Swartskaapjaar

Ek wil graag hierdie swartskaap van ʼn jaar bedank, want ek het meer waardevolle lesse geleer in ʼn jaar as wat ek in tien jaar kon met ʼn doodse roetine en ʼn gejaag na niks. My wens vir hierdie jaar het waar geword: ek wou begin stadig leef. En ek het. Meeste van ons het. Toe ek my wens gemaak het, voordat ek vóór middernag reeds met my jamies in die bed geklim het, nie besef watse waarde daar in ʼn stadiger lewe lê nie. Om stadig te leef is baie meer as wat ek dit vir myself kon voorstel of indink. Wat aanvanklik soos ʼn straf gevoel het, het ʼn seëning geraak.

Photo by Snapwire on Pexels.com

Snaaks genoeg toe die groot wens soos ʼn reus by ons huis kom instap het, het ek hom aanvanklik nie herken vir wie en wat hy is nie en was eers bang. Die stadige reus was geduldig en het elke dag weer aan ons deur kom klop. Hy was eers ʼn lastige gas, maar nou is Stadig ons vriend. Sodra ʼn dag se verpligtinge te veel raak, verlang ek vir Stadig.

Teetyd en middagbroodjies om die kombuistafel klink soos iets wat net mense op die platteland kan geniet, maar wraggies kon ons dit ook begin ervaar en waardeer. My plante gaan minder dood, ek onthou meer gereeld om tuin nat te maak en nou het dit selfs al ʼn daaglikse ontmoeting geraak en die kinders weet hulle moenie dan kom vra vir koekies nie, ek wil in stilte staan en my plantjies se dors les. Ek kyk hoe hulle groei en wonder hoe sterk hul wortels al geanker het in die grond en of hulle groot, gelukkige bosse gaan raak. Daar is tyd om te dink oor vanaand se ete en wat om solank reg te sit. Daar is tyd om saam met Jan huiswerk te doen, met Hennie bal te speel, ʼn legkaart te bou, ʼn boek te lees, ʼn nuwe hekelprojek aan te pak en om op Vrydae ʼn koek te bak wat die kinders kan versier. Vir iemand wat van vroeg tot laat aan diens moet wees, buite die vier mure van sy huis, mag dit dalk irriterend en stroperig klink – soos die gelukkige tannie in Sound of Music,wat oor die groen heuwels huppel en vir kinders stories lees.

Almal het horlosies en tyd stap vir almal teen dieselfde spoed aan, daarom moet elke tydgleuf so kosbaar moontlik benut word sodat alles nie in elke segment van die dag ʼn gejaag is nie. Stil tye is nie niksdoen-tye nie, dit is ook produktief in sy eie reg. Stil tye is wanneer mens herlaai om die volgende taak weer met durf aan te pak. Wanneer mens eerder liggies draf en dan weer flink stap, beweeg jy oor ʼn groter afstand en verskuif jy op die ou end berge omdat jy beter uithouvermoë het.

Dit is amper asof dit in die mode begin raak het om te sê hoe besig jy is, hoe baie laste jy moet dra, hoe almal jou energie van jou steel en hoe min bevrediging jy uit die lewe kry.

Om tyd te spandeer saam met mense wat jou hart vertroetel en positiewe insae in jou lewe lewer, is waardevol.

Om jouself te dwing om nie elke naweek vol te maak met kuiers nie en jou eie en jou gesin se geselskap te waardeer, is betekenisvol.  

Om te besef dat nie alles wat skeef geloop het 2020 se skuld is nie en dat die kaaskrul tjippie wat op jou skouer lê, heel moontlik al sy sit ʼn paar jaar vantevore daar kom kry het, is insiggewend en kan jou lewe verander.

Om te besef dat geld gemak kan koop, maar nie geluk nie, is nodig.

Ek het vir te lank gedink dit is net huisvrouens wat tyd het vir allerhande dinge wat lekker is, maar na hierdie stadige reus van ʼn jaar hom kom tuismaak het, het ek besef dit sit in elke persoon om die rat laer te skuif, asem te skep en om elke oomblik in te drink asof daar nie ʼn môre is nie.

2 responses to “Swartskaapjaar”

  1. Moet darem ‘n lansie vir die huisvrouens breek: met al die werk wat hulle buitenshuis doen – in die snoepie, by funksies en konserte, in verenigings, by die kerk, met die rondry en oppas van beroepsvrouens se kinders, raak hulle ook vasgevang in ‘n malle rondomtalie.

    Like

  2. Ek stem! En nou dat my lewe stadiger is, is dit sommer ook waardiger, g’n onstylvolle gefladder en gegly om die draaie van besigwees en jaagteentyd nie!

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: