Wat gaan aan Mariaan?

Ek weet nie of ek in ʼn kokon lewe, naïef is of net dom is om te besef wat aangaan nie, maar dit word al hoe meer duidelik dat mense woedend is. Mense was eers kwaad omdat hulle nie kan gaan werk nie, nou is hulle kwaad omdat hulle moet gaan werk.

Maskers wat brille laat opwasem maak mense briesend. Om nie rookgoed in die winkel te kan koop nie en by die “onderwêreld” betrokke te raak, maak mense boos. Om nie drank te kan kry in ʼn winkel nie en om nou geforseerd te wees om uit vrye wil vyf keer vir ‘n bottel plesier se te betaal, maak die mense warm onder die kraag. Sosiale media gons van allerlei klagtes en treurmares, die nerwe is dun en die emosies loop hoog.

Ons drink nuus in soos nog nooit van tevore nie, ons bekla ons omstandighede by mekaar, ons is almal nou slim politikusse wat kan debatteer en filosofeer oor ekonomie en die welstand van ons mooi land. Ons mis dit om oor grense te ry, asof ons dit maandeliks gedoen het. Ons mis verlangse niggies, asof ons mekaar gereeld gesien het. Ons wil oorsee gaan, al kan ons dit nie bekostig nie.

Die wete dat iets van ʼn mens af weggevat is wat jy nie noodwendig sou benut nie, maak mens dadelik opstandig. Die opstandigheid gaan nie bedaar tot almal weer alles gekry het wat aan hulle behoort nie, terwyl dit wat voor jou is, steeds meer as genoeg is. Ons kla met vol vrieskaste, medisyne in die kas vir ʼn noodgeval, gesmokkelde drank, Google Classroom vir ons kinders, verwarmers in ons huise, televisies met eindelose opsies, internet wat die ledige oomblikke ophelder, te veel geld om net vinnig gou by die winkel nog ʼn verassing vir die kinders huis toe te bring en boekrakke met boeke wat nog wag om gelees te word.

Ons kyk daar ver wat op die horison lê en ons raak kwaad omdat ons nie mooi kan sien nie, maar die magdom goedheid wat voor ons voete lê, kyk ons mis.

Om kwaad te wees verg energie, ʼn energie wat jou aftrek en swaar maak. Dit maak jou blind vir moontlikhede, nuwe geleenthede en die vermoë om net vir alles lekker te kan lag. Hierdie hele gedoente is eintlik soos om in ‘n dramatiese fliek te wees, waarin elkeen ʼn hoofrol gekry het en waar jy die opsie het om die protagonis of antagonis te kan wees.

Dit is een groot avontuur en die saai paadjie wat ons lewens eens was, het nou lekker baie kronkels en hobbels in. Ek wil eendag vir my kleinkinders vertel van die kiemtyd in 2020 en hoe ons gesin nader aan mekaar gegroei het en hoe sag mense se harte geword het, nie hoe woedend almal was en hoe onregverdig dinge was nie, dit bederf tog net ʼn lekker storie.

Realiteit is gelykstaande aan siening en as jy met ʼn slim wysneus bril na alles gaan kyk, gaan jy net feite en statistieke raaksien wat jou bang maak en in elk geval kwaad raak omdat die goed verkeerd is. As jy met ʼn verspotte uitpeuloog bril na die wêreld kyk, sal jy genoeg humor raaksien om jou genoeg te laat lag sodat dit al is wat jy van 2020 sal onthou.

Dit wat ons het, is net goeters en is in elk geval net geleen, maar dit wat ons is, is genade.  

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.