Onthou die nou

Party mense sit al met leë neste, maar terwyl ons sʼn nog vol aksie en lewe is, probeer ek soveel as kan onthou en inneem. Ongelukkig val die pittige sêgoed te vinnig na mekaar, so ek sukkel om by te bly, maar vandag het ek weer opnuut besef hoe baie ons eintlik lag vir nonsens en hoe baie stories daar vertel word. In die middae kan my kop nogal begin draai van al die gepraat en harde lawaai (verbasend hoe hard ʼn 3-jarige en 6-jarige ʼn huis se dak kan laat lig) – dan glip ek uit vir ʼn draffie om die blok. Ek doen dit nie om plankdun te word nie, daarvoor is my uithouvermoë veels te swak, ek doen dit om vir 5 minute my eie gedagtes te kan hoor en om met myself te kan gesels en te hoor of dit nog met my goed gaan. Vanmiddag toe my tekkies op die paadjie ritmies slaan, en ek soos ʼn wafferse Elana Meyer voel, besef ek dat ek ʼn plan sal moet maak om ʼn gewone dag te dokumenteer, die dinamika gaan gereeld verander en eendag as die manne stilstuipe kry en nukkerig raak met mekaar, dan het ek nog bewyse van ʼn tyd toe hulle mekaar gekielie en gegiggel het tot die krane wou oopdraai.

Vanmiddag toe ek vir Jan gaan oplaai vra ek hom uit oor hoe dit gegaan het in die klas met sy nuwe leesbril en of hy onthou het om dit netjies te bêre en of hy dit saggies aan die raampie gevat het. “Moet jy dit baie opskuif Jannie?” “Het jy uit jou eie onthou om dit op te sit?” “Wat sê die maatjies?”

Met min entoesiasme om al my vrae te beantwoord, buk hy baie stadig en kalm vooroor, maak sy sonbril se kassie oop soos ʼn ou kenner, glip dit op sy gesig en tuur by die kar se ruit uit. Effe geïntimideerd dat my baba eweskielik soos ʼn klein James Dean lyk, maak ek weer keel skoon: “So, hoe was dit? Vertel vir mamma.”

Die hand beweeg na die heup, die mondhoeke trek na onder en handgebare, soos dié van ʼn kletsrymer, begin in ʼn rustige stemmetjie eweskielik met my praat: “Mamma, ek het vir Nian gesê hoekom ek ʼn bril moet dra. Vir die res van die kinders het ek gesê my ma het my op my oë geslaan. En ja, ek het onthou om my bril op te sit, Juffrou hoef nie vir my te sê nie.”

Weereens besef ek die kind is meer pligsgetrou as sy 35-jarige ma en draai toe maar die musiek harder om vir hom ʼn lekker liedjie te speel. Toe ek stilhou, moet ek ʼn selfie van ons twee neem en ek word aangespreek omdat ek nie iets cools met my hande doen nie.

Na middagete is dit weer ek en Jan in die kar, op pad om vir Ben te gaan haal vir swem. Ben is oor die maan en kan nie glo dit is Dinsdag en dat hulle nou kan swem nie. “Dankie julle!” word ʼn paar keer van agter in die kar herhaal. Hy wys vir my ʼn paar items wat hy op die speelgrond opgetel het: ʼn mannetjie se arm, ʼn stuk van ʼn ballon en ʼn klippie – die man het spesifieke planne daarmee en nadat hy sy daaglikse potion gemaak het by die huis (dit is sy unieke mengsel van stroop, sout, tamatiesous en water) – wil hy graag iets bou met al die “pieces” soos hy sê.

Jan noem dat hy nie gou weer sy hare wil laat sny nie, want anders kan hy nie sy kuif regop maak nie. “Ek wil soos ʼn rockstar lyk en ek wil ʼn kitaar speel met flames op.”

“Oh”, sê ek, “wil jy in ʼn band speel Jantjie Pan?”

“Ja”

“Ek wil ook in ʼn band speel”, kom dit van agter uit die kar.

“Ja”, sê ek, “Jan kan kitaar speel, Bennie kan dromme speel en ek sal sing”

“No can do”, kom dit van die koel komkommer wat voor sit. “Ben het net baba-dromme met ʼn toutjie aan.”

