Iets konkreets

Ek dreig al lank om in die televisiekas se laai te grawe en weer my ou vriende op te soek wat my deur skool gekry het. Daar lê so baie emosie en gevoelens in elk van die CD-kassies, dat ek dit maar vir ʼn lang ruk uitgestel het en eerder ʼn storie gekyk het. Vanaand het ek dit gedoen nog voor ek kon dink of ek die emosionele kapasiteit het daarvoor.

En daar is dit, voor my: Hanson (1997) my eerste CD, Romeo & Juliet se klankbaan (einde 1998), my tweede CD, Nirvana Unplugged (1999), my derde CD, Hole (1999), my vierde CD, Lenny Kravitz (1999), my vyfde CD. Saam met ʼn gros ander CD’s wat gevolg het en elk sy eie storie het, was almal netjies op ʼn CD-rakkie in my kamer. Die voorblaaie was sorgvuldig bestudeer, die boekie was met skoon hande oopgemaak om nie vetkolle te maak nie en dan het ek een vir een die liedjies se woorde geleer.

Op die naat van my rug, in my kamer in Koedoestraat 4, het ek ontsnap na groot arenas, konserte, solovertonings en soms was ek in die musiekvideo, waar ek die meisie is wat in die kar ry met die oop dak, met ʼn bont doekie om my nek en ʼn groot sonbril, al langs die kus van een of ander eksotiese plek waar mense net heeldag op en af met fancy karre ry en nie werk nie. Elke liedjie het sy eie denkrigting gehad, sy eie leefstyl en stempel wat hy afgedruk het.

Nirvana met sy gatjies trui het my getroos as ek gedink het niemand verstaan waardeur ek gaan nie. Lenny Kravitz het belowe hy gaan my kom haal, elke keer as hy Fly gesing het. Hole het my goed laat verstaan dit is okei om jouself te wees en om te sê as jy nie met iets saamstem nie. The Cardigans se Lovefool was altyd gereed om te speel as daar ʼn vlinder of twee in my maag is. All Saints het my met Pure Shores na ʼn strand toe gevat waar daar nie ʼn lawaai is nie en waar ek net van bessies en blare leef. Soms wou ek net in Tracy Chapman se kar klim en ʼn ver ent ry. Black Eyed Peas, Pussy Cat Dolls, Pink, Britney en Shakira was langs die kantlyn om my aan te moedig terwyl ek gereed maak vir ʼn sokkie. As ek prentjies in my huiswerkboek wou plak en die weer was lekker koel, het Norah Jones gesing Come away with me.

Ek het nie ʼn onuitputbare bron van sakgeld gehad nie, ek het my maandelikse toelaag gekry wat genoeg was vir snoepiekos so nou en dan deur die week, maar as ek my oog op ʼn CD gehad het, moes ek wag vir een van my ooie om te lam. Dan moes ek wag vir die lam om groot te word sodat hy slaggereed kon wees. Dan moes ek hoop die CD is nog in Musica na slagtyd. Gewoonlik het ek so tussen R300 en R400 vir ʼn lam gekry, so as ek oorskiet sakgeld bylas, kon ek drie CD’s koop op een slag. Ek het weke gehad om dit te bepeins en het lysies gemaak van al my gunstelinge, name geëlimineer en teen die tyd wat ek ʼn geleentheid kon kry om in die bakkie te klim as daar dorp toe gery word, het ek presies geweet wat ek wou hê. Ek het altyd baie belangrik gevoel as ek met my papiertjie daar instap en die persoon agter die toonbank moet gaan grawe en help soek om die CD’s op te spoor.

Die kinders wat voor die nuutste Bump of Now CD’s by die ingang gedrom het, het dan gegiggel as die verkoopsman met iets soos Sugaray in sy hand na my toe aangestap kom. Ek het steeds trots gevoel omdat my CD meer tydloos was as hulle keuse van sokkietreffers en dat ek nog vir lank na my musiek sou kon luister waar hulle doef-doef musiek maar ʼn rakleeftyd van ‘n maksimum van ses maande gehad het.

