” te wees. Chappies word daar weggesteek, hulle reël vir hulle ʼn swembad, bouers, hulle braai oor en weer by mekaar en maak hulle huise vir hulself mooi tot hulle gelukkig is met die eindproduk. Ek het altyd gedink my ma is naar met my as sy my wegstuur met geen hoop en geen idees, en toe erf ek wraggies die einste eienskap van haar, waaroor ek eintlik vandag nie spyt is nie.

Dit voel vir my ek doen te min vir my kinders en weeg myself gedurig en vind myself te lig. Ek dink ek doen eintlik te veel, ek moet heelwat minder doen, sodat hulle elke dag iets kan bou en maak.

Dit herinner my aan die beste raad vir ouerskap wat ek by my no nonsense buurvrou gekry het:

“the best thing you can do for your children, is to create boredom”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.