Te

My ma het altyd gesê ʼn ding moenie “te” vooraan hê nie, dan is dit nie reg nie. Al wanneer dit pas is as jy te perd gaan. Ek het die sêding baie gehoor maar nooit te diep in dit gedelf en dit my eie gemaak nie.

Nou is ons mos in die dierbare kiemtyd en tyd vir dink is daar mos meer as genoeg. My ma was ons rantsoeneerder, alles wat jy nodig gehad het is deur haar oorweeg en die hoeveelhede van alles moes eers deur haar spaarsamige brein verwerk word voordat jy kon kry wat jy moes kry. Klere was genoeg, nie te min nie, ook nie te veel nie.

Voor elke seisoen moes ek ʼn draai in die dorp loop en vir haar gaan sê wat ek alles wil hê en dan het die siftingsproses begin, sodat dit in die begroting pas. Kos was genoeg, nie te min nie, ook nie te veel nie. Daar was altyd oorskiet wat jy weer kon uitsnuffel as jy weer honger raak, maar nooit ʼn vermorsing nie, die oorskiet van die oorskiet is in die hond se bak uitgeskep.

Ek het toe maar die lessie van inperking op my akademie ook toegepas en gereken as ek te min punte kry, kom ek nie deur nie, maar as ek te veel punte kry, sal dit beteken dat ek my vriende sou afskeep. Dit was sommer my eie nederige begrip van “te” wat nie voor ʼn ding moet staan nie.

Eintlik het ek heimlik by myself gedink “te” kan nogal goed werk voor sekere woorde soos: “te” veel geld, ʼn “te” groot huis en “te” veel klere. “Dit is sommer weer net ʼn oumens gesegde wat mense wil aftrek en morbied laat voel en om te strewe na middelmatigheid en om lou of tussenin te wees.” “Hoe op aarde kan oorvloed gevaarlik wees?” “Hoekom waarsku hulle tog so oor alles soos doemprofete?” “Seker te bang iets mag dalk lekker wees.”

Ongelukkig is die beste leerskool tyd en nie mense nie, daarom moes ek eers ʼn paar dinge beleef het, voor ek tot die besef kon kom dat “te” nêrens pas nie en dat oumense nie nonsens gepraat het nie. Sodra daar ʼn sterk hunkering na iets is, word die ewewig versteur en is daar nie meer balans nie.

Sodra daar nie meer balans is nie, is daar seer in verhoudings, agterdog oor finansies en wantroue in mense. Sodra mense nie met hul huidige omstandighede gelukkig is nie, hunker hulle na iets om die gat toe te maak, die hunkering of strewe na iets anders, gaan gewoonlik met iets gepaard wat “te” vooraan het.

Die tweeletterwoord veroorsaak op sy beurt ʼn hele paar rimpels in die water en soos wat almal om jou sukkel om op hul voete te bly as gevolg van die roering in die water, moet hulle ook gryp na ʼn “te” om die situasie te hanteer.

Te ambisieus, te oordrewe, te snaaks, te vervelig, te slim, te vriendelik, te behulpsaam, te stil, te geselserig, te spontaan, te nors – is die oorsaak van nog ʼn hele paar ander “te’s” om te kompenseer vir die eerste “te”.

Die vermoë om alles in jou omgewing en bestaan te aanvaar vir wat dit is, om te kan spog met jou letsels en prontuit net die innerlike jy te wees wie jy regtig is, is om gelukkig te wees.

Jy waardeer jou vriende en sien hulle as beleggings in jou lewensreis, jou salaris is iets wat jou aan die lewe hou en help om stukkies van die wêreld aan jou te openbaar, jou huis is jou skuiling en veilige plek en jou familie is jou wortels waar jy jou krag vandaan kry om vrug te kan dra.

ʼn Diepe waardering vir alles, skop vir “te” ver weg, sodat hy nie naby jou wil sitplek kry nie.

Eintlik is daar wel ʼn plekkie vir “te” en dis by tevrede.

Photo by Pixabay on Pexels.com

One Comment Add yours

  1. Die wysheid oor “te” was ook een van my mammie se sêgoed en ek luister nou nog daarna.

    Like

Leave a Reply to Tannie Frannie Cancel reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.