My pa het my altyd vreeslik gepaai op sy diplomatiese manier om dit tog te oorweeg om my skaapboerdery uit te brei en nie elke lam slagpale toe te stuur vir geld nie. Wat hy gesê het, het sin gemaak, maar die behoefte aan nog ʼn nuwe vriend op my CD-rakkie was groter. Nodeloos om te sê vroeg op universiteit het ek die laaste paar lammergeld gekry waarmee ek kon CD’s koop en toe kon ek eers weer die versameling aanvul toe ek begin werk het.

Saam met die musiek in die kamer was dit musiekvideo’s, maar dit was ʼn probleem, want ons het nie Dstv gehad nie. ʼn Vriend, Ivor, het tot my redding gekom en die European Top 20 en die US Top 20 vir my op band opgeneem en met sy fiets dit kom aflewer en op ons posbus gesit. Ek het oor en oor na die musiekvideo’s gekyk: forward, rewind, forward, rewind, pause vir ʼn glas Coke, play. Inruil vir die moeite vir die opneem van die musiekvideo’s het ek vir hom Ofm se Top 20 op ʼn Saterdag opgeneem vanaf die radio, as mens record druk terwyl die radio speel, het die musiek opgeneem op die band. Ek dink nie hy was veel te vinde van Ofm se speellys nie, aangesien MTV ʼn veel beter verskeidenheid gebied het, maar dit was die gedagte wat getel het.

Al my gunsteling liedjies is deel van my tydlyn en het my help en laat besef dat ʼn boks iets is wat ʼn los bokant het, waaruit mens kan klim en dat die ruimte buite ʼn boks veel meer het om te bied. Die CD’s was nie net kunswerke nie, dit was ook iets konkreets waaraan ek kon vat en weet dit iets is wat van ver oor die waters kom en dat drome kan waar word. ʼn Fisiese ding is tasbaar en is veel meer deel van jou bestaan as vandag se musiek wat op wolke gestoor word en enige tyd van die dag afgelaai kan word.

As Jan ʼn nuwe liedjie wil hoor waarvan hy hou, kan hy kies of hy dit saam met die musiekvideo of sonder wil hoor, in die kar, in die huis, selfoon, rekenaar of televisie, bluetooth nog daarby en ons luister dit sommer lekker hard oor die luidspreker. Die begeerte na ʼn CD is weg, die fisiese vashou van die boekie, die gesels met jou vriende oor jou versameling, die bespreking van nuwe CD’s en wie wat gaan koop, die opstel van jou gunsteling liedjies wat ʼn kind met ʼn fancy rekenaar vir jou moet skryf vir R30 is nie meer daar nie.

Foto’s en musiek was goed waaraan mens kon vat en jouself inleef. Jy moes met jou amateursfoute saamleef as jou hele filmrolletjie uit fokus was en jy net mense se broeke en skoene afgeneem het. Die lang proses om my ma sag te maak om ʼn nuwe film te koop was ook ʼn kuns op sy eie, dan die opvolg vraag was om dit asseblief te laat ontwikkel as sy weer dorp toe gaan.

Ek wens ek kon my kinders vir ʼn dag na die negentigs toe vat, ek dink hulle sou baie kon leer. My wens is dat ons altyd sal soek na konkrete bewyse: skulpe en klippies in ʼn bottel is bewyse dat ons langs die strand gestap het, optelgoed in my studeerkamer is bewyse dat my kinders aan my gedink het toe hulle iets ouliks op die grond sien lê het. Mens maak nie skatte op aarde bymekaar nie, want niks kan mos saam hemel toe gaan nie, maar terwyl ons hier op aarde is, mag ons mekaar herinner met konkrete bewyse dat ons die mooi tye wil uitlig en saam met ons neem.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.