#Blessed

Blaai rond op sosiale media en jy sien al die selfies en gelukkige gesigte, baie keer gaan dit ook met ʼn aanhaling of Bybelvers gepaard. Dit sinspeel gewoonlik daarop dat die persoon in die foto soveel dinge het wat skeefloop, maar die voorbladgesig wat afgeneem is in die spieël, met die perfekte lippe en dun middeltjie, spreek van iets anders. Die ongelooflike mooi, gemanikuurde gesig met die perfekte wenkbroue spreek dan dankbaarheid uit oor alles en nog wat en om die sin mooi af te rond, word dit afgeëindig met ʼn #blessed.

Photo by Visually Us on Pexels.com

Moet my nie verkeerd verstaan nie, seëninge is om elke hoek en draai en mens moet hulle tel en een-vir-een voor dankie sê, maar die vet weet, as dit sleg gaan met jou en jou hart is in duisend stukkies en alles loop skeef, hoef jy nie vir die wêreld te jok nie. Al die seer wat mens so onder die mat invee hoop op. Elke keer wat jy ʼn foto neem en mooi redigeer om vir mense, wat jy op skool laas gesien het, te wys hoe wonderlik dit met jou gaan, groei jou neus bietjie langer. Almal wat jou foto sien, dink dan dit gaan vreeslik goed met jou, hier en daar is iemand wat dalk wens hulle het jou lekker lewe gehad en wil ook graag #blessed wees, maar meeste wat dit sien gaan ongelukkig vergeet.

Om te jok en te sê dit gaan goed as dit eintlik bitterlik sleg gaan, is nie ʼn stap in die rigting van genesing nie. Om te sê jy het alles onder beheer as dit vir jou voel jy weet nie meer hoeveel balle jy eintlik veronderstel is om in die lug te hou nie, help net mooi op die aarde niks. As daar een ding is wat ek met hierdie kiemtyd geleer het, is dat egtheid nou meer belangriker is as ooit. Egtheid is ʼn rou juweel, waarvoor baie bang is, want dit wys meer as wat ʼn spieël kan wys, dit wys jou binneste. Dit is tyd dat egtheid weer afgestof moet word en opnuut waardeer word.

ʼn Gewoonte klakous steek mens ook dwars in die krop en moet weer van vooraf al die mooi raaksien, maar ʼn gewoonte #blesser maak die lewe ook onnodig gekompliseerd vir homself en vir ander rondom hom.

Jy hoef nie te lag as jy eintlik wil huil nie.

Jy hoef nie te glimlag as dit voel of jy binne breek nie.

Jy hoef nie te sê dit gaan goed met jou as daar ʼn donker wolk om jou kop hang nie.

Deur eerlik te wees, rou te wees, eg te wees, gaan jy makliker genees, want jy plak nie jou seerplek heeltyd toe met ʼn prentjie-pleister nie. Om te sê jy is bekommerd, angstig oor iets, bang, onseker, beteken nie jy spreek ʼn verdoeming op jou lewe uit nie, jy doen doodeenvoudig die eerste ding wat jy moet om weer beter te kan voel. Jy erken dit hardop aan iemand wat jou hart verstaan en saam soek julle aan ʼn oplossing om die donker wolk bo jou kop weg te kry.

Mense wat na mekaar uitreik, deel in verskillende wyshede, leer lesse en bêre troos in hul troos lêers in hul harte. Woorde maak dat mens vinniger kan beter voel, saam met tyd natuurlik. Op die lang duur gaan ʼn #blessed jou ʼn paar treë terugsit in pleks van vorentoe.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.