Dis heerlike lente

Op skool kon ons altyd R2 betaal om gewone klere op lentedag aan te trek en oudergewoonte het die winter aspris daardie dag sy koudste windjie gestuur om ons te terg omdat ons almal kortmou klere en blommetjies rokke gedra het.

Photo by Oleg Magni on Pexels.com

Dit was vir my lekker om vir my juffrou ʼn blom te vat, as my ma se rose nie nog nie mooi oop was nie, het ek ʼn bloeiseltak in die hand gekry om te oorhandig. Ek onthou as dit ʼn roos was, het my ma handdoekrol klam gemaak en om die steel gedraai sodat die blom die skooldag kon oorleef. Iewers deur die dag het ons dan almal saal toe gegaan en liedjies gesing, waarvan “Dis Heerlike Lente” natuurlik die treffer van die dag was.

Mense plant ook bome op die 1ste September en baie veldtogte vat vlam vir omgewing en mense om by te baat. Daar word marathonne gereël vir liefdadigheid, tuine word weer reggeruk en in die harwar van die aankondiging van die nuwe seisoen probeer mens jou asem vind wat jy laas uitgeblaas het toe die somer gaan lê het.

Die begin van lente het nog nooit ʼn drastiese verandering in my gemoed gehad soos wat dit by ander mense noodwendig het nie. Ek word altyd onkant betrap met die gedagtes: “het ek genoeg gegroei in die winter?”; “het ek in die koue genoeg gedoen om die warmte en die ligter lewe te verdien?”; “het ek genoeg brandhout bymekaar gemaak om my te dra vir die volgende seisoen?”

Elkeen ervaar die seisoene fisies en geestelik anders. Vir my is die winter ʼn wegkruip seisoen waar ek kan hiberneer en introspeksie doen. Ek keer in myself en oorleef op die energie wat ek bymekaar gemaak het in die warm maande, maar terselfdertyd reserveer ek ook energie om weer die nuwe seisoen aan te pak met nuwe durf.

Sodra die lente dan kom, dan wonder ek altyd of my brandhout genoeg sal wees. “Het ons genoeg kwaliteit saamweestye in die huis gehad?” “Het ons genoeg mooi herinneringe gebou?” “Wat sal die kinders van die winter van 2020 onthou?” “Het ek my hart genoeg gesnoei in die winter om van alle dooie takke en onkruid ontslae te raak, sodat daar weer nuwe saad geplant kan word sodra die dae weer langer is?”

So in kort is die begin van lente vir my ʼn wroeging, tot ek weer my ritme vind en besef dat die nuwe seisoen ook geleef moet word. Ons skop partykeer teen verandering, selfs al is dit iets onvermydelik soos tyd, maar tog skop ons en wroeg ons en bepeins ons oor hoe om met die nuwe hoofstuk saam te leef.

ʼn Rukkie terug het ek by Checkers saadjies gekry saam met my inkopies en dit gretig kom plant en die plantjies getrou elke dag water gegee en gesorg dat hulle genoeg sonlig kry daar waar hulle op die vensterbank staan. Dit het maar doelloos gevoel om grond elke dag nat te gooi, maar ek het dit gedoen omdat ek hoop gehad het vir groei.

Vanaand toe ek by die kombuistafel sit, kon ek tevrede na my baba plantjies kyk, party is al selfs gereed om oorgeplant te word in die kruierak buite. ʼn Nuwe hoofstuk vir die saailinge. En weereens moet ek tot die jaarlikse besef kom dat tyd en groei maats is en nie sonder mekaar kan oorleef nie. Die winter was lekker, dit het my gevoed en goed gedoen om aandag aan myself te gee en op te krul soos ʼn krimpvarkie in sy nes, maar die wêreld gaan nie ʼn beter plek word as ons almal in ons nessies bly nie, daarom raak die dae nou weer langer en warmer om ons te dwing om buitentoe te gaan en ons opgehoopte energie van die winter te gebruik om lig te skyn op donker kolle.

Dit is nou planttyd of mens dit wil besef of nie, die lente gaan nie wag nie. Beddings wat in die winter bewerk is en skoongemaak is, is nou gereed om saadjies te kry, of die grond nou skoon genoeg is of nie, dit is planttyd.

Genadiglik is niemand van ons gevrywaar van onkruid nie en het mens mos hande gekry om van hulle ontslae te raak sodra hulle kopuitsteek.

Mag jou takke in die nuwe seisoen koelte en spasie bied vir almal wat wil kom nesmaak en die herinneringe eindeloos wees voordat dit weer snoeityd is.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.