“Ai Jantjie, ons kan almal leer hoe om die regte grootmens instrumente te speel, Ben kan ook leer”, probeer ek opkom vir die gretige dromspeler.

“Ek weet nie so mooi nie, maar okei.”

By die swem kap Ben sy mond aan die einde van die les, omdat hy te rof wou uitklim en die bloed loop. Vir ʼn baie klein rukkie is hy weer my baba en kan ek hom sus op my skoot. Dit is egter van korte duur, want Jan moet uitklim en droog aantrek. Nadat elkeen weer sy klere aanhet, die gordyn oudergewoonte oopgeruk is, hulle albei geskree het: “iemand gaan my privaat skree, stop dit!”, staan Jan en blaas sy klein boetie se hare droog. Gewoonlik is ek teen hierdie tyd al bietjie ongeduldig, maar vandag wou ek tjank toe ek dit sien.

In die kar op pad huis nadat almal hul deure toegemaak het, gooi Jan sy boude na my kant toe, “ek het ʼn persentjie vir jou” en ʼn knallende poep volg. Dis ʼn onophoudelike gelag omdat ek gril vir die walm, maar binne oomblikke is hy weer James Dean met sy sonbril en die karakter is dadelik weer sigbaar. Die cool handgebare en die klein wysvingertjie wat hy in die lug hou terwyl hy praat as Ben hom in die rede wil val, is weer eens iets nuuts, maar ek hou my maar in, terwyl ek eintlik dik van die lag is.

Vanaand in die bad word daar vir my vertel van die brandweerman wat die skool besoek het en elke keer as ek wil reghelp of ʼn vraag beantwoord, word ek gekeer met die eintlike antwoord. “Mamma dink seker die vuurmanne blus die rook. So gedink. Eintlik gaan hulle vir die vuur en hulle mik ondertoe. Min mense weet dit, maar die vuuroom het dit vandag vir ons geleer. Het Mamma geweet wat is die gevaarlikste plekke in die huis?” Ek wil nog dink om iets te sê, “die kombuis en die garage, want daar is baie kragdrade. Die TV-kamer ook, want ʼn mens se hond kan drade kou en dan kan daar ʼn vuur kom, en dan moet mens dit blus, boom.”

Terwyl ek die lywe was, kry ek die gebruiklike scenario’s wat Jan vir my uitdink. “Wat sal Mamma doen as jy met jou klere in ʼn swembad val?” “Mamma, sal jy jou hand vuurwarm maak in ʼn mikrogolfoond?” Ben brand om ook iets te sê en ek probeer ʼn kans waag om vir Jan stil te kry. “Kyk my pienk dinosour kan swem Mamma, hy is nou my nuwe baba!” Ek moet dan ook die dinosourus met sorg bad, met die handdoek afdroog en hom op die bedkassie gaan sit, want Ben wil vanaand met ʼn pienk dinosourus slaap van ongeveer 2 cm en wat dit heel moontlik môreoggend met ʼn groot lawaai gaan soek.

Ons Bybelstorie gaan oor superhelde wat moet omgee vir ander en ek moet dit twee keer lees, want die eerste keer het almal net op Hennie gefokus en vir hom ʼn bal probeer gee. Na ons storie, grawe Ben weer die bal uit wat Jan aspris vir Hennie weggesteek het en daar is weer oorlog. Jan wil weet hoekom is Ben so aspris en Ben kan nie verstaan hoekom hy voorgesê word nie. Ben klim met sy hasiemelk in die bed (wat die afgelope twee weke ook warm moet wees en hy kan eweskielik nie meer koue melk in sy lyf kry nie) en natuurlik die pienk dinosourus. Jan kruip in en Hennie kies sy lêplek agter sy Jannie se rug, waar hy veilig voel. Ek moet weer vir Jan gerus stel dat Ben môre sy bes sal probeer om soeter te wees en moedig hom aan om net geduldig te wees met die 3-jarige klong.

Môre en die dag daarna se ritme gaan min of meer dieselfde wees, maar verder as dit weet ek nie. Die liedjie verander kort-kort van wysie en ek is dankbaar dat ons nog kan saamsing.   

One Comment Add yours

  1. Dis wonderlik dat jy so bewustelik hierdie kosbare dae geniet.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.