Storms

“Elke wolk het ʼn silwer randjie”; “daar is lig aan die einde van die tonnel”; “toemaar een of ander tyd sal dit storm bedaar”.

Ons almal sê van tyd tot tyd hierdie goed vir mekaar met die beste bedoelings en met die hoop dat jy met jou empatie dalk weer ʼn vlammetjie van hoop by die bedroefde persoon sal aansteek. Die feit is, wanneer jy in ʼn donker tonnel is, sien jy nie die lig nie, die ander mag dalk, maar nie jy wat aan die binnekant staan nie, want daar is te veel kronkels en draaie om tot aan die einde van die tonnel te kan sien.

As jy jouself in die middel van die donker wolk bevind, word jou visie verswak met die swaar reënbui en dan moet jy nog tussendeur jou ore ook toedruk vir die harde donderslae wat so onverwags val. Almal wat die wolk van ver af bekyk, kan presies sien waar die son is en wanneer die wolk voor hom gaan inskuif, maar nie jy nie.

Die lewe deel daagliks pakkies uit, dit is onmoontlik om van alles te hou wat na jou kant toe kom, party pakkies is aaklig, party is soet en moet asseblief tog lank hou want dit is so lekker. Ons kry die bitter saam met die soet, ons leer, ons val, ons staan op, ons gaan aan.

En sodra jy weer besef dat dinge donker om jou begin raak en jy moontlik weer in ʼn tonnel kan wees, is mens geneig om al die kosbare lesse te vergeet wat jy jouself al wysgemaak het van vorige tonnels en wolke, dan is die ou bekende moedelose gevoel weer by jou en jy voel weer dom en onbeholpe met al die opsies en swaarde wat bo jou kop hang.

Die goeie nuus is, dat geen mens alleen deur tonnels loop nie, al is dit donker daar binne, is daar nog voetgangers wat deur dieselfde dinge as jy moet werk, selfs dan het jy ʼn keuse. Jy kan kies om dit donkerder te maak en die klein skrefies lig te gaan toedruk sodat niemand voor hulle kan sien nie en begin verdwaal of jy kan besef dat julle almal hier moet uit en planne begin maak om lig in die plek te kry.

Lig wat in die donker skyn, trek nogal aandag, jy sal verbaas wees watse leiding ʼn klein vlammetjie kan bied. Jy mag ook soms rus, niemand het gesê ʼn donker tonnel is ʼn resies nie. Jy mag gaan sit en lekker huil oor alles wat weg is en omdat jy so verskriklik bang is vir wat voorlê, maar alles word gekoppel aan tyd en so ook jou rustyd in die tonnel. Iewers moet jy weer opstaan en vorentoe beweeg, al is dit net ʼn klein entjie.

Iewers kom elke tonnel tot ʼn einde en jy voel weer die son op jou skyn en dat die wêreld ligter voel, jy sal daar uitkom, almal sal. En eers wanneer jy klaar is met die swaar tyd, sal jy besef dat dit nooit oor die lig aan die einde van die tonnel gegaan het nie, maar oor die klein liggies binne die tonnel wat almal aan mekaar gebied het om die pad draaglik te maak. Dit was nooit ʼn resies nie, maar ʼn reis.

Almal het nou al tot vervelens toe vir mekaar gesê: “ons lewe in ʼn vreemde tyd”, ons weet dit nou, maar wat net soos wat die lente begin loer en oral nuwe groen blaartjies loer, is daar ook oral liggies wat aangaan tussen mense.

Ben se dierbare juffrou het blommetjies (eintlik onkruid) wat hy vir my gepluk het by die skool, op ʼn papiertjie geplak omdat sy gevoel het dit is iets om vas te vang. Later in die week het Ben besluit hy moet vir Dawid van die Bybel ontmoet en ons het ʼn brief vir die man geskryf wat hy by sy skool se posbus gaan indruk het.

Sy juffrou het ʼn hele seremonie van die brief gemaak en ewe namens Dawid teruggeskryf, kompleet getik met ʼn prentjie van Dawid ook daarby. By Jan se skool het die hele skool aan ʼn dans deelgeneem as simbool van hoop. Hierdie wonderlike goed hoef niemand te doen nie en dit is hoekom dit so wonderlik is.

Wonderlike liggies gaan aan, maak nie saak waar in die tonnel jy mag wees nie.

Selfs in ʼn onseker tyd word ons herinner aan die mooi, en dan is mooi ekstra mooi.

Photo by Ekrulila on Pexels.com

2 responses to “Storms”

  1. Wonderlike inskrywing! Ben se juffrou is een van die kosbare geroepenes.

    Like

  2. Jy skryf so waar. Dis die klein liggies in die tonnel wat ons help. Elke helpende hand wat uitgesteek word om jy net vir die volgende tree te help. Oulike juffrou.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: