Genadejaar

Dis Desember 2020

Die Kersboom het verreis, dis bont balle, engelhare en liggies. Nou en dan kom maak nog ʼn pakkie onder die boom nes. My brein dink stadig, ek soek my motorsleutels in die yskas, gaap gedurig en as ek my kom kry dagdroom ek van ʼn koue ding in my hand en branders wat raas. Pak die karavaan, maak lysies, verlê die lysies, maak nuwe lysies, pak kosblikke vir elke kind en vir ons wat deur die nag moet ry sodat die agterste twee manne in die bakkie kan slaap.

Die oomblik van waarheid het aangebreek en die stadige swaar wegtrek en die stamp wat die karavaan gee as hy van die sypaadjie afwip, is die eerste teken van verlossing. Op die langpad sien ons die mooiste reënwolke en begin stadig maar seker die land se probleme oplos tot die son plek maak vir ʼn sterredak oor ons. Ons hou mekaar wakker soos soldate in ʼn oorlog wat gewond is en nie kan waag om aan die slaap te raak nie. Elke tien minute word daar geruil om te bestuur. Ek sing, ons laat blaas die aircon op ons gesigte, ons luister sokkiemusiek uit ons prille jeug van die middel – tot laat negentigs. Oë wat krap, ʼn dooie rug, bene wat kramp en sterre wat nie meer so helder skyn nie, is alles bewyse dat die pad einde se kant toe staan. Om nie eens te praat van al die lekkergoedpapiere, krummels en deurmekaar speelgoed wat rondlê nie – dit alles net om die 1 000 km wat ons moet aflê draaglik te help maak. Ons moes wegkom. Vlug. Ons vat ons voos breine na die see om weer gelaai te word.

Na die opslaan en ʼn hele paar luilekker dae, het ons ʼn vakansie-ritme ontwikkel – een van min struktuur, min dink, diep asemhaal en lank slaap. Die afgelope jaar het soos ʼn drukkoker, al hoe meer begin plof en die deksel wou-wou afkom. ʼn Mengsel van vrees, angs, bekommernisse, verliese, blydskap, waardering en klein vreugdes. Met die gesinstyd wat ons bygekry het, het daar weer plek gekom vir ander bekommernisse omdat die wêreld uit balans is.

Een laat middag, toe die kinders iewers speel en Abrie die aand se vuur begin stook het vir ons aandete, het ek bietjie onder op die strand gaan sit. Hier en daar was daar ʼn paartjie wat hand-aan-hand verbygeloop het, by die rotse was twee dogtertjies besig om skulpies te soek en daar ver by die horison was my gedagtes. Met elke asemteug het die branders teruggetrek en nuwe lewe kom instoot, aanhoudend en ritmies. Ek sit en grawe nog so ʼn holte met my voet in die sand toe ek opkyk en ʼn hele handjie vol ander siele ook naby my sien staan. Niemand kyk na iets spesifieks nie, niemand praat nie, almal staan net verslae en kyk die verte in. Oë wat moeg lyk, skouers wat aan swaar goed dra, knieë wat deurgebid is. Soos die gety inkom en die branders al hoe harder praat, raak die in – en uitbeweeg van die branders ook al hoe meer hewig, asof die see met ons wil raas.

Een-een het almal weer koers gekies na die see se harde preek bygewoon het. Môreoggend as die son skyn sal die see weer oop en gaaf wees vir die kleintjies om by te kom speel, maar nou dat die kinders moeg gespeel is, moet daar eers bietjie hard gepraat word met die grootmense.

Wat die see vir almal kom sê het, weet ek nie, maar nadat ek daar weggestap het was ek terselfdertyd leeg en vol. Leeg van al die swart honde wat ek gevoer het en vol van dankbaarheid vir al die genade in oorvloed wat ek ontvang.  

Die moeë oë om my, was ʼn bewys dat ons almal maar dinge meer intens beleef het as normaalweg en dat elkeen sy eie unieke uitdagings gehad het. Miskien wou die see daardie dag vir my kom sê dat ek meer deernis moet hê en minder aan my eie vrese moet klou.

Dis nou Januarie 2021

Ek het nie ʼn nuwejaarsvoorneme nie, maar ek dink nog kort-kort terug aan daardie skemer by die see. Die eerste elf dae is reeds verby en dit het nie vanself gebeur nie, dit was net genade, soos wat al die ander dae voor dit was.

Laat my nooit die grond verlaat nie.

Laat my in U skadu bly.

Gee dat elke aardse vreugde en vrees,

eindelik nietig word vir my.

Elke afdraai paadjie ken ek.

Elke keer het ek verdwaal.

Elke keer het U my iewers kom haal.

Maak dit Heer, die laaste maal.

Elke dag is ’n gedagte.

Elke kamer net gehuur.

Elke aardse droom van rykdom en roem,

net ’n skadu teen die muur.

Wat ek is, is net genade.

Wat ek het, is net geleen.

Eintlik smag ek na U waters van rus.

Lei my Heer vanaand daarheen

  • Koos du Plessis

One Comment Add yours

  1. Positief says:

    Vitamien see is die beste om muisneste te verjaag en aleentyd op die strand die oplossing vir swart hond probleme

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.