Bang

Na gisteraand se Carte Blanche-episode kon ek nie slaap nie. Die CBD-druppels het ook nie juis gewerk soos hulle moes nie en my kop het bly dwaal na ʼn lelike plek, ʼn plek vol kopbene en vrees. Dan forseer ek myself om aan ʼn veld vol blomme te dink, maar voor ek my kom kry raak die straat weer donker, die ligte doof uit en die blomme se koppe begin hang weer en word weggewaai in ʼn warrelwind vol ander rommel.

Photo by Francesco Ungaro on Pexels.com

Die wêreld lyk grys, soos ʼn hartseer oorlogfliek met vuil gesigte, vaal kleure en geen vreugde. Ek lê en dink hoe ek van nou af sal moet beplan om inkopies te doen sonder om die kinders by my te hê en hoe ek my draaie en reëlings sal moet aanpas. Hulle kan maar elke keer dink dit is net toevallig dat mamma alleen winkel toe is, nie omdat sy bang is iemand probeer hulle gryp nie.

Ek dink aan my daaglikse roete wat ek ry en probeer ʼn ompad uitwerk om nie by plekke te lande te kom waar daar nie verkeersligte is nie, sodat die verkeer beter kan vloei en ek nie oor ʼn besige straat hoef te sukkel sonder ʼn groen lig of ʼn sirkel nie. Abrie het al gesê ek kan gaan vir skietlesse, maar ek het nog net een of twee skote met die vuurwapen afgevuur en gereken ek sal eerder die skurk weg gil as wat ek gaan oorlog maak.

Eweskielik klink die idee van ʼn wapen nie so vergesog nie en oorweeg ek dit. Die nag is baie lank en daar is te veel tyd vir dink. Ek dink hoe ek sal reageer as iets met die kinders moet gebeur; wat ek sal doen as daar ʼn onwelkome gas in die huis is wat ons wil leed aandoen; ek hardloop weer deur die moets-en-moenies vir hoe om te maak as ek by ʼn verkeerslig kom: veilige afstand, spieël, spieël, blindekol, spieël – dieselfde ressitasie as toe ek uitgepasseer het.

Ek is kwaad vir die kwaad om ons en dat dit so naby ons is. Mense sit sonder werke en sien misdaad as die toevlug vir vinnige geld, meer mense begin doen dit en die sirkel raak net al hoe groter en boser. Ek word vanoggend taamlik bedruk wakker toe ek onthou dat ek met aaklige gedagtes gaan slaap het en dat ek nie juis beter voel nie.

Dit is 12:20 en ek moet ry om vir Jan by die skool te kry. Ek beland by al die gevaarpunte waaraan ek gisteraand so gedink het en kyk rondom my. Daar is klomp ander banges, nes ek. Vandag lees ek nie die arm mense se plakkate nie, ek fokus net op oorlewing. Ek kry vir Jan en hy vertel my hoe lekker sy dag was en wys vir my sy mooi langnek dinosourus wat hy geverf het. Die kunswerk het hom heeldag besig gehou, die beplanning is agterop, gevolg deur ʼn groter weergawe op die ander kant, dit is geverf en party dele is so netjies as kan met pastelle omlyn.

Toe ons by die huis kom, loer ek wat oor is in sy kosblik om vir hom iets aanmekaar te slaan, aangesien die kind ʼn wurm deesdae in sy maag het. Ek bekyk die driehoek broodjies, pakkie Nik Naks, leë Tinkie papier en hier en daar ʼn oorblywende toffie, die daaglikse “breinkos” is ook op (dis saadjies en neute wat hy net by die skool eet om sy juffrou te wys hy is gehoorsaam, by die huis is dit egter ʼn ander storie). Ek haal die pakkie huiswerk uit wat ons moet deurwerk vir Woensdag en sit dit solank reg.

Dit raak toe amper weer tyd om te ry om vir Ben te kry, na sy middagslapie. Soos wat ek in ry by die skool, staan die Copwatch man by die hek, vir ekstra sekuriteit, en ek onthou weer hoekom ek gisteraand nie kon slaap nie. Bennie vertel vrolik met wie hy almal gespeel het, watse storie sy juffrou gelees het en wat hulle alles in die klas gedoen het.

Later die middag kry elkeen ʼn verassing wat ek van die winkel afgebring het, ek spuit die tuin nat en die twee manne besluit om hulle swembrille, swemklere en sambrele nader te trek vir die geleentheid. Kort-kort is daar twee bont, laggende sambreelkindertjies wat deur die tuinslang se straal water hardloop.

Die res van die middag behels gou klaarkry met kos en die kinders kan televisie kyk. Terwyl ek besig is met lasagne, kry ek bestellings van visvingers en pizza en die ewige pleaser wat ek is, maak ek maar en dra aan. Toe badtyd verby is en ons lees storie, lê Jan met sy kop op my skoot en Ben klim amper binne-in die boek so nuuskierig is hy. Elkeen kry sy hasiemelk, ʼn lang druk en ʼn soen en die lig is af.

Sielsaligheid, nou kan ek bietjie sit of net ʼn glas Coke down.

Sonder dat ek gedink het hierdie ou grys gemoed van my sal sommer net so wegwaai, besef ek dat ons kinders ʼn lekker dag gehad het, ten spyte van my bekommernisse, ten spyte van wat buite ons vier mure gebeur. En net soos die ander banges soos ek, is daar reeds ʼn plan met alles, ten spyte van ons bekommernisse.  

One Comment Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.