Waar lê geluk?

Op 16 Januarie 2008, het ek my Nissan Sentra, met al my karige besittinkies gepak en die lang pad Transvaal toe aangedurf. Dit was makliker gesê as gedaan. My arme broer moes eers vir ʼn dag lank op sy verjaardag, 15 Januarie, deur ʼn daglange marteling sit op die bus van Johannesburg na Upington, net om weer die volgende dag wéér in ʼn kar te sit en saam met sy bang suster op die pad te wees en haar te vergesel.

My besittings wat ek soos skatte deur die jare versamel het, was almal by my en met Derick langs my sy, het ek kans gesien vir hierdie nuwe vreemde hoofstuk. Met Ouma Ella se doilies, ʼn ou mikrogolfoond wat dateer net na die Ystertydperk, ʼn magdom CD’s, al my klere en ʼn paar breekgoed wat altyd in Ouma Ella se vertoonkas gestaan het. Iemand anders sou die spulletjie net een kyk gee en besluit het dis niks werd nie, maar vir my was dit heiligdom. ʼn Klein plastiek kangaroe wat ʼn baba in haar buidel dra, en as jy op haar stertjie druk, spring die baba uit – dit was my pa se speelding toe hy klein was; ʼn bruin krale handsakkie, wat slegs vir kyk bedoel is en te onprakties is om te gebruik; handsakke en belte wat van laerskool af saam met my kom; jasse wat lankal uit die mode was, maar alles moes in, want ek gaan na die groot stad toe.

Tussen al die kitch items wat ek nog my lewe lank saam met my piekel (en wat vandag steeds kroonplekkies in die huis het), was daar ʼn klein leë notaboekie. Ek was van plan om daardie boekie vol nommers en adresse te skryf van agente of enige persoon wat in die vermaaklikheidsbedryf was, want ek was vasberade ek gaan die volgende Brümilda van Rensburg wees en nog voor Kersfees daardie jaar op die Sarie se voorblad pryk. Niemand het my geken nie, maar hulle sou binnekort. Hoe, het ek nie geweet nie, maar ek was vasberade en oortuig dat iets magies sou gebeur en mense oor hul voete sou val om my in hul stories te kry.

Groot was die ontnugtering toe ek nog drie weke later steeds uit vrees vasgevang sit in Abrie se woonstel. Te bang om brood te gaan koop, wat nog te sê om in my kar te klim en na ʼn oudisie toe te ry in Sodom en Gomorra. Ek het wel na ʼn paar gegaan later, na vele aanmanings deur Abrie en pleitgebede dat niemand my asseblief moet aanval nie. Met die roete neergeskryf op ʼn stuk papier wat ek met wondergom op die stuurwiel geplak het, kon ek uitkom waar ek moes, maar was ʼn totale wrak as ek by die ander punt uitkom.

Nodeloos om te sê die oudisieding het toe nie juis geloop soos ek wou hê dit moes nie en om nog as kelner te werk in ʼn restaurant om op enige tyd beskikbaar te wees in die vreemde stad met sy donker gate, het my ook bietjie dwars in die krop gesteek.

Teen wil en dank het ek in die onderwys beland en geluk het soos ʼn ver droom gevoel.

Niks wat goed en mooi was kon ek raaksien en waardeer nie en ek het die slapies afgetel vir naweke en skoolvakansies. Ek het van dag tot dag, periode tot periode geskuif en net die tyd omgewens omdat ek nie gehou het van wat om my is nie. Dinge wat my kollegas se oë laat blink het, het my geïrriteer: personeelhempies, kaskardae, revue, sport, die getwis oor die perfekte parkeerplek, ʼn gekibbel oor hoe almal se roosters vir die volgende jaar lyk, die lys gaan aan. Ek het by myself gedink: “dit was mos nie wat ek in gedagte gehad het vir myself nie, so dan beteken dit seker ek hoef ook nie opgewonde daaroor te raak nie.”

Genadiglik het tyd gekom en gegaan en meer lesse kom leer as wat ek verwag het:

Maar wat dan?

ʼn Plek kan jou nie gelukkig maak nie;

ʼn Werk kan jou nie gelukkig maak nie;

Jou man/vrou kan jou nie gelukkig maak nie;

Jou vriendinne kan jou nie gelukkig maak nie;

Selfs jou dierbare kinders kan jou nie gelukkig maak nie;

Om ʼn gesonde leefstyl te handhaaf kan jou ook nie gelukkig maak nie;

Mooi karre en huise kan jou nie gelukkig maak nie;

Geen goeters kan jou gelukkig maak nie;

So vreemd soos wat dit klink, moes ek dit oor en oor leer tot dit later in my brein ingegriffel is:

Om te waardeer wat jy het en waar jy tans is en om niks anders te wil hê nie, is geluk.

Die blote feit dat ek niks anders wil hê as wat ek nou het nie, maak my gelukkig. Om saam met die kinders te kan blokkies op die mat speel, om vir hulle te lees, om as gesin saam te kan kamp of om te lag vir mekaar se poepe en om nêrens anders te wil wees as hier nie, is geluk.

Miskien is geluk baie eenvoudiger as wat ons grootmense dit wil uitmaak om te wees. Geluk is nie ʼn droom of ʼn ideaal wat jy moet nastreef nie, dis nie ʼn bestemming nie, dis nie klomp nulle in jou bankrekening nie – dis jou gesindheid en die waardering vir die oomblik waar jy nou is.

Dalk klink dit simpel en té eenvoudig om waar en eg te kan wees, maar om dit wetenskaplik te gaan ontleed gaan dinge tog net verder kompliseer.

Daar is altyd lelike dinge om te kan raaksien. Daar sal altyd politieke nonsens en bakleiery wees, daar sal altyd finansiële uitdagings wees, maar die wete dat jy die wil en verstand het om iets moois in die gemors raak te sien, is geluk.

One Comment Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.