Spyt

Met die nuwe jaar wat al goed aan die gang is, maar terselfdertyd steeds hangend, kom die gedagte van nuwe moontlikhede gedurig op. In ʼn tyd waar vrees so tasbaar en opsigtelik is soos nog nooit van tevore nie, weet ek nie of dit ʼn goeie idee is om verder tot daardie bekommernisse by te dra nie. Daar is genoeg mense wat kwaad en bang is, dalk moet ek maar eerder net vir almal glimlag en grappies maak en sorg vir komiese verligting.

Photo by Karolina Grabowska on Pexels.com

Almal is dit eens dat dinge onherroeplik verander het en noem dit graag “die nuwe normaal”. Peste, siekte, dood, bakleiery, geweld en dies meer is so oud soos die mensdom self, ons ervaar dit maar net nou vir die eerste keer, terwyl daar heelwat generasies voor ons ʼn soortgelyke ervaring van ʼn erger graad beleef het.

Ek ervaar mense meer broos en dat hul makliker van hulself deel as vroeër, wat dit eintlik lekker maak om te gesels, want nou weet mens regtig hoe dit met ʼn ander persoon gaan, nie noodwendig altyd net “goed” nie. ʼn Vinnige “hallo, ons moet braai” is ook al bietjie uit die mode uit – iets waarvoor ek baie dankbaar is. Mense is uitgehonger vir kontak en ware emosie. Die wêreld is rou en eerlik en dit is mooi. Niks word meer versuiker met ʼn ekstra roomlagie en ʼn kersie daarby nie, ons het te doen met die naakte waarheid en word gekonfronteer daarmee. Ons het meer tyd om te besin oor wat ons volgende stap gaan wees en hoe ons dinge wil aanpak. Die wêreld draai stadiger en aangesien daar meer tyd vir dink is, is die kans groter dat mens dinge met meer oorgawe kan doen.

Een van my grootste vrese is dat ek eendag as ek met ʼn kniekombersie op ʼn stoep sit met hande wat bewe gaan spyt wees oor goed wat ek nie gedoen het nie. Moes ek meer toelaat? Moes ek harder wees? Moes ek sagter wees? Moes ek minder sê? Moes ek meer sê? Moes ek meer waag? As ek oor iets moet spyt kry eendag en daar is iets wat knaag aan my gewete, sal dit wees omdat ek in ʼn rustige tyd toe die wêreld stilgestaan het nie geleef het met hart en siel nie.

Om om te gee en tyd te maak vir ander het makliker geword, mense is meer broos en drink geselsies en vriendelikheid op soos sponse, iets wat voorheen as vanselfsprekend aanvaar is.

Soms voel dit of ʼn honger leeu my jaag, maar as ek omkyk is daar niks. Dan is dit net weer die onwelkome gas, Spyt, wat kom klop aan my deur. Hy wil net eers weer kom seker maak dat ek oor genoeg dinge bekommerd raak en worry dat ek nie genoeg is nie. Ek is nie ʼn baas van ʼn groot maatskappy met ʼn lang slap kar nie, ek is nie ʼn bekende aktrise wat toekennings ontvang op ʼn verhoog wat met blomme bestrooi word nie, ek is nie ʼn oefenfanatikus nie, ek het nog nie my tuin waar hy moet wees nie, ek het nog nie die wêreld gesien nie – dis die tipe dinge wat Spyt vir my kom sê. Hy kom nie in en vra hoe dit gaan nie, hy draai sommer net weer om en loop nadat hy my kom omkrap het.

So ʼn paar aande terug het Jan my teruggeroep nadat ek vir hom nag gesê het. Die maanlig het strepies op sy gesig laat val deur die blindings en sy netjiese blonde kuif het geblink in die dowwe lig. Al was die kamer donker, kon ek duidelik sy blink oë sien terwyl hy my vertel van hoe sy huis eendag moet lyk. Hy het dit in die fynste detail beskryf. Ek moes die knop in my keel met moeite afsluk omdat ek nie kon glo dat die seuntjie van my in sy ses jaar al soveel dinge kon raaksien het nie. Hy dink vorentoe, hy droom oor die toekoms en hy sien sy huis voor hom staan. Hy wil met hondjies boer en hulle gesond maak en met ʼn Lamborghini ry.

Net soos die peste, siektes, dood en bakleiery is droom ook net so oud soos die mensdom. Om planne te kan maak, om jou pad uit te kap stukkie vir stukkie is deel van die reis.

Toe ek daar op die bed by Jan lê, met sy drie gunsteling teddies in ʼn ry en sy hondjie by sy voete, het ek ʼn wens gemaak dat ek nooit wil spyt wees dat ek nie genoeg geluister het nie. Om ‘n ander persoon se drome aan te hoor is om saam met hom deur die skatkamers van sy hart te loop en versigtig na alles te loer. Ek sal nog moet werk maak van al die ander dinge op die lys wat Spyt al kom uitwys het, maar vir nou fokus ek op luister.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.